|
Afrika
LINKS:
Mense op ons eie vasteland het dit in die reël nie breed
nie en die stryd om oorlewing is baiemaal
hartverskeurend.
•
Oppervlakte:
30 200 000 vk. km, wat die naburige eilande insluit.
•
Bewoners:
1 001 320 281 — meer as ’n miljard (raming vir 2009).
•
Soewereine lande:
Suid-Afrika, Algerië, Angola, Benin, Botswana, Burkina
Faso, Burundi, Comore, Côte d'Ivoire, Demokratiese
Republiek van die Kongo, Djiboeti, Egipte,
Ekwatoriaal-Guinee, Eritrea, Ethiopië, Gaboen, Gambië,
Ghana, Guinee, Guinee-Bissau, Kaap Verde, Kameroen,
Kenia, Lesotho, Liberië, Libië, Madagaskar, Malawi,
Mali, Mauritanië, Mauritius, Marokko, Mosambiek,
Namibië, Niger, Nigerië, Republiek van die Kongo,
Rwanda, São Tomé en Príncipe, Senegal, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Seychelle, Sierra Leone, Soedan,
Somalië, Swaziland, Tanzanië, Togo, Tsjad, Tunisië,
Uganda, Wes-Sahara (lank betwiste gebied omdat Marokko
dit vir hom opeis terwyl die Polisario Front
onafhanklikeid voorstaan), Zambië, Zimbabwe.
•
Afhanklike gebiede:
Mayotte (Frankryk), Réunion (Frankryk), Kanariese
Eilande (Spanje), Ceuta (outonome stad van Spanje aan
die Noord-Afrikaanse kant van die Straat van Gibraltar),
eilande van Madeira (Portugal), Melilla (outonome stad
van Spanje aan die noordkus van Afrika), St. Helena,
Ascension enTristan da Cunha (Brittanje).
•
Herkoms van die naam Afrika:
Daar is verskeie teorieë oor waar die naam vandaan kom.
Afri was nietemin die naam van verskeie volkere wat in
Noord-Afrika naby Kartago gewoon het. ’n Interessante
(maar stellig minder aanvaarde) mening is in die 1880’s
vermoedelik deur die Engelse selfopgeleide Egiptoloog
Gerald Massey die wêreld ingestuur. Daarvolgens sou die
naam Afrika afgelei gewees het van die Egiptiese
af-rui-ka, wat beteken “om na die opening van die ka
te draai”. Vir die ou Egiptenare was die ka die siel of
gees van die mens, elkeen se dubbelganger wat in die
vorm van energie bestaan. Met die “opening van die ka”
sou na die baarmoeder of geboorteplek verwys word—en
Afrika sou dus vir die Egiptenare “die geboorteplek”
gewees het.
Antarktika
 |
 |
BO:
Antarktika
soos gesien vanuit die ruimte.
Foto: Visible Earth / NASA |
LINKS: Keiserpikkewyne op die ongenaakbare, vrieskoue
vasteland by die Suidpool.
Foto: Michael Van Woert / NOAA
•
Oppervlakte:
14 000 000 vk. kilometer, waarvan 13 720 000 vk.
kilometer met ys bedek is. Groter as Australië en
Europa.
•
Bewoners:
Geen permanente bewoners nie. Wetenskaplike navorsing
laat die getal besoekers in die somer
(Desember-Februarie) tot nagenoeg 4500 styg.
•
Soewereine lande:
Geen.
•
Afhanklike gebiede:
Hoewel daar ’n aantal lande is wat op spesifieke
grondgebiede aanspraak maak, verbied die Antarktiese
Verdrag militêre bedrywighede en mynbou, terwyl dit
wetenskaplike navorsing ondersteun en trag om die
omgewing op die vasteland beskerm. Die Antarktiese
Verdrag is in 1959 deur twaalf lande, waaronder
Suid-Afrika, onderteken en sedertdien het nog tientalle
lande bygekom. Navorsing word deurlopend deur
wetenskaplikes van baie lande en verskillende
belangstellings op Antartika gedoen, en ingevolge die
verdrag word inligting vrylik onder die navorsers
geruil.
•
Herkoms van die naam Antarktika:
Dit is die geromantiseerde weergawe van die Griekse
samestelling antarktiké, die vroulike vorm van
antarktikos. Dit beteken “teenoorgestelde van die
noorde”. Daar word gereken dat die Skotse kaarttekenaar
John George Bartholomew in die jare negentig van die
negentiende eeu die eerste keer die vasteland formeel
“Antarktika” genoem het.
Asië
REGS:
Die panda of bamboesbeer, ’n bekende boorling van
Asië—eintlik China—met tipies Chinese geboue op die
agtergrond.
Krediet: Samestelling van foto’s in openbare besit
(“compilation of images in the public domain”)
•
Oppervlakte:
Wêreld se grootste vasteland wat oor 44.579.000
vk. km strek. Asië is in der waarheid die oostelike deel
van die landmassa Eurasië, waarvan Europa die westelike
deel vorm.
•
Bewoners:
Asië is ook die vasteland met die meeste mense, te wete 4.162.966.086,
volgens ’n raming vir Julie 2008. (Van hulle sou ’n
verbysterende 1.322.044.605
mense in die Volksrepubliek van China woon.)
•
Lande:
• Oos-Asië:
China [mees dig bevolkte land op aarde met meer as 1,3
miljard inwoners], Hongkong (spesiale gebied van China
met sy eie administrasie), Macau
(spesiale gebied van China met sy eie administrasie),
Japan, Taiwan, Noord-Korea, Suid-Korea, Mongolië.
• Noord-Asië:
Rusland.
•
Suid-Asië: Afganistan, Bangladesj, Bhoetan, Indië, Maldive, Nepal, Pakistan, Sri Lanka.
•
Sentraal-Asië: Kasakstan [wêreld se grootste land wat
slegs omring word deur land], Kirgistan, Tadjikistan,
Turkmenistan, Oesbekistan.
•
Suidoos-Asië: Broenei, Birma (Myanmar), Kambodja,
Oos-Timor (Timor-Leste), Indonesië, Laos, Maleisië,
Filippyne, Singapoer, Thailand, Viëtnam.
• Wes-Asië:
Armenië, Azerbeidjan, Bahrein, Ciprus, Georgië,
Irak, Iran, Israel,
Palestina (besette gebiede in of by Israel), Jordanië,
Katar, Koeweit, Libanon, Oman, Saoedi-Arabië, Sirië,
Turkye, Verenigde Arabiese Emirate, Jemen.
•
Lande wat in Asië sowel as Europa geleë is:
Azerbeidjan (Wes-Asië en Oos- Europa), Georgië (Wes-Asië
en Oos- Europa), Kasakstan (Sentraal-Asië en Oos-
Europa), Rusland (Noord-Asië en Oos- Europa) en Turkye
(Wes-Asië en Oos- Europa).
Armenië lê fisiografies
heeltemal in Wes-Asië, maar het sterk geskiedkundige en
sosiopolitiese bande met Europa.
•
Herkoms van die naam Asië:
Afgelei van ’n Griekse woord, wat op sy beurt afgelei
kon gewees het van Assuwa, ’n konfederasie van state wat
in die veertiende eeu v.C. in Wes-Anatolië bestaan het.
(Anatolië het die grootste deel van die gebied beslaan
waar Turkye vandag is.)
Australië
REGS:
’n Kangaroe... die eienaardige kangaroes is maar sekere
van die vreemde diere wat “Doer Onder” op die aardbol
voorkom.
Foto: U.S. Department of Health & Human Services
•
Oppervlakte:
Australië is die kleinste kontinent, met ’n oppervlakte
van
8 468 300 vk. km,
waarvan die Gemenebes van Australië (Tasmanië ingesluit)
7 682 300 vk. km
beslaan. Ofskoon Nieu-Seeland ’n buureiland is, is dit
nie op dieselfde vastelandsplat as die hoofland van
Australië en van sy ander buureilande nie. Nieu-Seeland
is in der waarheid ’n deel van die ondersese vasteland
Seelandië. Australië en Seelandië saam is dele van die
breër gebied wat Oseanië of Australasië genoem
word, maar dit is nie korrek om Oseanië of Australasië
een kontinent of vasteland te noem nie.
•
Lande:
Australië, Papoea-Nieu-Guinee en dele van Indonesië.
Bewoners:
31 260 000 (geraamde bevolking vir 2009 van Australië,
Papoea-Nieu-Guinee en die provinsies Papoea en
Wes-Papoea van Indonesië).
Herkoms van die naam Australië:
Die
eerste Europese ontdekkers was op soek na ’n onbekende
suidelike kontinent wat Terra Australis Incognita
(Latyns vir die “Onbekende Suidland”) genoem is. Sedert
antieke tye is gedink dat ’n massiewe vasteland in die
suide bestaan wat kwansuis die groot landmassas van die
Noordelike Halfrond sou “balanseer”. Die verwagte groot
landmassa was nie waar die Europese pioniers gedink het
dit sou wees nie, maar die veel kleiner vonds is toe wel
Australië genoem, afgelei van die Latynse woord
australis, wat “suidelik” beteken. Lees ook die
afsonderlike Mieliestronk-artikel oor
Australië.
Europa
REGS:
Die ligte van Europa in die nag soos gesien vanuit die
ruimte.
Detail van ’n foto van
U.S. Defense Meteorological Satellites Program en NASA
•
Oppervlakte:
sowat 10 180 000 vk. km.
As
die mees westerse skierland van Eurasië word Europa
konvensioneel een van die aarde se sewe vastelande
genoem. Die skeiding tussen Europa en Asië word in die
reël aangedui as die waterskeiding van die
Oeralgebergte, die Oeralrivier, die Kaspiese See, die
Kaukasusgebergte en die Swart See na die suidooste.
•
Bewoners: 731
000 000 (raming vir 2009).
•
Lande: Albanië,
Andorra, Armenië (lê fisiografies heeltemal in Wes-Asië,
maar het sterk geskiedkundige en sosiopolitiese bande
met Europa), Azerbeidjan (lê deels in Asië), Belarus,
België, Bosnië & Herzegowina, Brittanje, Bulgarye,
Ciprus, Denemarke, Duitsland, Estland, Finland,
Frankryk, Georgië (lê deels in Asië), Griekeland,
Hongarye, Ierland, Italië, Kasakstan (lê deels in Asië),
Kroasië, Letland, Liechtenstein, Lituae, Luxemburg,
Masedonië, Malta, Moldowa, Monaco, Montenegro,
Nederland, Noorweë, Oostenryk, Pole, Portugal, Roemenië,
Rusland (lê deels in Asië), San Marino, Serwië,
Slowakye, Slowenië, Spanje, Swede, Switserland,
Tsjeggiese Republiek, Turkye (lê deels in Asië),
Oekraïne, Vatikaanstad, Ysland.
•
Gebiede:
Abkhasië (beskou homself as onafhanklik, maar word slegs
deur Rusland en weinig ander lande erken; Georgië beskou
Abkhasië as ’n deel van sy grondgebied), Åland-eilande
(Finland), Faroe-eilande (Denemarke), Gibraltar
(Brittanje), Guernsey (Brittanje), die eiland Man
(Brittanje), Jersey (Brittanje), Kosovo (betwiste gebied
waarvan die afskeiding nie deur Serwië erken word nie),
Nagorno-Karabakh (regtens ’n deel van Azerbeidjan, maar
het ’n internasionaal onerkende regering), Noord-Ciprus
(in wese ’n onafhanklike republiek, maar sy afstigting
word nog slegs deur Turkye erken), Suid-Ossetië
(betwiste gebied wat hom eensydig onafhanklik van
Georgië verklaar het), Svalbard & Jan Mayen-eilande
(Noorweë), Transnistrië (betwiste gebied waarvan die
afstigting nie deur die Republiek van Moldowa erken word
nie).
•
Lande wat in Europa sowel as Asië geleë is:
kyk by Asië.
•
Herkoms van die naam Europa:
Europa, en vernaamlik die Griekeland van die Oudheid, is
die geboorteplek van die Westerse kultuur.
Die gebruik van die
naam Europa het in die loop van die geskiedenis
geleidelik ontwikkel. Die Griekse geskiedkundige
Herodotus het dit in die Oudheid genoem dat die wêreld
deur onbekende mense verdeel is in die drie vastelande
wat Europa, Asië en Libië (Afrika) genoem word. Europa
was ’n Feniciese vrou in die Griekse mitologie, en dit
is haar naam wat uiteindelik ook die naam van die
vasteland sou word. Presies hoe dit gebeur het, is nie
duidelik nie, maar eers is slegs die middenoorde van
Griekeland Europa genoem. Toe, teen 500 v.C., is reeds
met hierdie naam ook na lande in die noorde verwys. Met
die verdere verloop van tyd sou die naam vir ’n veel
groter gebied gebruik word.
Noord-Amerika
REGS:
Die Verenigde State se Vryheidstandbeeld verteenwoordig
die vryheidstrewe van nasies oor die wêreld heen sodat
elk binne sy eie gebied homself demokraties kan regeer.
Tersaaklike deel van ’n foto deur “GaMeRuInEr”, wat dit
by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare
besit verklaar het (“released to the public domain”)
•
Oppervlakte:
sowat
24 709 000 vk. kilometer.
•
Bewoners:
byna 529 miljoen (raming Julie 2008).
•
Soewereine lande:
die Verenigde State van Amerika, Kanada, Mexiko, Antigua
& Barbuda, Bahama-eilande, Barbados, Belize, Costa
Rica, Kuba, Dominica, Dominikaanse Republiek, El
Salvador, Grenada, Guatemala, Haiti, Honduras,
Jamaika, Nicaragua, St Kitts & Nevis, St Lucia, en St
Vincent & die Grenadine, terwyl Panama en Trinidad &
Tobago algemeen ook as ’n deel van Suid-Amerika beskou
word.
•
Afhanklike gebiede en ander gebiede:
Onder meer Groenland (’n deel van die Koninkryk van
Denemarke en sedert 1979 ’n selfregerende oorsese Deense
gebied), Bermuda, Montserrat, Puerto Rico en nog ’n
aantal.
•
Herkoms van die naam Amerika:
Daar word algemeen aanvaar dat Noord-Amerika (asook
Suid-Amerika) deur die Duitse kaarttekenaars Matthias
Ringmann en Martin Waldseemüller genoem is na die
Italiaanse ontdekkingsreisiger Amerigo Vespucci.
Laasgenoemde het Suid-Amerika tussen 1497 en 1502 verken
en was die eerste Europeër wat te kenne gegee het dat
die Amerikas nie Oos-Indië is nie, maar ’n afsonderlike
landmassa wat die Europeërs nie vantevore geken het nie.
Suid-Amerika

INLASFOTO BO: Die kronkelgang van die magtige
Amasonerivier deur die reënwoud in Suid-Amerika. Op
die groot foto BO staan ’n man op die gebarste slik
lanks die Mamorérivier in Bolivia—slegs ’n klein
deeltjie van die geraamde drie miljard ton
moddergrond wat
jaarliks vanuit die Andesgebergte in die
Amasone-stroomgebied ingespoel word.
Inlasfoto: LBL / U.S. Gov. / Groot foto: Rolf
Aalto, University of Washington / OLPA, U.S.
National Science Foudation
•
Oppervlakte en aardrykskunde:
Suid-Amerika beslaan 17 840
000 vk. km. Die Ángelwaterval in Venezuela
is die hoogste vryvallende waterval ter wêreld met ’n
hoogte van 979 meter. In Suid-Amerika is ook die aarde
se grootste rivier per volume, die magtige Amasone, en
die langste bergreeks, te wete die Andesgebergte (meer
as 7000 km lank). Voorts is hierdie vasteland se
Atacamawoestyn die droogste plek op ons planeet, en aan
die ander uiterste huisves Suid-Amerika ook die grootste
reënwoud, dié van die Amasone.
•
Bewoners:
385 742 554 (raming vir Julie 2009).
•
Soewereine lande en gebiede:
Bolivia, Brasilië, Chili, Colombia, Ecuador,
Falkland-eilande (Brittanje), Frans-Guiana (Frankryk),
Guyana, Paraguay, Peru, Suid-Georgië en die Suidelike
Sandwicheilande (Brittanje), Suriname, Uruguay,
Venezuela.
•
Herkoms van die naam Amerika:
kyk by Noord-Amerika. |