|
Vleie en moerasse Die brose habitats van plante en diere wat kwalik op ander plekke op die aarde sal aard
In Engels word dit wetlands genoem en die Nederlanders praat van ’n drasland, waar dras die betekenis van “deur en deur nat” of “moerasagtig” het. Maar wat is vleilande eintlik en waarom is dit so noodsaaklik om die aarde se kosbare vleilande sover as moontlik te bewaar?
BO: Vleiland... waterland... Foto: U. S. Department
of the Interior |
|
IER’S ’n vlei, my vrou. Ons gaan dit drooglę en hier boer. Ek gaan sommer môre al begin om ’n sloot net hier te grawe sodat ons die syferwater kan wegdreineer en dit na die spruitjie daar onder kan lei...”
Só het menige trekker in die ou dae seker sy toekomsdroom by ’n vleiland verwoord, wel wetende hoe vrugbaar die grond sou wees as gevolg van al die plantereste wat miskien oor eeue heen daar versamel het. In die swart veengrond sou byvoorbeeld aartappels mos baie goed aard, kon hy gereken het.
Aan die ander kant kan moerasgrond weer so suur wees dat ’n mens niks daar kan kweek nie—kyk maar hoe treurig en verpot lyk die paar bome wat ’n mens wel by sekere moerasse vind. Dan verg dit intensiewe behandeling van die nuttelose aarde om dit ná drooglegging in bruikbare landbougrond te omskep.
Maar of vleie en moerasse hoegenaamd drooggelę behoort te word, is natuurlik ’n ander vraag. Talle bewaringsbewustes stry immers al jare lank vir die behoud van ons planeet se vleilande, om die eenvoudige rede dat hulle die natuurlike habitats is van plante en diere wat nęrens ander kan lewe nie. Vleilande maak in der waarheid ’n interegrende deel uit van die natuurlike balans van die aarde en bied dikwels ’n tuiste vir ’n aansienlike hoeveelheid verskillende lewensvorms.
Foto’s: U.S. Fish and Wildlife Service
Toegegee, waar daar vooruitgang moet wees in die vorm van, sę, paaie en spoorlyne, moet ten minste dele van vleilande noodwendig daarvoor plek maak. Moerasse kan ook ’n bron van siektes wees vir mense wat daar naby woon, soos waar dit die eiers en larwes van gevaarlike malariamuskiete huisves.
Dog uiteindelik verg die mens se oorname van sulke ekologies sensitiewe streke die intensiefste omgewingstudies voordat besluite daaroor geneem sal word. Die mensdom het immers reeds heeltemal te veel skade aangerig aan die brose węreld wat aan hom toevertrou is. Die onsensitiewe en onbesonne vernietiging van enige vleiland kan gevolge hę wat geen van die vernietigers dalk ooit voorsien het nie, word gemaan.
In aansluiting hierby het wetenskaplikes wat in Julie 2008 ’n groot konferensie bygewoon het wat deur die Verenigde Nasies in Cuiaba, Brasilië, gereël is, in ’n verklaring gewaarsku dat die huidige vraag na voedsel en biobrandstof die węreld se vleilande toenemend bedreig.
Al hoe meer van die habitats loop gevaar om in landbougrond omgeskep te word, is gesę, en ons huidige kennis van die omvang van die aarde se vleilande is “onaanvaarbaar”. Onder die bedrywighede wat die habitats laat agteruit gaan, is turfontginning en die oprigting van damwalle vir die opwekking van hidroëlektrisiteit.
“Dit is tyd om die onskatbare waarde van vleilande vir alle spesies te erken—insluitende ons eie,” het een van die voorgangers van die konferensie gesę.
Maar wat is vleilande eintlik?
VLEILANDE is plekke waar land en water bymekaarkom. In Engels word dit wetlands genoem en die Nederlanders praat van ’n drasland, waar dras die betekenis het van “deur en deur nat” of “moerasagtig”.
Die omskrywing van vleilande word vervat in die Ramsar-konvensie, oftewel die Internasionale Konvensie oor die Beskerming van Vleilande, wat in 1971 onderteken is deur afvaardigdes wat in Ramsar byeengekom het, ’n dorp in Iran aan die kus van die Kaspiese See.
Die Ramsar-konvensie bestempel vleilande as “gebiede met vleie, moerasgrond, veengrond of water, hetsy natuurlik of kunsmatig, permanent of tydelik, met staande of lopende water, brak of sout, insluitende gebiede met seewater wat met laagwater nie dieper as ses meter is nie”.
Die Ramsar-konvensie, wat oorspronklik deur slegs agttien lande onderteken is, is die enigste internasionale verdrag wat ten doel het om habitat eerder as lewende spesies te bewaar. Altesame 158 lande het hulle reeds aangesluit en onderneem om hulle by die bepalings van die Ramsar-ooreenkoms neer te lę.
Daar is nou 1 755 vleilande op Ramsar se Lys Vleilande van Internasionale Belang (2008). Dié van Suid-Afrika is (alfabeties) Barberspan, Blesbokspruit, De Hoopvlei, De Mond (Heuningnes-estuarium), Drakensbergpark, Kosibaai, Langebaan, Ndumo-wildtuin (in Maputaland, KwaZulu-Natal), Nylsvley-natuurtuin (naby Naboomspruit), Oranjeriviermonding, Seekoeivlei-natuurtuin, Sibhayi-meer (in Maputaland, KwaZulu-Natal), St. Lucia-sisteem, Seeskilpad-strande / koraasriwwe van Tongaland, Verlorenvallei-natuurtuin (naby Dullstroom, Mpumalanga), Verlorenvlei en die Wildernis-mere.
Die Sibhayi-meer in KwaZulu-Natal is die grootste natuurlike varswatermeer in Suid-Afrika met ’n oppervlakte van 77 vk. km. Dit is ’n deel van die Groter St. Lucia-vleilandpark.
VLEILANDE is, soos ons boontoe aangedui het, oorgangsgebiede tussen droë grond en water. Sowat drie persent van die aarde se oppervlak word deur vleilande bedek en nie minder nie as 75 persent van die mensdom woon teenswoordig in gewese vleilande en die omliggende gebiede.
Dit is moeilik om die verskillende soorte vleilande op aarde te klassifiseer en te definieer, en in Afrikaans word vlei en moeras boonop dikwels as volstrekte sinonieme aangevoel—soos ’n halfdosyn en ses. (Of vinkel en koljander, sal baie mense ook sę, die een is nes die ander!)
Maar dan is daar weer ’n ander klassifikasie wat nie minder nie as dertig soorte natuurlike vleilande erken, plus nog nege mensgemaakte tipes. Daar is nietemin eenstemmigheid dat daar twee hoofsoorte is: dié in die binneland met varswater en dié aan die kus met seewater of brakwater.
Volgens ’n verdere onderskeiding word die bekendste vorms van min of meer stilstaande water—te wete vleie, moerasse, turfmoerasse en kusmere en lagunes—as volg beskryf:
• VLEIE: ’n Vlei is ’n komvormige gebied met ’n geringe helling, waar die grond in die reënseisoen met water versadig is. Biesies en so meer is onder die gewoonlik digte plantegroei wat in vleie voorkom. Dit raak problematies waar mense hul huise oprig in gebiede wat eintlik seisoenale vleie is. Een só ’n gebied, word vertel, is die Kaapse Vlakte in die Kaap, waar die mense keer op keer in die wintermaande deur oorstromings geteister word.
BO: Daar onder in die vlei waar die mannetjie stap, volgens die bekende tradisionele liedjie...
Foto: U.S. Geological Survey
• MOERASSE: ’n Moeras is uiters plat en die grootste gedeelte lę onder water, maar die water is in die reël bra vlak. Talle klein moddereilandjies, soms begroei met gras, is tipies van moerasse. In gebiede met duidelike reënseisoene, soos in Suid-Afrika, is vleie tydens die reënseisoen algemeen, maar moerasse is skaars. Trouens, in meer ontwikkelde streke is daar vandag selde moerasse, aangesien streng beheer deur middel van kanale en afvoerpype juis die vorming van moerasse voorkom.
BO: In die moeras as
die nag daaroor daal,
Foto: NRCS / U.S.
Department of Agriculture
• TURFMOERASSE: In ’n turfmoeras vind ’n mens meestal plantemateriaal wat aan die verrot is, soseer dat die moeras sponsagtig voorkom. Die dreinering van die water is baie swak, sowel in die breedte as in die diepte.
• KUSMERE: Die eroderende aanslag van die see se branders en ’n rivier wat op sy beurt ook baie erosiemateriaal dra, kan meewerk om ’n langstrandse wal voor ’n baai te laat vorm, waardeur die baai van die see afgesny word. Voorbeelde hiervan is in Suid-Afrika te sien by die vleie van George en Knysna. Kusmere is in die reël sout en kan selfs souter as seewater wees as gevolg van verdamping. Aanvullings uit riviere, syferwater uit die see en bykomende seewater tydens springgetye sorg vir ’n nagenoeg konstante watervoorraad in die kusmeer.
Foto: Kaapse
Natuurbewaring /
Cape Nature Conservation
http://www.environment.gov.za/Branches/BioConservation/17Ramsar/de_hoop/dehoop5.htm
http://www.environment.gov.za/Branches/BioConservation/17Ramsar/de_hoop/de_hoop_ris.htm
• LAGUNES: ’n Lagune of strandmeer is eweneens ’n stuk water aan die kus—’n vlak meer wat deur ’n smal strokie land heeltemal of deels van die see afgesny word. Waar ’n rivier geweldig baie erosiemateriaal by sy monding neerlaat, kan dit mettertyd gebeur dat die land seewaarts verplaas word. Die rivier sny deur talle kanale in die gevormde delta en wanneer ’n kanaal deur die afsetting van erosiemateriaal versper word, word ’n lagune gevorm. Só ’n lagune kan aanvanklik nog met die see verbind wees, maar namate die see al hoe verder “terugdeins” om vir die land plek te maak, “beweeg” die lagune al hoe verder van die see af. Die lagune se water word ook ál varser, totdat dit naderhand toeslik om eers ’n moeras en dan ’n vlei te vorm. Die sogenaamde alluviale vlakte wat deur die seewaartste beweging van ’n riviervlakte ontstaan, is baie gesog as landbougrond en dan is die rivier ook nog daar vir besproeiing. Nie verniet dat baie van die ou beskawings, soos dié in die Nyl-delta in Egipte, juis op alluviale vlaktes verrys het nie.
BO: ’n Lagune in Kerala, Indië.
Foto: Utpal Nath van Dubai in die Verenigde Arabiese Emiritate, wat dit op hierdie bladsy by flickr op die węreldwye web uitgeplaas het en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution 2.0-lisensie. |
|