Vrugte van die
trope

Tropiese vrugte

BO: Verskillende soorte tropiese vrugte.

FotoL Peggy Greb / ARS /  U.S. Department of Agriculture

Van al die streke op aarde is die trope se plantegroei die weligste. Hier reën dit immers oorvloedig en is dit regdeur die jaar warm. Dit spreek dus vanself dat talle soorte eetbare vrugte uit die tropiese gebiede kom. Tropiese vrugte is onder meer die bekende piesang, pynappel en papaja, maar baie soorte aard ook goed in die subtropiese streke. Hieronder word meer van dié smaaklike vrugte vertel...

 




Wat is ’n vrug?

 

B

AIE plante plant voort deur middel van saad—wat ontkiem en presies dieselfde plantsoort as die ouerplante voortbring. Maar plante kan nie rondbeweeg om hul saad te versprei nie. Pleks daarvan produseer hulle vrugte.

’n Vrug is die volgroeide vroulike deel of dele van ’n blom—die vrugbeginsel. Die doel van die vrug is om die saad of sade daarin te beskerm en om te help dat dit versprei word. Die mens, en baie soorte diere, is nie verniet so lief vir vrugte nie. Omdat vrugte so lekker is, word hul saad wyd en syd verstrooi, wat telkens die oorlewing van dié bepaalde plant beteken.

Dit is interessant dat ons woord “vrug” ontleen is aan die Latynse woord fructus. Dié hou blykbaar verband met die Latynse fruere, wat “geniet” beteken.

 




 

Piesangs

PIESANGS (genus Musa) kom oorspronklik uit Indië, maar word nou in tropiese lande elders in Asië, asook in tropiese Afrika en Suid- en Sentraal-Amerika gekweek. Brasilië, Uganda, Indië en die Filippyne is toonaangewende piesangprodusente. In Suid-Afrika word die vrug kommersieel verbou in KwaZulu-Natal, wat eintlik ’n subtropiese streek is.

 

Piesangtros

LINKS BO en REGS BO: Piesangtrosse—aan die boom en groen afgesny om na die een of ander mark gestuur te word. Met verloop van tyd sal die piesangs los van die boom vergeel en ryp word.

Foto links bo:  ARS /  U.S. Department of Agriculture.
Foto regs bo:
Scott Bauer / ARS /  U.S. Department of Agriculture



Hoewel die piesangplant tot 10 m hoog kan word, het hy nie ’n houtagtige stam en takke nie. Hy is dus nie werklik ’n boom nie, maar eintlik ’n familielid van die kanna en die strelitzia.

StrelitziaREGS: Die bekende strelitzia (kraanvoëlblom)... verwant aan die piesang.

 

Foto: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture
 


Nuwe piesangplante word gekweek van suiers wat deur die moederplant gevorm word. Die ondergrondse deel van die plant staan bekend as die risoom of wortelstok. Bogronds ontwikkel die plant blare en ’n sogenaamde skyn- of pseudostam, wat eintlik ’n reeks blare is wat dig teen mekaar gerangskik is.

Wanneer die plant sowat ’n jaar oud is, stoot ’n groot blomsteel deur die middel van die skynstam aan die bokant uit. Dit kantel sywaarts namate dit ál langer word totdat die bloeiwyse uiteindelik onderstebo hang. Die blomme verander in piesangtrosse, wat boontoe draai na die son toe. Daar kan van honderd tot tweehonderd piesangs aan een steel wees.

Piesangs is ryk aan koolhidrate, wat energie verskaf, en bevat ook fosfor, kalium en die vitamiene A en C. Hulle woord meestal rou geëet, maar kan ook vir nageregte en koeke gebruik word. Hulle kan gedroog, tot meel gemaal en laat gis word om bier en asyn te maak.

 

Piesangs in ’n verpakkingaanlegREGS: Piesangs in ’n verpakkingaanleg in Honduras.

 

Foto: Rainforest Alliance / via USAID



Ons woord “piesang’’ is ontleen aan die Maleise woord “pisang’’. ’n Ander woord daarvoor is natuurlik “banana’’ wat nie, soos baie mense miskien dink, bloot die Engelse benaming is nie. Eintlik kry Afrikaans én Engels die woord uit Portugees en/of Spaans, maar oorspronklik uit Arabies. Dit hou verband met die Arabiese “banan’’, wat volgens sommige “vinger’’ beteken en volgens ander “smaaklik’’.

Daar is sowat honderd soorte piesangs, waaronder harde, groen piesangs wat meelpiesangs genoem word. Dit word in Brasilië as ’n groentesoort gekook.

 

Anders as in die soorte wat ons ken, kan daar talle harde saadjies binne-in wilde piesangs wees.

 

Piesangagtige vorms—’n beeld van die son se magneetveld, soos gegenereer deur ’n rekenaar

BO: Alles wat blink, is nie goud nie, en alles wat halfmaanvormig en geel is, is nie piesangs nie... Wat jy hier sien, is eintlik ’n beeld van die son se magneetveld, soos gegenereer deur ’n rekenaar.

 

Krediet: A. Gary et al. (NASA / MSFC), NASA




Pynappels

 

Kyk ook Mieliestronk-artikel: Pynappel—die pynlose heerlikheid
 

DIE pynappel is ’n vrug wat tot die familie Bromeliaceae behoort. Dit is een van die gewildste tropiese vrugte, met sowat 8 300 000 ton wat jaarliks regoor die wêreld gekweek word.

Hoewel dit ’n tropiese vrug is, word dit in Suid-Afrika in die Oos-Kaap en die kusstrook van KwaZulu-Natal verbou. Thailand lewer sowat ’n kwart van die wêreld se pynappels.

  
PynappelREGS:
Daar is verskillende variëteite van die pynappel (Ananas comosus). Hier is ’n gladdeblaar-tipe met welige loof bo-aan die vrugkeël. Die pynappel is ’n veelvuldige vrug, bestaande uit verskillende vruggies wat tot een versmelt het.

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture

 

 

Voortplanting van pynappels geskied deur middel van steggies, krone, suiers en opslaglote. Die pynappelplant het ’n roset skerp, swaardvormige blare wat uit die grond groei. Die groot vrug in die middel, wat op ’n kort stingel gedra word, het ’n doringagtige skilpaddop-voorkoms met ’n roset blare op die punt. Wanneer dit ryp is, het dit ’n oranjegeel kleur.

Pynpappels het oorspronklik wild gegroei in Suid- en Sentraal-Amerika. Christopher Columbus en sy manne was waarskynlik die eerste Europeërs wat dit geëet het. Die vrug is moontlik deur Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring.

Pynappels word vars geëet of in poedings, koeke en snoepgeregte gebruik. Hulle word ook ingemaak en versap. ’n Nuttige neweproduk is die vesel van die blare, wat tot tou geweef word of tot ’n kledingstof wat pina genoem word.

Interessant genoeg kry die pynappel sy naam van die dennebol, die vrugkeël van die denneboom—of pynboom soos dit ook genoem word. Die vorm en ruwe dop van die ware pynappel het die Europeërs aan die “appel’’ van die pynboom herinner, en toe gee hulle hom dieselfde naam.

 




Papajas

BO: ’n Heel papaja, met ’n deurgesnyde een daarnaas waarin die talle saadjies duidelik te sien is.

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture
 

HEERLIK, gesond en veelsydig is die vrug van die papaja, wat tot die familie Caricaceae behoort. Die plant is ’n kruidagtige boom met ’n hol, veselrige stam. Manlike en vroulike blomme word aan aparte bome gedra.

Die groot, spanspekvormige vrugte, wat in trosse bo-aan die stam groei, weeg sowat 2 kg, hoewel party meer as 7 kg kan weeg. Die vrugte is groen of geel met ’n intens rosige oranje vleis en honderde grys-swart saadjies aan die hol binnekant.

 

Papajas aan die boomREGS: Papajas aan die boom.

 

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture
 


Die wit, melkagtige sap in groen papajas bevat papaïen, ’n belangrike stof vir die vervaardiging van spysverteringsmiddels. Dit is so kragtig dat taai vleis sag word as dit ’n ruk lank in papajablare gehul word.

Papajas is inheems in Sentraal-Amerika, maar word vandag in tropiese gebiede regdeur die wêreld gekweek. Brasilië, Chili, Indonesië, Indië en Mexiko is toonaangewende produsente. In Suid-Afrika word dit in die Laeveld en in ’n mindere mate in die kusstrook van KwaZulu-Natal verbou.

Die vrugte is ryk aan die vitamiene A en C en het ’n hoë veselinhoud. Papajas smaak die lekkerste as dit ryp van die boom geëet word. Dit is smaaklik in vrugteslaai of kan by ander geregte en poedings gevoeg word.
 




Koejawels

BO: ’n Heel en ’n deurgesnyde koejawel

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture
 

’N HARDEKOEJAWEL—só praat ons van ’n eiewyse en koppige mens. En as daar iets is wat nog altyd teen die koejawel getel het, is dit sy baie en harde pitte. Van die nuwe variëteite het egter baie meer vleis en minder pitte, en suikersoet, ingelegde koejawels en koejawel-koeldranke is vandag gunstelinge in menige huis.

 

Bloeiwyse van die koejawel

Koejawels aan die boom

LINKS: Bloeiwyse van die koejawel.

BO: Koejawels aan die boom.

Foto van bloeiwyse: Scott Henderson @ USDA-NRCS PLANTS Database (“not copyrighted, but credit appreciated”)

Foto’s van vrugte aan die boom: U.S. Geological Survey
 

Die immergroen koejawelboom met sy gladde, glansende bas en hangtakke behoort tot die mirte-familie Myrtaceae. Die vrug is groen tot geel aan die buitekant, maar pienk, wit of geel binne, met daardie harde, maar eetbare pitte in die middel.

Die koejawel (of guava) kom oorspronklik uit die tropiese dele van Amerika, tussen Mexiko en Peru, maar word vandag in byna alle tropiese en subtropiese dele van die wêreld aangetref. In Suid-Afrika het die koejawel van groot ekonomiese belang geword toe dit in die Tweede Wêreldoorlog vanweë sy rykheid aan vitamien C as ’n waardevolle beskermende voedsel vir die troepe in Noord-Afrika beskou is.




Lietsjies

 

BO: Lietsjies aan die boom.

 

Foto: Barry Fitzgerald / ARS / USDA

 

LietsjiesREGS: Lietsjies (Litchi chinensis).

 

Foto: Peggy Greb / ARS / USDA

 

Lietsjies
  

IN Suid-Asië word die lietsjie al langer as 2000 jaar gekweek, dalk reeds tot 4000 jaar. Veral by die Chinese staan dit hoog aangeskrewe as ’n lekkerny en die naam is trouens Chinees. Dit is ’n Chinese gebruik om met Nuwejaar geskenke van gedroogde lietsjies te gee.

Die immergroen lietsjieboom dra groenerige blomme wat tot trosse vrugte ontwikkel. Die vrug se deursnee wissel tussen omtrent 1,5 cm en 4 cm. Dit word bedek deur ’n bas-agtige dop wat afgetrek kan word om die wit vleis met sy enkele bruin pit te ontbloot.

Lietsjies word vandag in China, Australië, Indië, Amerika en Suid-Afrika gekweek. Hulle word vars geëet of word ingemaak of gedroog.

 




 

Mango

 

BO: ’n Mango.

 

Foto: Wilhelmina Wasik / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Mango’s

DIE mango (of veselperske) word die “koning van tropiese vrugte’’ genoem.  En wanneer ’n mens een eet, weet jy presies waarom, want die lemoengeel vleis het ’n verkwikkende smaak, of jy dit nou op sy eie nuttig of as deel van ’n nagereg.

Eintlik bestaan mango’s uit talle spesies van tropiese vrugdraende plante in die familie Anacardiaceae. Die vrug ontwikkel uit trosse pienkwit bloeisels en kan rond, ovaal of niervormig wees. ’n Gladde, taai skil bedek die vleis en daar is ’n groot, plat pit in die middel. Die vleis is dikwels veselrig, hoewel baie variëteite deesdae veselloos is.

 

MangopitREGS: ’n Mangopit.

 

FOTO: Steve Hurst @ USDA-NRCS PLANTS Database (“not copyrighted, but credit appreciated”)

 

 

Die mango word beskou as die vrug wat al die langste deur die mens gekweek word. Dit is reeds 4000 jaar gelede in Indië en Maleisië verbou. Europese ontdekkersreisigers het die vrug na ander tropiese lande gebring—waar dit vandag steeds floreer. Toonaangewende produsente is onder meer Brasilië, Indië, Mexiko en die Filippyne.

Mango’s kan vars geëet of ingemaak word en kan ook vir die maak van konfyt en blatjang gebruik word. Die vrug is ryk aan die vitamiene A en C.

 

Ontkiemende mangopit

 

BO: ’n Ontkiemende mangopit.

 

Foto deur “zenryaku”, wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het ingevolge die lisensie
Attribution-Non-Commercial-Share Alike 2.0 Generic
 




Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad