|
|
||
Vlermuise
is diere met nare reputasies. Maar hulle verdien dit nou rêrig nie. Eintlik
tel hulle onder die grootste vriende van die mens... nou ja, ten minste
sekere van die 850 tot 900 fassinerende spesies wat die lugruim
|
|||
AIE dinge wat mense dink
hulle van vlermuise weet, is glad nie waar nie. Vlermuise is byvoorbeeld
nie blind nie. Hulle is ook nie muise nie; trouens, hulle is nie eens
knaagdiere nie. En—glo dit tog—hulle klou nie soos
klitsgras aan ’n mens se hare vas nie!
Die waarheid is dat
vlermuise onder die sagsinnigste, nuttigste en nodigste diere op aarde
tel.
En
noudat jy dít weet, weet jy reeds meer van hierdie vlieënde diere as
die meeste mense op aarde. Die tyd is ongelukkig nog lank nie verby dat
oningeligtes skoon histeries raak wanneer vlermuise om hulle rondvlieg
nie.
Dan
hardloop hulle selfs met besems, tennisrakette en ander slaandinge rond
om dié weerlose diertjies summier te probeer doodslaan. Dis omdat hulle
nog glo die vlermuise gaan hulle byt—of aan die stokou snertstorie
bly kleef dat hierdie nagdiertjies in hul hare verstrengel sal raak.
|
|||
M
|
Daar
is altesaam 850 tot 900 vlermuisspesies, baie meer as in enige ander
soogdier-orde buiten die knaagdiere—en dit is moontlik dat daar in
getal selfs meer vlermuise as knaagdiere op die aarde kan wees.
Die
Chiroptera kom dan ook regoor die wêreld voor, buiten in die
Noordpoolstreek, Antarktika en sekere afgeleë eilande. Suid-Afrika het
’n hele paar dosyn vlermuise.
Die
wêreld se grootste vlermuis word in Java gevind, met ’n vlerkspan van
sowat 1,7 m en ’n liggaamslengte van meer as 40 cm. Die kleinste is
weer ’n boorling van Wes-Thailand: slegs sowat 3 cm lank, met ’n
gewig van net ongeveer 2 g.
Voëls
en vlermuise is die enigste gewerwelde diere wat werklik kan vlieg. Daar
is wel ander wat lang ente deur die lug kan sweef, maar net voëls en
vlermuise het rêrig vlerke.
Baie
soorte vlermuise het ’n lae weerstand teen sekere insektedoders soos
DDT, wat hul liggame deur middel van die voedselketting kan binnedring
en daarin kan opbou. Sekeres op die lys van bedreigde spesies het juis
al erg gely weens die gebruik van plaagdoders in die landbou.
Dit
maak bewaringsbewustes bekommerd. Die verdwyning van slegs een spesie
van die aardbol het ’n invloed op die ekologie. Niemand kan werklik
beweer dat ons nederige vlieënde soogdiertjies van minder belang is as
enige ander diere wat op die rand van uitsterwing huiwer nie.
Lank
lewe die vlermuis.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad