Verkoop al
daardie orige
wit olifante
in jou huis—kenner deel sy beproefde
wenke met alle Mieliestronk-lesers Maak só rande uit jou rommel! LEO KRITZINGER, skrywer van bekende boeke met allerhande wenke vir selfdoeners, gee spesiale raad aan almal wat wil weet hoe hulle lekker geld kan maak met vlooimarkte en garage-verkopings... |
|
Vlooimark- voorbereidings AS jy opgeskeep sit met ’n klomp onnodige dinge in jou huis—ou kombuisware, boeke, ornamente, juwele, langspeelplate, noem maar op—is dit dalk tyd om te dink aan ’n tafel by ’n vlooimark. Wat vir jou onbruikbaar geword het, is vir ’n ander net die ding wat hy soek—en boonop kan dit rande in jou sak beteken!
Hier is ’n paar wenke om jou vlooimarkdag glad te laat verloop:
1. Merk al die artikels vooraf. Kopers
haat dit om gedurig navraag oor pryse te doen. Gebruik
vetkryt of skryf met ’n viltpen op maskeerband.
2. As jy wonder wat om vir ’n item
te vra, vra jouself af wat jy bereid sal wees om daarvoor te
betaal. Maar wees nietemin bereid om te onderhandel met voornemende
kopers—die gekibbel oor pryse is deel van die vlooimark-kultuur.
3. Sorg dat jy vroegoggend opdaag en
jou staanplek inrig. As die eerste kopers kom, moet jy gereed wees om
hulle te bedien. Dan is daar nie tyd vir uitpak nie.
4. Moenie alleen gaan nie. Neem iemand
saam—jou vrou, kind of ’n vriend. As jy wil wegglip toilet toe,
kos gaan koop of self ’n draai deur die mark wil loop, dan het
jy iemand wat die tafel kan beman.
5. Maak of koop vir jou ’n opvoutafel.
’n Ou binnedeur en twee opvou-bokkies is voldoende . Sommige
vlooimarkte laat nie toe dat jy jou ware op die grond of op ’n seiltjie uitstal
nie en vereis ook dat jou tafel heetemal met
’n doek bedek word .
6. Neem opvoustoele saam—dit kan ’n
lang dag wees as jy heeltyd op jou voete moet staan.
7. Neem ’n sonhoed of sambreel saam—ná
’n paar uur in die bakkende son gaan dit voel asof jou brein kook!
Sommige vlooimarkte dring aan op skadunet-gazebos, en laat nie strand-
of sonsambrele toe nie.
8. Neem genoeg kleingeld saam.
As kopers groot note aan jou oorhandig, is daar nie
dan tyd om vir kleingeld rond te skarrel nie.
9. Hou jou geld veilig aan jou lyf met ’n
moonbag wat om jou middellyf vasmaak.
10. Onthou om ou inkopiesakke saam te
neem, asook ou koerante om breekware in toe te draai.
11.Groepeer items wat saam hoort—boeke in een hoop, ornamente bymekaar, ens. Maak dit vir die koper
maklik om te vind wat hy of sy soek.
12. Wees bedag daarop dat daar maar
altyd mense met lang vingers is. Hou die ware op jou tafel
goed dop.
13. Onthou ook dat baie munispaliteite
die verkoop van gebruikte klerasie om gesondheidsredes verbied—vind eers uit wat die situasie in jou omgewing is.
14. As jy kraggereedskap of elektriese
toebehore (wat nog werk) wil verkoop, gee die koper ’n kaartjie met
jou naam en telefoonnommer as gemoedsrus. Wees bereid om sy geld terug
te gee indien die apparaat nie werk nie.
15. Sorg dat die items wat jy verkoop,
skoon en sindelik is. ’n Halfverslete motorband wat netjies skoongemaak is,
sal jou meer in die sak bring as ’n besmeerde een.
16. Die
belangrikste is—geniet die uitstappie. Handeldryf op ’n vlooimark
is groot pret, en jy ontmoet ook interessante mense daar. Dis ’n
heerlike manier om ’n Saterdagoggend deur te bring—en bowenal
kom jy met ’n nuttige klompie ekstra rand in jou sak huis toe!
|
|