Herontdek
die wiel
• As jy ’n lang afstand wil meet,
soos die lengte van ’n stuk veld, gebruik jou fiets! Meet die omtrek
van die fietswiel en maak ’n duidelike merk op die velling. Stoot die
fiets oor die afstand en tel net die getal revolusies van die wiel. Maal
met die wiel se omtrek en jy het die antwoord!
Deurslaggewende
raad
• ’n Deur wat knaend in die kosyn ratel, kan geweldig irriterend wees—veral
as jy wil slaap of moet konsentreer vir daardie belangrike eksamen wat
jy môre moet aflê. Spuit ’n paar bolletjies deurskynende
silikoonverseëlaar in die hoeke van die kosyn. As die silikoon droog
is, vorm dit ’n rubberagtige kussinkie wat die deur styf op sy plek
hou.
Inkvlekke
op houtmeubels
• ’n
Inkvlek op ’n houtmeubelstuk kan verwyder word deur die kol met ’n
stuk watte te bedek wat in water geweek is. Die ink sal in die watte
intrek.
Slordige
sole
• Maak
die wit rubbersole van jou drafskoene mooi skoon met ’n tandeborsel
en tandepasta. Wit Handy Andy is ook ideaal.
Optelgoed
• As
jy kopspelde of klein spykertjies met ’n magneet wil optel, druk die
magneet eers in ’n plastieksakkie. Tel die voorwerpies op en dop dan
net die sakkie om.
Red
jou rug
• As
jy ’n swaar voorwerp in ’n kruiwa wil karwei—soos ’n sak sement
of ’n groot klip—is dit altyd ’n gesukkel en gesteun om dit in die
kruiwa te laai. Boonop kan jy dalk jou rug in die proses beseer. Gaan só
te werk: kniel voor die kruiwa en keer hom op sy sy. Rol of stoot die
voorwerp in die bak en druk dan die kruiwa weer regop. Hou jou rug
reguit en jou knieë gebuig. Om die voorwerp af te laai, draai die
kruiwa weer op sy sy en rol die vrag af.
Gaar
of rou?
• As
rou en gekookte eiers deurmekaar geraak het, kan jy gou uitvind watter
is watter: tol die eiers in die rondte. ’n Gaar eier sal vinnig tol
terwyl ’n rou een waggel.
Knip
in ’n kits
• Gebruik
’n kombuisskêr eerder as ’n mes om pizza te sny—dis baie
makliker.
Gewigtige
raad
• Indien
jy ’n seil oor iets wil gooi om dit buite te beskerm, maar jy's bang
die seil sal wegwaai, vul 2-liter-melk-bottels met bou- of seesand en
maak dit met tou aan die seil vas—minstens een op elke hoek. Dis veral
nuttig as jy nie penne in die grond kan inkap nie—byvoorbeeld op
plaveisel.
Deksels
netjies
• Moet
jy ’n verfwerk vir Pa doen, maar is al skoon vies vir die verfblikke
waarvan die rande vol verf is? As jy ’n plastiekdeksel van ’n
koffieblik het wat op ’n verfblik pas, is die taak soveel sindeliker.
Sny ’n gat in die plastiekdeksel wat net groot genoeg is vir die kwas
om deur te pas. Nou bly die groef in die rand
silwerskoon.
Beter
in ’n boks
• As
jy ’n groterige voorwerp wil spuitverf—soos byvoorbeeld ’n stoel—is
dit gewoonlik ’n gesukkel om die oortollige sproei te beheer. Kry ’n
groot kartonboks by jou naaste meubelhandelaar—dié soort waarin stowe
of wasmasjiene verpak word. Sny die voorkant af en spuit die voorwerp
binne-in die boks. As jy klaar is, vou die boks plat en bêre dit vir
latere gebruik.
Meet
en kap
• As
jy ’n klomp spykers moet inkap wat ewe ver uitmekaar gespasieer moet
wees, is dit lastig om elke keer met ’n meetband te meet. Meet die
spasie van die kop van die hamer af en maak ’n merk met maskeerband op
die handvatsel. Nou kan jy met een stuk gereedskap meet en kap.
Frisser
fles
• Los
Oupa se valstandreiniger-pil in water op in ’n termosfles wat sleg
ruik. Wanneer jy die fles wegbêre, moenie die deksel toeskroef nie. ’n
Teelepel suiker in die fles sal dit ook vir ’n lang tyd vars hou.
Makliker
met marmelade
• Marmelade
is ’n uitstekende plaasvervanger as jy of Ma sonder sitrusskil sit vir
’n resep. Dis ook ’n perfekte glaseersel vir oondgebraaide varkboud
of hoender.
Reguit
raad vir spaghetti
• Moenie
spaghetti breek wat nie in jou pot wil pas nie. Laat dit regop in die
kookwater staan. Namate dit onder sag word, sal die spaghetti geleidelik
in die pot insak.
Water
by die wortels
• As
jy jul baie droë grasperk moet natlei, steek eers gate in die grond met
’n tuinvurk. Dit sal sorg dat die water by die wortels uitkom en nie
bo-op die grond verdamp nie. Lei altyd jul grasperk in die aand nat om
onnodige verdamping te voorkom.
Kleuters
wat krabbel
• Soek
jul gesin gedurig papier vir Kleinboet of Kleinsus om op te teken?
Probeer gerus hierdie raad. Laat ’n paar veile wit papier (A3-grootte)
by ’n drukker of skryfbehoeftewinkel lamineer. Nou kan die kleuter met
vetkryt daarop teken—en as die tekensessie verby is, kan jy dit met
bensien afvee.
Klou,
kleinding!
• En
van kleuters gepraat: klein kindertjies sal plastiekglase makliker met
hul kort vingertjies kan vashou as jy om elke glas twee rubberbandjies
span.
Blink
wat bly
• Koperstukke
sal langer blink nadat jy dit gepoleer het as jy die voorwerpe met
meubelpolitoer bedek en dit dan poets.
Is
dit vars?
• As
jy wil vasstel of ’n eier vars is of nie, plaas dit in ’n bakkie
water, ’n Vars eier sal sink—’n ou eier sal dryf.
Saag
slim
• ’n Saag sal makliker hout saag as jy ’n bietjie kerswas aan die tande
vryf. Onthou ook om jou saag se lem ná gebruik met ’n lagie
huishoudelike olie te bedek.
Skei
sonder sukkel
• As
jy ’n klomp eiergele nodig het vir ’n resep, moenie hulle een-een
probeer skei nie. Breek die eiers almal versigtig in ’n bak oop en
skep dan die gele met ’n dessertlepel uit.
Knap
kors
• As
jy ’n tert met ’n roomvulsel maak. smeer ’n dun lagie gesmelte
sjokolade op die kors voordat jy die vulsel oorgooi. Die sjokoladelagie
sal voorkom dat die die roomvulsel die kors in ’n pappery verander.
Slak-skerm
• As
jy ’n probleem met slakke tussen jou potplante het, draai ’n stuk
koperdraad om elke pot. Sodra die slak daaraan raak, kry hy ’n ligte
skok wat hom van plan sal laat verander.
Kleurbehoud
met sout
• Voorkom
dat nuwe kledingstukke se kleure vloei deur ’n eetlepel sout by die
waswater te voeg. Sout bedek die vesels en voorkom kleurvloeiing.
Verbrands!
• ’n Aangebrande pot of pan sal weer silwerskoon word as jy die aanbrandsel
vir ’n halfuur met ’n asyn-oplossing bedek.
Teël-truuks
• Hou
teëls in jou stort en badkamer langer skoon deur ’n dun lagie
Vaseline aan die teëls te smeer en hulle dan deeglik met ’n sagte lap
te poets. Die Vaseline-lagie voorkom dat seep aan die teëls kleef.
• Dis
nie nodig om spesiale gereedskap aan te skaf om ’n muurteël te sny
nie. Al wat jy nodig het, is ’n glassnyer, metaalliniaal en ’n
draadhanger. Merk die snylyn met ’n viltpen op die keramiekteël.
Plaas die metaalliniaal se rand sekuur op die snylyn en trek dan met die
glassnyer daaroor. Die glassnyer se wieletjie sal deur die glasuurlaag
dring—jy sal ’n duidelike krasgeluid hoor. Indien nie, herhaal die
snybeweging. Plaas die draadhanger op ’n stewige, plat oppervlak en
dan die teël bo-op die hanger met die glasuur-kant na bo. Die snylyn
moet presies bo-op die draad Iê. Druk met altwee hande aan albei kante
van die snylyn en die teel behoort netjies in twee te knak. Dra
oogbeskerming vir veiligheid.
Kampeer-kunsie
• As
jy gaan kampeer, gooi sout en peper in die plastiekhouertjies waarin ’n
mens film koop. Jy kan gaatjies in die deksels maak met ’n warm
breinaald.
Kragtige
kraker
• As
jy neute wil kraak, maar jy sit sonder ’n neutekraker, gebruik Pa se
skroeftang (vice grip) vir die takie. Knyp die neut in die tang
se bek en draai die skroef in die handvatsel aan.
Watersak-wenk
• Sit
julle langs die langpad met ’n oorverhitte enjin en jy het geen houer
om water mee te haal nie? Onthou dat jy water
in ’n plastiek-inkopiesak kan dra. Self ’n hol wieldop sal ook die
doel dien. Onthou net om nooit die verkoeler se prop af te skroef of
water in die stelsel te gooi voordat die enjin behoorlik afgekoel het
nie.
Red
’n eier
• ’n Gekraakte eier kan steeds gekook word as jy dit vooraf in
aluminium-foelie toedraai en ’n minuut langer kook.
Foelie
vir verfwerk
• Maak
’n verftaak sindeliker deur jou verfpan vooraf met aluminiumfoelie te
bedek. Gebruik die swaardiens-tipe as jy het. Voer die verfpan daarmee
uit deur dit teen die bodem en kante vas te druk. Sorg dat die foelie oor
die rande gaan. As jy klaar geverf het, gooi die oortollige verf af en
stroop die foelie af—jou pan is dan nog silwerskoon.
Saag
sekuur
• Dis
nie altyd maklik om ’n doodreguit snit met ’n stiksaag te maak nie—die
buigbare lem is geneig om rond te dwaal. Trek die snylyn met ’n
potlood. Plaas nou die stiksaag teen die kant van die hout en merk die
wydte van die saag se voet aan albei kante van die snylyn. Klamp twee
lengtes hout aan albei kante van die snylyn om ’n gids te vorm waarin
die voet van die saag sonder afwyking kan beweeg.
Vul
met vrugte
• ’n Koek wat in die middel gesak het, kan nog gered word deur die middel
netjies uit te sny en die holte met ingelegde vrugtejellie te vul.
Meet
reg
• Onthou
die ou beginsel as jy ’n self-doen-taak aanpak: meet twee maal, sny
een maal. Die meeste mense doen dit net mooi andersom!
Blink gebruik
• En,
les bes, het Pa jou jou eie kar belowe? As julle na ’n gebruikte motor
gaan kyk en die kilometers lyk verdag, let op die toestand van die
rathefboom-knop en die stuurwiel. As hulle blink, het die motor dalk
meer kilometers op as wat op die afstandmeter staan.
|