Onse Jan
|
||||||||||
Y was ’n ambisieuse
pionier en, welbeskou, ook die “vader” van die Afrikanervolk.
Maar Jan van Riebeeck sou destyds beslis nie aan homself as ’n
volksplanter gedink het wat selfs eeue later nog opgehemel sou word nie.
Wat meer sê, onse Jan wou
met mening uit die Kaap uit wegkom nadat hy hier aangekom het. Hy het
ander ideale gehad en wou liewer elders vir hom naam te maak—weg van
die woeste, ongetemde Afrika met sy daaglikse worstelstryde en probleme. Maar toe hy ná tien jaar
die Kaap verlaat, was Van Riebeeck met reg trots op wat hy deur die Here
se genade aan die suidpunt van Afrika vermag het. Sy bydrae tot die
Suid-Afrikaanse geskiedenis sal dan ook nooit verdoesel of gering geskat
kan word nie. . Jeugjare
JOHAN
ANTHONISZOON (JAN) VAN RIEBEECK is op 21 April 1619 in Colemburg,
Nederland, gebore (en op 18 Januarie 1677 in Batavia in die Ooste
oorlede). Bronne
verskil egter oor sekere aspekte van Jan se jeug en Schiedam word ook as
sy geboorteplek aangegee. Dit lyk nietemin asof die gesin na Schiedam
verhuis het toe Jan drie jaar oud was. Hy het wel sy ma verloor toe hy
tien was en is in die huis van sy oupa in Culemborg opgevoed. Culemborg
is ’n stil, skilderagtige stad naby Utrecht aan die rivier Lek. Die
gekultiveerde Jan het uit deftige en vooraanstaande families gestam. Sy
pa, Anthonij van Riebeeck, was ’n waaghalsige skeepskaptein, wat sy
eie skip besit het en dikwels op sy seereise weg van die huis was. Sy ma
se pa—en Jan se streng maar innemende voog en vriend—was Govert
Anthoniszoon van Gaesbeeck, ’n prokureur en notaris en die gewilde en
ryk burgemeester van Culemborg, Sy
oupa het gesorg dat hy ’n goeie opvoeding kry en geleerd kom, en toe
Jan die skool verlaat, het hy besluit om ’n chirurgyn (of
skeepsdokter, ’n semi-gekwalifiseerde geneesheer) te word. Om
te kwalifiseer vir hierdie beroep van destyds, moes hy drie jaar by ’n
vakman in die geneeskunde in Amsterdam werk. Voort
na die Ooste NÁ
die voltooing van sy opleiding het Jan hom tot die Verenigde Oos-Indiese
Kompanjie gewend vir werk. Die Kompanjie was ’n groot en magtige
Nederlandse maatskappy, wat die handel met die Ooste en dus die
skeepvaart om die suidpunt van Afrika tussen Nederland en Oos-Indië
beheer het—met Batavia op die eiland Java (Suid-Indonesië) as die
Oosterse hoofkwartier. Jan
het die aanstelling van onderchirurgyn gekry op die skip Hof van
Holland, wat in 1639 na die Ooste uitgevaar het. Drie maande later
ly die skip egter skipbreuk by Sierra Leone aan die Afrika-kus, maar die
bemanning kom gelukkig veilig aan land, terwyl ’n groot deel van die
vrag ook gered kan word. Maar
groot ontberings wag op die skipbreukelinge. Eers ná meer as ses maande
kom daar vir hulle uitkoms by hierdie ongesonde, warm kus. Jan en sy
makkers word deur die skip Sutphen opgepik. Hulle bereik Batavia
eers ’n jaar en drie maande nadat hulle Nederland verlaat het. In
die Verre Ooste bly die vooruitstrewende jong Van Riebeeck nie lank in
die beroep waarvoor hy opgelei is nie. Hy kom agter dat daar vir hom
groter kanse is om bevorder te word as hy hom in die handel begewe. Kort
voor lank is hy ’n klerk in die kantoor van die Kompanjie in Batavia,
waar hy hom so knap van sy taak kwyt dat hy in 1642 aangewys word as
sekretaris van ’n afvaardiging wat na die luisterryke hof van die
koningin van Atjeh (op die eiland Soematra) gestuur word. Daarna word hy
bevorder tot onderkoopman in Japan. In
1645 word hy waarnemende opperhoof en in 1646 koopman en sekunde in
Tonkin (vandag in die noorde van Viëtnam). Almaardeur bewys hy sy vermoëns
en maak hy groot indruk. Hy leer die moeilike Tonkinese taal en handhaaf
die beste moontlike betrekkinge met die geslepe en gierige vors van
Tonkin. Boonop dryf hy selfs snags handel in kaneel en binne ’n paar
jaar sorg hy dat die Kompanjie groot winste uit sy transaksies maak. ’n
Mens sou dink dat só ’n knap amptenaar die blinkste toekoms in die
Kompanjie tegemoet sou gaan. Maar die Kompanjie was allermins vrygewig
met sy geld en het sy amptenare bedroewend min betaal. Soos baie ander
amptenare voor en ná hom het Van Riebeeck dan ook tersyde sy inkomste
met private handel probeer aanvul. Dit lei tot sy ondergang. Eindelik
het die Kompanjie ingegryp om die private handeldrywery stop te sit, en
Van Riebeeck moes dit ontgeld, ofskoon die meeste van die ander
amptenare die afrekening vrygespring het. ’n Bitter teleurgestelde Jan
is teruggeroep na Nederland, met al sy ambisies aan skerwe om groot
opgang in die Kompanjie te maak.
Terug
in sy vaderland lyk alles egter darem nie vir hom swartgallig nie. Hy
maak kennis met Maria de la Queillerie (1629-'64) en in Maart 1649 staan
hy met sy negentienjarige bruid voor die kansel in sy jeugplek Schiedam.
Die sagmoedige maar volhardende en diep godsdienstige Maria was van
Hugenote-afkoms (haar oupa het uit Frankryk gevlug). Sy sou vir Jan die
lewe aan nege kinders skenk voordat sy op ’n jeugdige sowat 35 jaar
oorlede is. Hul
eerste seun, Anthonij, word op 13 Maart 1650 gebore. Dié seuntjie sterf
egter op 9 September 1651, kort ná die geboorte van hul tweede seun,
Lambertus. Jan
kry ook weer werk, hoewel by ’n ander handelsmaatskappy, vir wie hy
enige maande ná sy troue na Groenland en toe weer na Wes-Indië
uitvaar. Maar uiteindelik besluit die Kompanjie om hom weer ’n kans te
gee—en watter kans is dit nie! Jan
word naamlik aangestel as kommandeur van ’n verversingspos vir
verbygaande skepe wat die Kompanjie op die roete na die Ooste aan die
Kaap wil aanlê. Die
Kaapse avontuur OP
24 Desember 1651, die dag voor Kersfees, vertrek Jan van Riebeeck met sy
Maria, hul vier maande oue seuntjie Lambertus en sy niggies Sebastiana
en Elizabeth van Opdorp met die skip die Drommedaris uit Texel na
die Kaap. Die skepe Reyger en Goede Hoop het gelyktydig
vertrek; die Oliphant en Walvis het later gevolg.
Ná
’n betreklik voorspoedige reis vaar Van Riebeeck Tafelbaai op Saterdag
6 April 1652 met sowat negentig man binne—en begin reeds op die
Maandag met sy stigterswerk. Hy laat nie gras onder sy voete groei nie
en wil sy take na sy beste vermoë afhandel, want sy kop staan eintlik
na die Ooste toe waar hy bevordering kan gaan soek. Van
Riebeeck hoop om nie langer as ’n jaar in die Kaap te vertoef nie.
Soos dit sou blyk, sou hy tien jaar lank hier swoeg—om nie slegs ’n
verversingspos nie, maar uiteindelik ’n kolonie in Suid-Afrika te
vestig. Van
die begin af is daar egter probleme. Die hout waarvan die eerste
plankhutjies gebou moet word wat as woonkwartiere moet dien, is onder in
die skepe gelaai. Die gevolg is dat Maria, die Opdorp-vroue en Annetjie
Boom, die vrou van die baas-tuinier, in die eerste twee weke op die
skepe moet bly wat in die tierende suidooster in Tafelbaai ronddobber. Die
nat Kaapse winter wat hierop volg, bring verdere ontberings. Die skamele
huisies is nie bestand teen die reënweer nie en die water stroom daarin
sodat alles nat word en die kos bederf. Die manne word siek en party
sterf selfs. Ook Maria word siek. Tog
word kliphard gespook om ’n fort te bou en ná ’n paar maande kan
die Van Riebeecks—en ’n Khoikhoi-meisie genaamd Eva, wat nou al ’n
deel van die gesin word het—’n klipgebou met ’n plat dak binne in
die walle van die fort betrek. Maria
het darem nou ’n eie slaapkamer en kinderkamer, maar nog geen huislike
vryheid in die ware sin van die woord nie, want daar word steeds saam
met die bemanning en amptenare in ’n gemeenskaplike eetsaal geëet. Tog
verbeter die toestande mettertyd, hoewel dit steeds nie aldag maklik
gaan nie. Daarvan kan baie gelees word in Van Riebeeck se
dagregister—’n uiters waardevolle geskrif oor die wel en wee van die
eerste gevestigde Europeërs aan die Kaap. Die
verversingspos was nie bedoel om verder as die Tafelbaaise gebied te
strek nie en Van Riebeeck se opdragte was om die Kaapse nedersetting so
klein as moontlik te hou. Vee is darem van die Khoikhoi geruil, maar sy
hoofprobleem was om werkers te vind op die plase wat aangelê is,
aangesien die inheemse Khoikhoi en San nie in dié soort werk belang
gestel het nie. Van Riebeeck het voorgestel dat slawe ingevoer word,
en uiteindelik het slawerny sy beslag in die Kaap gekry. Nog ’n
manier waarop hy die arbeidersprobleem aanpak, is om amptenare van hul
diens aan die Kompanjie vry te stel sodat hulle as sogenaamde
vryburgers kan boer—waardeur hy inderdaad die klas van onafhanklike
boere skep wat later in die Boere of Afrikaners sal ontwikkel. Nog
twee seuns, Abraham (1653) en die tweede Anthonij (1655), wat ook baie
jonk sterf, en drie dogters, Maria (1657), Elizabeth (1659) en Joanna
(1662), word vir Jan en Maria van Riebeeck aan die Kaap gebore. Die twee
oorblywende seuns, Lambertus en Abraham, word vir hul opvoeding na
Nederland gestuur. (Abraham sou later in die Kompanjiesdiens tot die hoë
pos van Goewerneur-generaal van Nederlands-Oos-Indië vorder.) Die drie
dogters kom in Julie 1662 saam met hul ouers in Batavia aan. Batavia?
Ja, uiteindelik word Jan van Riebeeck, die onwillige kommandeur, verlos
van die Kaapse worstelinge wanneer hy, Maria en die dogters op die skip Mars
na die Ooste vertrek. Jan is verlig, maar darem ook trots op wat hy
“met God de voorste” in sy dekade aan die Kaap tot stand
gebring het. Want by sy vertrek spog die jong Kaapse nedersetting reeds met onder meer ’n hospitaal, verskeie werkwinkels, ’n meule, ’n graanskuur, huise, stalle vir perde, beeste en skape, en groente- en vrugtetuine. Daar is ook ’n hawehoof, wat dit vir skeepspassasiers moontlik maak om regstreeks aan land te stap.
Weer
in die Ooste IN
Batavia word Van Riebeeck eers lid van die geregshof en kort daarna
kommandeur en president van Malakka, aan die suidkus van die Maleise
Skiereiland (in die teenswoordige Maleisië). In 1663 word die vierde
Van Riebeeck-dogtertjie, Antonia, gebore. Maar Malakka bring nie werklik
vir Jan geluk nie. In
1664, ’n week ná die geboorte van ’n vyfde seuntjie wat maar enkele
ure gelewe het, sterf sy geliefde Maria en staan ’n verpletterde Jan
langs haar graf in Malakka. Van Riebeeck vra om te mag teruggaan
Nederland toe en sy versoek word toegestaan. Maar hy sou nie weer sy
vaderland sien nie. Op sy terugreis doen hy Batavia aan waar hy 'n nuwe,
gesogte pos kry. Hy
word naamlik in Batavia as sekretaris van die Goewerneur-generaal en Rade van
Indië aangestel, die hoogste regerende liggaam in die Ooste. Met
hierdie aanstelling beklee hy een van die eervolste ampte in diens van
die Kompanjie. Op
10 Maart 1667 trou Jan weer—met Maria Scipio—en uit hierdie huwelik
word in Januarie 1670 nog een seun, Joan van Riebeeck, gebore. Sy kinders by sy eerste Maria
het ook weer ’n huis. Maar nou verswak sy gesondheid geleidelik. Ná
twaalf jaar as sekretaris word Jan in Januarie 1677 in Batavia na sy
graf gedra. Aan
die Kaap word letterlik so in die verbygaan van Van Riebeeck se dood
gehoor. Hier gaan die lewe en die ontwikkelinge voort en word gestadig
en doelgerig voortgebou op die fondamente van die stigter. Ook die
verskillende tongvalle wat aan die Kaap gepraat word, en wat nog tot
Afrikaans sou ontwikkel, slyp mekaar reeds in hierdie vroeë stadium om
al hoe meer ’n eensoortige en eie karakter te begin aanneem. En
vandag staan die standbeelde van Jan van Riebeeck en sy eerste Maria
langs mekaar in Adderleystraat in Kaapstad—met hul rûe na die see
gekeer en turend na ou Tafelberg. Dit laat almal onthou dat hierdie
ondernemende pionierspaar meer as drie en ’n halwe eeu gelede onder dié
einste berg hul onuitwisbare spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis
gelaat het. Soos
die ou moppie lui: Ons sê dankie, Jan van Riebeeck... |
||||||||||
|
Voordele
van Van Riebeeck • Die Westerse beskawing, met al sy onteenseglike voordele, word aan die suidpunt van Afrika gevestig. Plaaslike kulture soos dié van die Khoikhoi en die San was feitlik nog in die Steentyd gevestig, terwyl Europeërs al eeue tevore ’n gesofistikeerde kultuur en skriftradisie gehad het wat ná die Middeleeue met die herlewing van geleerdheid tot nuwe hoogtes ontwikkel het. • Van Riebeeck bring ook die Westerse argitektuur na die Kaap. Weliswaar was die eerste huisies wat hy hier laat bou het skamele struktuurtjies van plank, maar spoedig verrys ’n fort waarin hy en sy gesin ná slegs ’n paar maande in ’n klipgebou met ’n platdak kan gaan woon. Toe Van Riebeeck die Kaap ná tien jaar verlaat, sluit die geboue al selfs ’n hospitaal, verskeie werkwinkels en ’n meule in. Plaaslike bouwerke van die Khoikhoi was nie veel verder ontwikkel as ’n soort byekorf-hut wat van grasmatte gemaak is nie. • Met die plant van verskillende gewasse word ook totaal nuwe rigtings in die landbou ingevoer (die Khoikhoi was nomadiese veeboere wat bloot agter weidings aan getrek het). Deur amptenare van hul diens aan die Kompanjie vry te stel sodat hulle as sogenaamde vryburgers kan boer, skep Van Riebeeck die klas van onafhanklike boere wat later in die Boere of Afrikaners sou ontwikkel. • Afrika in die Suide weet nog prakties niks van die Christendom toe Van Riebeeck hier voet aan wal sit nie. Heidense natuurgelowe kom voor by al die inheemse volkere. Sy koms is die begin van ’n religieuse verandering, ’n verchristeliking of kerstening wat met verloop van tyd nie net oor Suidelike Afrika nie, maar oor die hele Afrika suid van die Sahara sou spoel. • Gesondheidsorg (soos bewys deur die oprigting van ’n hospitaal) bereik met Van Riebeeck se koms ’n dimensie wat ongekend is onder die inheemse volkere. Dit is maar nog net een van die legio voordele wat meegebring is deur die besluit van die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie om hom na die Kaap te laat kom. Nadele van Van Riebeeck se koms • Teenoor al die voordele wat aan die Westerse lewenswyse toegeskryf word, is daar natuurlik ook die nadele. Te veel voorspoed kweek allerhande slegte gewoontes, gesindhede, gebruike en handelinge. Die plaaslike volkere het ’n ewige bestaanstryd naby aan die natuur gevoer. Van Riebeeck se koms het ’n invloei van immigrante tot gevolg gehad, mense met eienskappe van byvoorbeeld ook meerderwaardigheid en hoogheidswaan wat ongelukkig nie altyd sou strook met die Christelike beginsels wat hulle gepredik het nie. Hierdie benadering sou, volgens ’n sekere waarneming, uitgekring het tot ’n rasseverhouding in latere geslagte wat tot onnoemlike wrywings en ellende sou lei. • Dat die Kaap vanweë Van Riebeeck se bemoeiing aandadig sou wees aan die benutting van slawe, moet in die lig van die vandag se aanvaarde norme eweneens as ’n nadeel aangemerk word. In sy tyd, en wel in Maart 1658, het slawerny sy eintlike beslag aan die Kaap gekry het met die aankoms van ’n besending slawe op die skip Amersfoort. Van Riebeeck het slawe bo inheemse werkers verkies. • Die koms van Van Riebeek, as verteenwoordiger van die witman, beteken ook dat siektes van die Weste na Afrika gebring en hier losgelaat is onder plaaslike mense wat absoluut geen immuniteit daarteen gehad het nie. Só lei verskillende uitbrake van die gevreesde pokke in die volgende eeu of wat tot soveel sterftes onder die Khoikhoi dat hulle weens hul verwoeste kultuur as ’n volk ophou bestaan. Hulle word in die sogenaamde Kleurlingbevolking geassimileer. • Die plantelewe aan die Kaap sou ook noodwendig moet gely het onder die koms van Van Riebeeck. Bestaande vlei- of boslande sou moes plek maak vir woonhuise en ander geboue, terwyl bome uitgekap is vir timmer- en brandhout. Hout is uit die gebied by Houtbaai in die Skiereiland na die Kaap aangebring om in die behoefte aan konstruksiehout te voorsien. • Daarmee saam sou die dierelewe ook verskraal. Menslike bedrywighede is selde omgewingsvriendelik, maar waar jagters met gewere boonop baie meer diere plattrek as wat hulle vir die pot nodig het, volg ekologiese rampe. Die feit dat daar eenmaal hordes wild op die Suid-Afrikaanse velde was, maar dat hulle vandag dikwels tot natuurtuine, wildplase en dieretuine beperk is, spreek boekdele. Dink ook aan die kwagga, ’n subspesie van die vlaktesebra, wat iets meer as twee eeue ná Van Riebeek se koms totaal uitgesterf het. |
||||||||||