Opskrif: Watersnood en waternood — oorstromings en droogtes

Watersnood = oorstroming, watervloed
Waternood = ernstige waterskaarste

•  Foto links bo: NOAA  •   Foto regs bo: NASA / U. of Michigan

Vloed en sy teenpool, droogte, tel altwee onder die mees verwoestende natuurrampe wat daar is...

NEEM twee atome waterstof, die volopste gas in die heelal. Meng dit met een atoom suurstof, die gas wat jy moet inasem om te lewe, en steek dié mikro-mengseltjie aan die brand.

 

Kadoef! Daar het jy ’n molekule water, moontlik die wonderlikste grondbestanddeel van die skepping. Mens, mier of mielie het water nodig om te lewe—maar ook nie te veel daarvan nie of dit kan hul dood kos.

Teen vloede en droogtes stry die mens al sedert onheuglike tye...

  



Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

 Vloed

’N VLOED is ’n buitengewoon hewige oorstroming van water uit riviere, seë of mere op land wat normaalweg droog is.

 

Dis eintlik ’n wesenlike deel van die hidrologiese kringloop wat die lewe op ons planeet help orden. Maar sedert vroeër dae se mense hul swerwersbestaan versaak en in dorpe en stede begin woon het, het vloede ’n geweldige probleem geword.

 

Oorstroming in ’n bewoonde gebiedREGS: ’n Skielike oorstroming in ’n bewoonde gebied kan groot skade veroorsaak.

 

Foto: Tommy Duncan /  NOAA

 

Die mens is geneig om sy nedersettings naby groot rivierstelsels te bou, om nie net die vars water te benut nie, maar ook om daarop te vaar en verbindingsweë te vestig.

 

In ’n gevestigde samelewing is die oorstromings baiemaal voordelig. Die antieke Egiptenare het hul hele beskawing te danke gehad aan die bestendige vloei en vloede van die Nyl, wat water en vrugbare slik na die woestyn-oewers gebring en landbou moontlik gemaak het. In dele van China en Kambodja word vloede as welkome draers van die lewe beskou.

 

Maar dikwels is vloede erg nadelig. Baie nedersettings het tot in die vloedvlaktes van riviere uitgesprei waar hulle groot gevaar loop om oorstroom te word.

Suid-Afrika het al beleef hoe feitlik ’n hele dorp tot niet gaan in ’n vloed. Op 23 Januarie 1981 is Laingsburg in die Karoo deur só ’n watermassa verswelg toe die Buffelsrivier oor sy walle gebars het. Binne ’n paar uur was die dorp onder water en inwoners besig om vir hul lewens te veg. Altesaam 104 mense het hul lewens verloor en slegs 21 huise het bly staan.

Mense wat met openbare veiligheid te doen het, sê die Laingsburg-ramp beklemtoon die noodsaaklikheid van paraatheid. Die vloed het die Laingsburgers nie net totaal onverhoeds betrap nie, maar hulle was ook heeltemal onvoorbereid omdat hulle in hul droë wêreld glad nie sulke ernstige oorstromings geken het nie. Dit het tot die groot lewensverlies bygedra.

Daarteenoor was lewensverliese in ander vloedgebiede, soos Ladysmith in die vloede van 1994, waar die laagliggende dele dikwels oorstroom word, in vergelyking minimaal. Dit toon duidelik dat onvoorbereide gemeenskappe meer in sulke rampe sal ly as gemeenskappe wat reg staan om potensiële gevare die hoof te bied.

Ergste vloed ooit

NÁ die sondvloed is die ergste opgetekende vloed, ten minste in terme van lewensverlies, beslis die oorstroming van 1887 in Noord-China toe die Hoeang He-rivier oor sy walle gebars het. Tussen een en ses miljoen mense is na raming dood, twee miljoen was dakloos en driehonderd dorpies is verwoes.

Eeue lank reeds oorstroom hierdie rivier sy walle en dit het al ontelbare miljoene mense doodgemaak. Geen wonder dit word China se Verdriet genoem nie.

 

Soorte vloede

OORSTROMINGS kan verskillende oorsake hê.  Partykeer kan massas water na die land toe aanstu uit seë of mere wat onstuimig raak weens stormwinde of seismiese woelinge (tsoenami’s).

 

Sommige van die wêreld se hewigste vloede is veroorsaak deur vulkane wat onder gletsers uitgebars het in gebiede soos Ysland en Antarktika.

 

Of soms breek menslike strukture soos damme.

New Orleans, Louisiana, lê verdronke weens die oorstromings wat in 2005 deur die orkaan Katrina in die VSA veroorsaak isLINKS: New Orleans, Louisiana, lê verdronke weens die oorstromings wat in 2005 deur die orkaan Katrina in die VSA veroorsaak is. Daar word geraam dat Katrina $81, 2 miljard skade aangerig het, wat dit die duurste natuurramp in die geskiedenis van die VSA maak. Dit het die lewens van minstens 1836 mense geëis, die dodelikste Amerikaanse orkaan sedert die Okeechobee-orkaan van 1928.

Foto: United States Coast Guard / Public domain

 

 

Maar verreweg die volopste is binnelandse varswater-vloede, wat veroorsaak word deur die oorversadiging van riviere weens te veel reën of smeltende sneeu en ys, of deur die blokkasie van sulke groot waterlope deur grondstortings of "proppe" van ys.

 

Vloedbeheer

WAT kan ’n mens doen om vloedskade te probeer voorkom?

 

Seevloede is moeilik om te beheer. Hoë, sterk mure is nodig om die vloedwaters te keer, en dié is duur en partykeer steeds ondoeltreffend.

 

Nogtans is dit op party plekke heel doelmatig. Dink maar aan die dyke in Nederland wat die see van die polders af weghou.

 

En dan is daar natuurlik ook die sogenaamde dolosse, wat wel nie seevloede sal stuit nie, maar darem kan help om woeste seë te temper. Dolosse is daardie kolossale sementstrukture wat in hawens gebruik word om hawemure teen golwe te beskerm. Dit is nogal deur ’n Suid-Afrikaner, Eric Merrifield, ontwerp en vir die eerste keer by die hawe in Oos-Londen aangebring. Dit word vandag wêreldwyd gebruik.

Dolosse (of ten minste soortgelyk ontwerpte waterkragbrekers)REGS: Dolosse (of ten minste soortgelyk ontwerpte waterkragbrekers) in Noordwes-Sumatra, Republiek van Indonesië.

Foto: U.S. Geological Survey

Vir die beheer van binnelandse vloede word onder meer reservoirs gebou om water te hou en kanale om dit in die see vry te laat. Vloedmure van sandsakke en walle van grond kan ook keer dat riviere hul walle oorstroom.

 

Partykeer word smal stroke grond langs riviere oopgelaat of slegs vir boerdery of as parke gebruik.

 

Dis nie net belangrik om oorstromings te beheer nie, maar regerings doen baie om lewensverlies te beperk, soos deur mense teen moontlike vloede te waarsku, inwoners uit die gebiede te help verwyder en noodhulp aan slagoffers te verleen.

 

Met moderne tegnieke word geboue vandag opgerig wat selfs vloedskade kan weerstaan. Watervaste boumateriale word gebruik of die geboue word as’t ware op stelte bokant die grond gebou.

 



 Droogte 

   

Droogte in Afrika... ’n ma en kind gesuperimponeer op verdorde grond REGS: Droogte in Afrika... ’n ma en kind gesuperimponeer op verdorde grond. Droogtes is nie net ’n deel van die Suid-Afrikaanse lewe nie, maar ook so te sê sinoniem met ons vasteland. Die groot ellende ’n aantal jare gelede in die Sahel (die savanne-streek wat die Sahara van die tropiese Wes-Afrika skei) en Ethiopië het mense oral aangegryp.

Foto: Daniel Stiles, UNEP / via U.S. Geological Survey

SUID-AFRIKA beleef wel soms vloede, maar droogtes is jammerlik deel van ons lewe. Selde nog was daar ’n jaar waarin daar nie op een of ander plek in die land ’n droogte was nie.

 

Anders as met ’n oorstroming, kan ’n mens nie ’n droogte hoor of sien aankom nie. Maar dit is ewe moeilik om te beheer en beslis ewe vernietigend.

 

Vloede, siklone en tornado’s slaan toe en verdwyn, maar droogtes hou skynbaar nimmereindigend aan. Meer vog gaan uit die grond en riviere en damme verlore as wat teruggeplaas kan word, sodat dier en plant verskrompel. Die boere ly of gaan ten gronde. Die gemeenskap ly saam met hulle.

 

Deur plant- en dierfossiele, boomringe en die vlakke van antieke mere te ondersoek, kan ’n mens sien hoe droogtes deur die gang van die tyd op aarde gekom en gegaan het.

 

Die invloed van droogte op ’n rivierREGS: As die reën wegbly, kan breë waterweë tot yl rivierlopies verdun...

 

Foto: Virginia Department of Forestry, via NASA

Wat droogte veroorsaak

’N DROOGTE is ’n bepaalde verandering in die klimaat of gemiddelde lug- en weersgesteldheid van ’n gebied. Warm en sonnige dae, uitdrogende winde en reën wat lank wegbly, veroorsaak dat die water in die grond verdamp en dié in damme, mere, riviere en vleie opdroog.

 

Winde wat normaalweg reën bring en dan van patroon verander, kan ook droogte veroorsaak.

 

En dan natuurlik veranderings in die temperatuur van oseane.

 

Een interessante teorie is dié oor El Niño, ’n toestand in die oostelike Stille Oseaan waarvolgens warm en koue seestrome die klimaat daar verander. ’n Moontlike verband met die reënval in Suider-Afrika is dat dit hier vermoedelik meer reën as die seetemperatuur daar daal.

 

El Niño (Spaans vir Die Kind) gaan gepaard met temperatuurveranderings veroorsaak deur heersende windpatrone, en hierna volg ’n hele opeenhoping van reaksies wat daartoe sou lei dat sekere dele van die wêreld oormatig reën kry en ander droogte ly.

 

Die verandering in die temperatuur van seestrome langs die Suid-Afrikaanse kus speel ook ’n rol in ons land se weerpatrone. Navorsers ondersoek die omvang daarvan.

 

Droogtes word voorts aan sonvlekke gewyt. Dié is vermoedelik koeler gebiede op die son, wat net donker lyk teenoor die omringende oppervlak, wat etlike duisende grade warmer kan wees (net soos die plaat op ’n stoof donkerder is waar die pan staan, maar rooiwarm elders).

 

Die ongelyke verwarming wat hulle op die aarde veroorsaak, word gereken, beïnvloed die weer.

 

Benewens natuurlike oorsake kan die mens se misbruik van grond en woude tot droogtes lei. Oorbeweiding en onoordeelkundige ontbossing laat water wegspoel wat andersins in die grond sou ingesink het. Die oop grond word verder blootgestel aan die wind en weer, sodat gebiede wat eens groen was, in barre dorslande verander.

 

’n Baie groot deel van Noordwes-Indië, eenmaal die tuiste van een van die vroegste florerende beskawings, het byvoorbeeld meer as drieduisend jaar gelede ’n mensgemaakte woestyn geword weens oorbeweiding.

 

  
’n Kunstenaarsvoorstelling van ’n werwelwind op die kurkdroë Mars

BO: Droogtes op die planeet Aarde is skrikwekkend genoeg, maar die hele planeet Mars is vandag een aaklige, dorre woestyn (hoewel geleerdes reken dat Mars in die verlede lopende water moet gehad het). Hier is ’n kunstenaarsvoorstelling van ’n werwelwind op die Rooi Planeet.

Konsep deur kunstenaar Nilton Renno / NASA
   

  

Droogtebeheer

OOR natuurlike droogtes het die mens vanselfsprekend geen beheer nie. Nogtans is daar baie wat hy kan doen om water te bewaar en dit van oorde van oorvloed na plekke van skaarste te versprei.

 

Damme kan gebou word om water op te gaar, en pype kan gelê en kanale gegrawe word om droë streke te besproei. Met behoorlike landboumetodes soos kontoerploeëry, die rotasie van gewasse en wisselweiding kan die grond beskut en teen uitdroging beskerm word.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad