’n Laslappie van Mieliestronk


UITTELRYMPIES

Olke bolke, êrie tjêrie tjorts!


Huis — Paleis — Pondok —


— VarkhokI
N baie tale en verskillende gemeenskappe sal ’n mens dit kry: die rympies wat kinders tydens hul groepspeletjies ritmies opsê. Dan sal die resiteerder met elke opvolgende sterk beklemtoonde woord of lettergreep in die rympie met die wysvinger of andersins na ’n ander kind in sy of haar groep wys.

 

Een ná die ander kind word só op die ry af “getel” en dit geskied meestal al in die rondte. Die kind na wie beduie word wanneer die heel laaste woord of brabbelwoord in die rympie gesê word, is dan “uit” of “vrot” of wat ook al.

 

Maar met ’n uittelrympie kan ’n sakie tussen net twee mense ook bygelê word in die plek van, sê maar, die opgooi van ’n muntstuk.

 

Moontlik die kortste voorbeeld van ’n uittelrympie is:

 

Huis —

Paleis —

Pondok —

Varkhok!

 

Hierdie vierwoord-rympie word egter meestal nie as ’n gewone uittelrympie gebruik nie, maar eerder om grappenderwys mense se kamtige woonplekke aan hulle toe te ken. Iemand met vier knope aan ’n hemp sal byvoorbeeld gestuur word om tussen die varke te gaan woon, terwyl iemand met ses hempsknope sy swierige woonplek met die koninklikes sal kan deel (in ’n paleis). In die laasgenoemde geval sal die ses knope só afgetel word: Huis — Paleis — Pondok – Varkhok – Huis — Paleis!

 

Een van die bekendste uittelrympies by kinders in Afrikaanstalige gemeenskappe is “Olke bolke”, hoewel dit allermins na Afrikaans klink:

 

Olke bolke riebiekie stolke  (of:  Olke bolke Riebeeck stolke)

Olke bolke knor  (of: Olke bolke knol)

Êrie tjêrie tjiekerie tjêrie

Êrie tjêrie tjorts!

 

Waar kom hierdie brabbelrympie vandaan? Kan dit wees dat Bolke die beer en sy sussie, Olke—karakters in ’n Nederlandse kinderboekreeks wat in 1935 deur A.D. Hildebrand bedink is—tot die ontstaan van dié uittelrympie bygedra het? Dit kan dalk wees, maar hoe sou ’n mens ooit kan vasstel? ’n Mens sou in elk geval geneig wees om te dink dat die “Olke Bolke”-rympie veel ouer behoort te wees as dit.

 

Soos ook die volgende een, waarvan daar verskillende vorms bestaan. Ook dié is waarskynlik deur soveel geslagte heen oorgedra dat verskeie variasies daarvan ontwikkel het:
 

In die huis is ’n kamer —

In die kamer is ’n kas —

In die kas is ’n laai —

In die laai is ’n brief —

In die brief staan:

Jan Pampoen, jou hoenderdief!

 

’n Mens kan uittelrympies en telrympies maklik met mekaar verwar, maar daar is natuurlik ’n verskil.. Die doel van ’n  uittelrympie is as ’t ware om deur “loting” te bepaal watter persoon in ’n groep van iets uitgesluit sal wees. ’n Telrympie, daarenteen, dien die eenvoudige doel om jong kinders te help om te leer tel, byvoorbeeld:

 

Een, twee, drie —

’n voet, ’n been, ’n knie

Vier, vyf, ses —

voëltjies in ’n nes

Sewe, agt, nege —

besem moet kan vege

En hier is sommer tien

vingers om te sien

 

Partykeer is die verskil tussen gewone kinderrympies en uittelrympies nie heeltemal so duidelik nie. Die volgende tradisionele rympie, byvoorbeeld, is baie bekend en word selfs gesing. Maar kan ’n mens vir seker sê dat Trippe trappe trone nie soms al as ’n uittelrympie aangewend is nie? (Dalk al singende boonop):

 

Trippe trappe trone,

die varkies in die bone,

gansies op die groene gras,

eendjies in die waterplas,

ek wens dat kindjie groter was

om ouma se eendjie op te pas.

 

Ons sal graag ander tradisionele Afrikaanse uittelrympies wil ontvang waarvan die leser miskien bewus is. Dan kan ons dit by hierdie inligtingstukkie voeg. Stuur dit asseblief na dugeot <BY> mieliestronk.com

 

Om mee af te sluit, plaas ons ’n paar uittelrympies in ander tale:

 

Engels:

 

Eeny meeny miney mo
Catch a tiger by his toe
If he hollers let him go
Eeny meeny miney mo

 

Die eerste versreël van die rympie hierbo toon’n ooreenkoms met dié van ’n Nederlandse uittelrympie:

 

Iene miene mutte

Tien pond grutten

Tien pond kaas

Iene miene mutte is de baas

 

Volgens een taalwetenskaplike is die oorsprong van hierdie Nederlandse rympie te vinde in ’n rympie in Portugees-Kreools:

 

Iene miene muito

Tempo de n' gruta

Tempo de n' kasala

Iene miene muito

Es de baixe

 

Dit sou naastenby beteken:

 

Baie meisies

Tyd om te vry

Tyd om te trou

Baie meisies

Daar benede

 

Hoekom die meisies nou eintlik “daar benede” sou wees? Daar word gemeen dat dit ’n rympie kan wees wat in die slawetyd ontstaan het. Op die slaweskepe het die mans op die dek gereis, terwyl die vroue benede die dek aangehou is.

 

Nog twee bekende Engelse uittelrympies:

 

One potato, two potato

Three potato, four,

Five potato, six potato,

Seven potato, more,

One big bad spud.

 

 

Inky pinky ponky,

Daddy had a donkey,

Donkey died, daddy cried,

Inky pinky ponky.

 

En ’n bekende Duitse een:

 

Eins zwei drei vier fünf sechs sieben,

eine alte Frau kocht Rüben,

eine alte Frau kocht Speck

und Du bist weg

 

Vertaling:

 

Een twee drie vier vyf ses sewe

’n ou vrou kook rape

’n ou vrou kook spek

en jy is weg 

 


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad