|
Vuur!
Vuur is geen stoflike "ding" nie maar ’n chemiese reaksie—wat
so vinnig plaasvind dat ons die woelinge daarom heen kan sien. Nog sulke
sigbare reaksies is die opbruisings wat ’n mens in water veroorsaak
wanneer jy bruispoeiers daarin gooi. Of waar ’n skeut chloorkorrels
gou-gou die troebel swembadwater helder maak... |
|
AT
OP AARDE is vuur regtig? Dis nie vas of vloeibaar nie, en dit is ook nie
’n gas nie. Dit het geen massa nie en jy kan dit onmoontlik op ’n
skaal probeer weeg. Vuur
is nie werklik stoflik nie. En tog is dit iets. Die
mense van die antieke tyd het gedink alles tasbaars is uit net vier
dinge opgebou: vuur, lug, aarde en water. In werklikheid is daar sowat honderd "boustene" (elemente) in die heelal, maar vuur is
nie een van hulle nie. Dit
het eeue geduur voordat die mens vasgestel het wat vuur inderdaad is: die blitsige verbinding van die suurstof in die lug met die koolstof
in brandbare stowwe. (Of
so is dit in verreweg die meeste van die gevalle. Want koolstof en selfs
suurstof is nie altyd nodig vir ’n vuur nie. Die gas asetileen, ’n verbinding van waterstof en koolstof wat vir sweis gebruik word, stel
byvoorbeeld by sekere temperature lig en hitte vry selfs al is suurstof
nie teenwoordig nie. En ’n paar soorte metale kan selfs in die minder
aktiewe gas stikstof brand.)
Die
vlamme wat jy byvoorbeeld waarneem wanneer jy na die brandende steenkool
in die kaggel kyk, is gloeiende deeltjies koolstof wat van die steenkool
opstyg. ’n Vlam kan ook ’n sameflansing van rooiwarm stofdeeltjies in
die lug wees. Hulle glim wanneer hulle in verbinding kom met die warm
gasse wat in die verbrandingsproses gevorm word. Dis
terloops interessant dat die soute van verskillende metale verskillende
kenmerkende kleure aan ’n vlam gee: natrium gee geel, koper gee blou,
stronsium gee rooi en barium gee ’n groen kleur, om ’n paar te noem. Van
hierdie verskillende kleureienskappe word baie nuttig gebruik gemaak in
die vervaardiging van vuurwerk. Vuur
is dus ’n proses van snelle verbranding. Ons kry egter ook verbranding
wat so stadig plaasvind dat die hitte verstrooi word, sodat daar glad
nie ’n vlam is nie. Dit
is wat in ons liggame plaasvind. Die kos wat ons eet om aan die liggaam
energie te verskaf, word gedeeltelik "verbrand" deur die
suurstof wat deur die bloed in die longe geabsorbeer word. DIE aandeel van vuur in die
ontwikkeling van die menslike beskawing was enorm, om die minste sê.
Van die eerste gebruike van vuur was om kos gaar te maak en bosse weg te
brand vir die jag. Dit is ook gebruik in godsdienstige rituele, en die
eerste industriële aanwending was vir pottebakkery. Volgens
die Griekse godeleer het die halfgod Prometheus op ’n dag vuur op die
godeberg Olimpus gesteel en dit in ’n hol riet na die aarde gebring.
lemand het al geskryf dat Prometheus geen beter geskenk vir die mens kon
gekies het nie. Ons kan ons immers glad nie die menslike bestaan sonder
vuur voorstel nie. Dis
vandag steeds onontbeerlik in al ons nywerhede en die vervoerwese, en
daarom een van die heel beste dienaars van die mens. Maar
as dit ’n goeie dienaar is, is vuur ook ’n baie slegte baas. Dit het die
mens tot sy leed ook al baie lank gelede agtergekom. Trouens, die woord
"brand!" het een van die ontstellendste uitroepe in enige taal
geword, en onder die heel eerste brandwere waarvan ons in die
geskiedenis lees, was dié in ou Rome. Die
Romeine het eers slawe as brandbestryders gebruik, maar hulle het nie
juis gedeug nie, en later het die vigiles (wagters) gekom wat
Rome vyf eeue lank teen brande beskerm het. Seweduisend
van hierdie wagters was nodig om die stad met sy miljoen inwoners te
beskerm. Hulle moes snags deur die strate loop, elkeen met ’n emmer wat
van esparto-gras gemaak was. Daarom
het hulle die bynaam Sparteoli (die emmermanne) gekry. Wanneer ’n
brand uitgebreek het, moes hulle met die emmers water op die vuur gooi.
En
in Suid-Afrika met sy wye ruimtes is brandbestryders soms selfs
bedrywiger buite in die natuur as in die stede of dorpe. VELD- en bosbrande kan verskeie oorsake hê: weerlig, die vonke van rotse wat van berge aftuimel, maar in verreweg die meeste gevalle is die oorsaak die nalatigheid van die mens.
Partymaal stig die mens darem ook heel onbedoeld brande, soos ons stoomlokomotiewe vroeër dikwels in die veld gedoen het voor die elektrifisering van ons vernaamste spoorweë. Jan
van Riebeeck het weer eenmaal twee Saldanha-Khoi met tabak beloon omdat
hulle ’n veldbrand geblus het. En
Simon van der Stel het in 1687 ’n dekreet uitgevaardig dat enige stigter
van ’n veldbrand lelik afgeransel moet word as dit sy eerste oortreding
was. As hy ’n tweede keer só oortree, moes die brandlustige summier die
doodstraf kry. (As hierdie wet vandag nog gegeld het, het talle van ons
vleisbraaiers seker baie meer in hul pasoppens gebly!) In
Februarie 1869 was ’n bosbrand ’n nasionale ramp in Suid-Afrika.
Altesaam 480 km van die landstreek van Swellendam in die weste tot
Humansdorp in die ooste het in ligte laaie gestaan. Honderde plaashuise
is verwoes, 31 mense het omgekom en duisende stuks vee en tallose wilde
diere is dood. Ook
in die woongebiede was brande veral vroeër ’n groot gevaar in ons land.
Dit was omdat die meeste huise destyds grasdakke gehad het. In 1710 het ’n
brand Stellenbosch omtrent heeltemal in puin gelê nadat ’n grasdak
vlam gevat het. Die
brandstigter was glo iemand wat onnadenkend gerook het terwyl ’n sterk
suidooster in die Eikestad gewaai het. Binne
’n paar uur is die Stellenbosse kerk, die raadsgebou en alle woonhuise
behalwe vier tot as verbrand. Om die brandgevaar te verminder het die
goewerneur van die Ou Kaap die mense verbied om in die strate te rook. Vandag is ons rokers se tuitmonde wel in openbare geboue gesnoer, maar hulle is nog ewe vuur en vlam in die strate! |
|
|
|
|
|
Suid-Afrika...
“Land van Rook” ONDER: Nog Suid-Afrikaanse
veldbrande soos uit die ruimte gesien. Hewige brande woed op 28 Julie
2007in die oostekant van ons land toe instrumente aan boord van NASA se
Aqua-satelliet hierdie beeld vasgevang het.
Die “rookpannekoeke” van die Kalahari BO: Brand en rook in die Kalahari-woestyn in Suidelike Afrika is ’n algemene gesig vir ruimtevaarders, hoewel hierdie foto reeds meer as tien jaar gelede (Junie 1996) geneem is. Die foto is uniek omdat die rookpluime nie deur laevlakwinde weggedra word nie. Pleks daarvan styg die rook op en sprei dit egalig bokant die vuur uit—wat dit vanuit die ruimte na “rookpannekoeke” laat lyk. Party van die brande is warm genoeg om klein cumulus-wolke bo-op die rook te ondersteun (die wollerige wit wolkies in die middel van die “pannekoeke”). Foto: Earthweb / NASA
Vlieënde brandweer BO: Helikopters wat groot hoeveelhede water oor die vuur uitgiet, is ’n baie nuttige moderne hulpmiddel in die bestryding van weghol-veldbrande. Foto: Bob Nichols / USDA / ARS met grafiese alterasie deur Mieliestronk.com |
|