|
Lewegewende grond
uit die dood van ’n rots
Tot in die uithoeke van
haar enorme ryk maak Moeder Natuur haar vertoonstukke (soos op die
anderlandse foto’s BO en HEEL BO). Pagodes, torings, naalde, brûe,
boë en selfs “grootkop-wesens” van rots word deur verwering gevorm—ook ander interessante
rotsformasies soos dié in ons eie wêrelddeel in die Vallei van
Verlatenheid by Graaff-Reinet (twee foto’s ONDER). Só word selfs imposante
berge van die aarde onophoudelik omgevorm en weggevreet. Alles deur
die proses van verwering wat uiteindelik barre rotse in lewegewende
grond verander...

BO: ’n
Wilde samehoping van rotse wat in ’n warboel oor die terrein
gestrooi is... só het ’n Stellenbosse teologiese professsor
dit vroeg in die twintigste eeu in ’n Engelse boek beskryf. Hy het
verwys na die indrukwekkende Vallei van Verlatenheid by
Graaff-Reinet. Miskien sou ’n mens dit ook met die
meedoënloos kouende tand van die tyd kon vergelyk wat vir
homself ’n monument in die vorm van grynsende draketande
geskep het. Saam met die bekende Spandauskop op die
agtergrond op hierdie foto is die Vallei van Verlatenheid
immers ’n goeie voorbeeld
van verwering en erosiewerking in ons eie land.
Foto bo met spesiale
vergunning aan Mieliestronk.com van
©
Carola van Duiven,
alias Koffiemetkoek, op
hierdie bladsy by Flickr op die wêreldwye web. Kyk ook
Carola se hele fotoversameling by hierdie skakel:
http://flickr.com/photos/koffiemetkoek/

BO:
Nog rotsformasies in die Vallei van
Verlatenheid.
Foto bo met spesiale
vergunning aan Mieliestronk.com van
© Amahlati
Excursions.
Kyk hul webblad by http://www.amahlatiexcursions.co.za/
Lees
ook: •
Grond en wat dit vir
ons beteken
•
Erosie: hoe om verwaarloosde grond te red
IN ’n mikrosekonde van die ewigheid word ’n berg gebore en sterf hy. Hoë kranse wat jy vandag sien, is dalk net die grynsende oorblyfsels
van dit wat eens ’n imposante landmassa was.
Só word die berge van die wêreld aanhoudend weggevreet, selfs terwyl
hulle gevorm word. Die skuldige? Verwering.
|
Die
verskil tussen
verwering en erosie
|
|
VERWERING
is nie dieselfde as erosie nie. Basies kan ons sê dat as
’n rotsdeeltjie los raak van die rots—hetsy op ’n
chemiese of meganiese manier—maar nie daarvan
wegbeweeg nie, word dit verwering genoem. Sodra daardie
deeltjie weggevoer word, soos deur die wind of reënwater
en dies meer, praat ons van erosie.
•
By
chemiese verwering
is daar ’n chemiese verandering in ten minste sekere van
die minerale binne-in ’n gesteente.
•
By
meganiese verwering
word rotse fisiek in brokstukke opgebreek sonder dat die
chemiese samestelling van die minerale daarin enigsins
verander word.
•
Erosie
is die wegvoering van losgeraakte rotsdeeltjies deur ’n
bewegende bewerker soos die lug, water of ys
(byvoorbeeld die wind, lopende water en gletsers). By
water- en yswerking
geskied die
verskuiwing in die reël na ’n laer liggende plek vanweë
swaartekrag.
Sekere bewerkers kan sowel verwerend as
eroderend werk. Ys wat in rotsskeure vorm, het byvoorbeeld ’n
verwerende funksie deurdat dit ’n drukking op die rotswande uitoefen
en die gesteentes afbreek. Ys in gletsers het weer ’n eroderende
funksie deurdat dit afgebreekte materiaal wegvoer.
|
Verwering is die ontbinding en
verbrokkeling van rots. Dit word veroorsaak deur die wisselwerking
van die klimaat en biologiese faktore op die struktuur en chemiese
samestelling van die rots. Verwering kan as die teenoorgestelde
beskou word van die prosesse waardeur berge gevorm word.
Vergeleke met die werking van riviere, gletsers, winde en branders,
dra die klimatiese, chemiese en biologiese aftakeling nie veel by
tot die formasie van asemrowende landvorms nie. Maar moenie die
belangrike proses van verwering onderskat nie. Dis verantwoordelik
vir die afbreek van rots en berei dit voor om weggevoer te word en
neerslae elders te vorm. Die eindresultaat is die vorming van grond.
So magtig is dié proses dat dit, soos ons gesien het, mettertyd hoë
berge kan laat verbrokkel. En wanneer dit met eroderende elemente
soos lopende water of wind kombineer, kan verwering vorm gee aan die
vreemdste natuurlike boë en toringspitse op aarde.
In droë wêrelddele veroorsaak die verskille in dag- en
nagtemperature dat die onderskeie minerale in rotse in verskillende
tempo’s uitsit en krimp. Boonop bak die buitenste lae van die rots
in die fel hitte van die son, terwyl die binneste lae koel bly. Dit
lei tot spanninge binne-in die rots, wat meebring dat die ontblote
dele afkrummel of afsplits.
Soms word groot landgebiede wat voorheen onder geweldige druk was
weens massas rots wat bo-op gelê het, deur erosie blootgelê. Bevry
van hierdie "las", sit die rots na bo uit en bars—en massiewe blokke
materiaal breek van die moederrots af weg.
Kom die reën, loop water in rotsskeure in. En as die temperatuur dan
tot die vriespunt daal, soos dikwels snags gebeur, vries die water
in die skeure en vorm yskristalle wat, namate hulle groei, geweldige
druk teen die rotswande uitoefen.
Die herhaalde bevriesing en ontvriesing van die water werk soos ’n
koevoet om klein stukkies rots af te breek in ’n proses wat
verbryseling genoem word. Sulke verbryselde rotsstukkies is
gewoonlik skerp en hoekig.
Ewe vernietigend vir rots is soutverwering in droë klimate. Tydens
droogtes word grondwater na die oppervlak van die rots getrek, waar
dit verdamp om klein soutkristalletjies agter te laat. Dié kristalle
groei en oefen druk uit op die omliggende sandsteen, wat verkorrel.
Die sandkorreltjies word later deur die wind weggewaai en die reën
weggespoel.
Soutverwering is verantwoordelik vir die interessante nisse, vlak
grotte, rotsboë en putte wat in sandsteenformasies gevind word. In
die suidwestelike VSA was baie van dié diep nisse die tuistes van
Indiane, wat nie net daar skuiling teen die elemente gevind het nie,
maar ook beskutting teen aanvalle.
Maar nie alle verwering word deur lewelose kragte veroorsaak nie. In
woude dring plante en boomwortels in sandgevulde hoeke in rotse in
en splits mettertyd die rots bloot deur te groei. Plantwortels wat
ondergrondse water deur barste in die rotsbodem soek, het ’n
soortgelyke skeurkrag. Sommige plantwortels, veral dié van korsmos,
kan die rotse selfs oplos.
REGS:
’n Plantwortel beur deur 'n rots en breek dit stukkend. Deur verdere
verwering verander die gesteente in grond.
Foto: U.S. National Park Service
Verskeie grawers in die diereryk, soos erdwurms, molle, hase, miere
en meerkatte, dra tot die proses van verwering by deur in die grond
te dolwe, dit op te breek en die rotse aan die atmosfeer bloot te
stel.
Sommige rotse verweer omdat hul bestanddele so vatbaar vir chemiese
verwering is. In dié proses word nuwe stowwe gevorm. Dié is
oplosbaarder en fyner van tekstuur. Dis hulle wat die meeste van ons
grondsoorte vorm.
Wanneer gasse in die atmosfeer met rots in aanraking kom, verbind
sommige met die minerale en veroorsaak ’n chemiese verandering in
die rots.
Suurstof verbind dikwels met minerale en wanneer daar yster in die
rots is, word dit roesrooi gekleur. Wonderlike voorbeelde hiervan
kan gesien word in die toringspitse en dongaveld in Bryce Canyon,
Utah, in die VSA.
LINKS:
’n Toneel in Bryce Canyon, Utah.
Foto: Marli Miller / U.S. Geological
Survey
Onoplosbare minerale soos kalksteen word opgelos deur reënwater wat
met koolsuurgas (koolstofdioksied) in die lug verbind het om ’n swak
suur te vorm. Die kalksteen word stadig weggevreet, weggevoer en
slaan weer elders neer om miskien asemrowende ondergrondse spelonke
soos die Kangogrotte by Oudtshoorn te vorm.
Die belangrikste produk van chemiese verwering is grondvorming.
Planeet Aarde se grond is vir die mens van lewensbelang. Daarin
groei en floreer die plante waarvan ons so afhanklik is.
En in groot mate het grond die verloop van ons beskawing
bepaal—sonder die vroeë ontwikkeling van die groot landboubeskawings
sou ons geskiedenis stellig heeltemal anders gelyk het...

BO: Die
bekende Monument Valley in die Amerikaanse Weste is ’n
treffende voorbeeld van hoe verwering en erosie ’n landskap
gevorm het.
Krediet:
NASA / GSFC / METI / ERSDAC / JAROS & U.S. & Japan ASTER Science
Team
|
|
Woestynkaktusse... bakterieë in hul wortels maak in ’n japtrap vir
hulle vrugbare grond uit rotse, reken geleerdes
LINKS:
’n Foto van die kaktusspesie Pachycereus pringlei
gesuperponeer op ’n foto van vulkaniese gesteentes. Hierdie
plantspesie floreer juis op steriele vulkaanrots—danksy ’n
simbiotiese verbintenis met sekere bakterieë, word gemeen.
DAAR is min plante wat sonder grond kan groei
en nog minder wat op niks anders as kale rotse kan bly lewe nie,
maar sekere woestynkaktusse gedy tog knus op sulke barre gesteentes.
Hoe? Navorsers reken hulle voer ’n
simbotiese bestaan met bepaalde
bakterieë wat die rotse oplos om vrugbare grond te vervaardig en in
die kaktusse se wortels voorkom.
Die
doringplante sorg na vertel word boonop dat van die bakterieë in hul
sade opgeneem word sodat toekomstige kaktusgeslagte ook van die
lewensnoodsaaklike rotsbrekers in hul wortels kan hê.
'n Bioloog van
Mexiko, dr. Yoav Bashan, en andere het in ’n studie probeer vasstel
hoe die woestynkaktusse op die rotse kan oorlewe, want sonder
minerale en stikstof kan ’n plant mos nie voortbestaan nie. Maar
minerale bestaan net in vaste verbindings in die rotse en daar is
geen beskikbare stikstof in die onvrugbare klip nie.
Vir die
navorsers was die enigste verklaring dat daar mikrobes moet wees wat
tot die kaktusse se redding kom deur enersyds die minerale in die
rotse op te los en andersyds die stikstof in die lug vir hulle te
bind sodat hulle dit kan opneem. Die geleerdes het na die
mikroörganismes gaan soek en toe aangekondig dat hulle die mikrobes
gevind het. Die plante sorg van hul kant vir die mikrobes deur
koolstof aan hulle te verskaf.
Op hierdie
manier word grond vinnig gevorm, ’n proses wat andersins dalk lange
eeue sou geduur het.
|