|

Soeklig
op ’n ‘atletiese’ klein bloedsuier...
’n Vlooi
is ’n ding wat byt!
Ken jy die ou moppie wat die vlooi se bloedlus
besing soos in die opskrif hierbo? Hoe ook al, die vlooi
is darem baie meer as net ’n byter. As hy
byvoorbeeld so groot was soos ’n mens, en aan die Olimpiese Spele sou kon
deelneem, sou hy die mees ongehoorde rekords kon opstel—iets soos
150 meter in die verspring en 90 meter in die hoogspring.
Geen ander lewende wese sou die vlooi mos ooit in der
ewigheid kon troef nie!
FOTO BO:
’n Skandeer-elektronmikrografiese foto van ’n vlooi.
Foto:
CDC / Janice Carr
|
HIER
krap-krap, daar krap-krap, in die donker Middeleeue het dit maar
krapperig gegaan. Die rede was dat die mense destyds nie juis baie
sindelik was nie en dat die wêreld vergewe was van die vlooie.
|
|
’n
Laat-Middeleeuse skildery van ’n vrou wat by
kerslig besig is om haar vlooibyte te krap.
|
Wat hulle duidelik nie
besef het, is dat vlooie die verwekkers was van die gevreesde builepes.
Die vlooie het op rotte geteer en dan na mense oorgespring om die
"Swart Dood" te veroorsaak, waaraan miljoene mense in Europa
en die Ooste beswyk het.
Ons is baie, baie gelukkig dat
vlooie in die moderne samelewing nie eintlik meer ’n faktor is nie. Al
waarmee ons nog af en toe te kampe het, is die klompie verdwaaldes wat
van ons honde en katte afspring en, by gebrek aan hul gunsteling-bloed, ’n
mens sal bydam.
Daar is natuurlik talle verskillende soorte vlooie—elk met dié of
daardie besonderse voorkeur vir ’n sekere soort wese se bloed. Só kry
ons mensvlooie, hondvlooie, katvlooie, rotvlooie, konynvlooie en nog ’n
duisternis ander tipes. Hulle krioel ook op voëls, selfs op pikkewyne,
maar nie op see-soogdiere soos walvisse en dolfyne en, vreemd genoeg,
ook glad nie op skape nie. Ons kan tereg wonder watter soort
vlooiverskrikker daar dan op skape se wolvagte is wat dié insekte so
met weersin vervul.

BO: Mensvlooie (Pulex
irritans), ’n wyfie links en ’n mannetjie regs.
Krediet:
Illustrasie gegrond op ’n ou swart-wit tekening, wat weens
ouderdom tot openbare besit gereken word (“Public Domain
Old”)

REGS: ’n Katvlooi (Ctenocephalides felis).
Foto: Andy Brookes,
wat dit tot openbare besit verklaar
het (“released into the Public Domain”)
Verder sou ’n mens ook kan dink dat ’n rotvlooi altyd op ’n rot leef,
’n katvlooi op ’n kat en ’n hondvlooi op ’n hond. Tog gebeur dit nie altyd
so nie. Die meeste vlooie kan hul gewone draers verlaat en desnoods van
die bloed van ander soorte diere lewe. Mensvlooie kan byvoorbeeld goed
regkom op varke en konynvlooie selfs op wolwe.
Een uitsondering is die vlooi van ’n swaeltjie wat geen
ander dier, ook nie ’n mens, se bloed kan verdra nie. In ’n wetenskaplike eksperiment is
’n uitgehongerde swaeltjie-vlooi
op ’n mens se arm geplaas. Hy het gretig begin suig, maar
byna onmiddellik weer opgehou. Die vlooi kon om die dood nie
mensbloed drink nie.
Maar hoe weet ’n vlooi dan op watter soort gasheer hy hom
bevind? In sy sensitiewe toerusting, wat hom dadelik die
geringste verskille in geluid, lig, reuk, trillings,
warmte, lugstrome en ander onbekende faktore laat bespeur,
het die insek werklik ’n uitstekende gids. Boonop
onderskei hy tussen die chemiese komponente van
verskillende soorte asems.
En sodra hy besluit het om sy bloedlus op, sê maar, jou
kuit te bevredig, staan hy ferm deur met sy kloue vas te
skop en stel hy sy dun, naaldagtige stiletdril in aksie.
Hierdie suigmond het aan sy buitekant klein na agter
gerigte tandjies, waarmee die vlooi die oppervlak van jou
vel onbeskaamd stukkend draai. Daarna lig hy sy
agterlyf op en dryf hy sy skerp stilette in die wond in
totdat dit ’n klein bloedvaatjie bereik. Die saagtand-suigmond
word op en af gewikkel sodat die tandjies die opening wyd
genoeg kan maak.
Vervolgens spuit hy in die wond ’n bietjie speeksel, wat ’n stof bevat wat keer dat jou bloed stol. Dis juis
hierdie speeksel wat die wond so laat jeuk en brand,
dikwels ongelukkig eers nadat die vlooi hom trommeldik
gefuif het.
Die bloed word ’n hele ruk lank rustig in ’n kanaaltjie
in sy suigmond opgesuig voordat die ongewenste kalant in
salige voldaanheid na ’n veilige kombers, mat of private
hoekie verkas—en jy begin om jouself te krap soos ’n bobbejaan met die jolliejeuk!
OMDAT DIE vlooi die grootste deel van sy aktiewe lewe
ál
kruipende deur woude van mensehare, dierpels of voëlvere
moet deurbring, is sy gesegmenteerde liggaam ter wille
van beweeglikheid heelwat hoër as wat dit breed is—so
asof hy van weerskante platgedruk is.
En praat van atleties! Met sy spronge sou die vlooi enige
wêreldrekord in hoog- en verspring aan skerwe laat spat
het as hy so groot soos ’n mens was. Daar is al selfs
bereken dat hy dan met dieselfde springvaardigheid meer
as 150 meter ver en 90 meter hoog sou gespring het.
Maar hoe spring ’n vlooi eintlik? Dis alles danksy ’n rubberagtige balletjie in die heupgewrig van die
agterpote. Die vlooi gebruik groot spiere om die
balletjie op te wen. ’n Snellerspier word getrek en—zip!—die opgegaarde energie word deur die pote
uitgewip.
Só ’n sprong sou werklik gevaarlik kon wees. Die stuwing
wat ondervind word, is immers honderd keer die
swaartekrag van die aarde, meer as in ’n vuurpyl op pad
maan toe. Gelukkig vir die vlooi werk sy buitenste dop
soos ’n drukpak.
VLOOIE ondergaan
’n volledige metamorfose. Die roomwit
eiertjies word in stowwerige plekke gelê en broei ná
drie tot tien dae uit. Die wurmagtige, blinde larwes het
bytende monddele, maar nogtans byt hulle nooit nie.
In hul skynbaar troostelose bestaan ploeter die larwes
oogloos rond en vreet enige afval-materiaal van plante of
diere, soos droë stukkies vel, rofies of droë bloed in
die neste of woonplekke van hul gashere. As hulle gesteur
word, rol hulle hulle op in ’n spiraal.
Nadat ’n larwe twee keer vervel het, is hy volgroei en
kwyl hy vir homself ’n syagtige draad. Hy buig hom in ’n U-vorm, spin
’n sykokon rondom hom en bly in sy omhulsel
vir sy papiestadium.
Maar sy uiteindelike ontsnapping uit die kokon kan nog ’n hele ruk in die toekoms lê. Die natuur sorg naamlik dat
hy nie uitkom voordat daar ’n goeie kans is dat ’n lewende gasheer in die nabyheid is nie. Die vlooi het
’n ingeboude meganisme wat hom aan die slaap hou totdat
trillings hom tot aksie laat oorgaan.
Vibrasies soos voetstappe of harde geluide laat hom uit
sy kokon kruip. As ’n met vlooie besmette huis lank leeg
gestaan het, prikkel die gewerskaf van nuwe intrekkers
die vlooie om te voorskyn te kom en die nuwe gashere te
''verwelkom''.
Vlooie kan tot vier maande sonder kos (bloed) bly, maar
die wyfie moet eers bloed suig voordat sy eiers kan lê.
Hulle kan tot agttien maande lank leef.
ONDANKS vlooie se slegte reputasie—wat hulle natuurlik
verdien—het mense ook al pret met hulle gehad.
Vlooisirkusse het vroeër mense verstom wat kom kyk het
hoe vlooie allerhande toertjies doen soos om met
swaardjies te veg, te dans en karretjies te trek.
Dit was natuurlik alles ’n illusie. Vlooimeesters het
bloot klein draad-harnassies om hul lyfies vasgemaak en
hul wanhopige pogings om te ontsnap gebruik om die indruk
te wek dat hulle slim truuks verrig.
Van "slimmigheid" kan daar op stuk van sake geen sprake by enige
insek wees nie. Slimmigheid is die prerogatief van die mens wat weet hoe
om skadelike insekte op hul herrie te gee en, sodra hy darem ’n redelik
staat van ontwikkeling bereik, nie meer maklik sal toelaat dat hy deur ’n
vlooi in die kooi gesit word nie.
Daar is immers vandag baie
middels wat die vlooi kan looi. Die slegte nuus is dat daar steeds
honderde soorte vlooie regdeur die wêreld is wat hul eiers aan die
rande van tapyte kan deponeer, of tussen vloerplanke, die voue van
gordyne, op ashope en allerhande ander plekke wat veiligheid en genoeg
voeding vir hul larwes kan verskaf.
Niemand kan dus nog sê hy
val nooit die vlooi ten prooi nie!
|