|
My wêreld, wat
nog!
|
||||
|
Die
dokter wat al die
En ’n termo-foto wat alles verklap van wat Oupa op die stoep gedoen het! → REGS: Mensig, wat ’n sigbaar woelige wind is dit nie op hierdie termografiese foto wat van ’n menslike windmakery geneem is! Gas uit die ingewande (links onder in rooi aangedui) word daadwerklik uit die liggaam gewerp. Die gas vertoon rooi omdat dit so pas nog by liggaamstemperatuur verkeer het en steeds warmer as die ander gasse in die lug is. Die kleure op die termogram (’n fotografiese diagram van die temperatuurwisseling) varieer van pers en blou, vir die koudste, en dan groen en geel, tot by rooi en wit, vir die warmste. Die meting van ’n windlawaai se warrelende gewoeps verleen ook ’n ander betekenis aan woorde soos gasdruk en selfs windkaart. Foto: THIERRY BERROD, MONA LISA PRODUCTION / © SCIENCE PHOTO LIBRARY
WAT
Oupa langs Ouma op die stoep gedoen het, was natuurlik glad nie so
snaaks nie. Die deursnee-volwassene in die Westerse wêreld laat waai
daagliks net so gasvry soos Oupa, en sy totale
produksie is genoeg om ’n partytjie-ballon te vul. En,
al sê wie ook wat, daar is geen verskil in die frekwensie by die twee
geslagte nie. Vroue is nietemin geneig is om ’n mindere hoeveelheid te
produseer omdat hulle van nature kleiner is. Die
goeie nuus is dat meer as 99 persent van hierdie vrystellings uit vyf
reuklose gasse bestaan. Presies wat die poega in die poe sit, was ’n
lank ope vraag. Maar een man sê hy het die antwoord. Michael
Levitt, ’n gastroënteroloog (maagdermspesialis) van die Minnesota Veterans
Administration Medical Center in Minneapolis in Amerika, het al dekades
lank sy neus in ’n saak
gesteek waarvoor die meeste mense
onverwyld die neus sal optrek.
’n
Mens kan maar sê hy is ’n besonder toegewyde kenner van alle wind-streke
wat reeds talle gissings omtrent die maag en sy gistings beëindig het. Hy’s
ook die eerste navorser wat die gasse korrek geïdentifiseer het wat
buikwinde onwelriekend maak. Nie dat dit maklik was nie. Voorheen
het navorsers vermoed dat die skuldige partye sekere verbindings soos
die sogenaamde indool en skatool was, veroorsaak deur die afbreking van
aminosure in die dermkanaal. Maar niemand wou ooit die moeite doen om
seker te maak nie. Levitt
het egter nie teruggediens nie. Om ’n reuk te evalueer is ’n
moeilike taak, met die gevolg dat hy die hulp ingeroep het van twee
mense met ’n bra ongewone vermoë. Altwee van hulle kon gasse uitken
wat swawel bevat bloot deur dit te ruik. Hulle
is gevra om die voortbrengsels van sestien gesonde mans en vroue te
besnuffel wat die vorige aand ’n stewige porsie boontjies geëet het,
genoeg om ’n ryke opgeblasenheid te verseker. Volgens Levitt het die
resultate die gas waterstofsulfied
(’n verbinding van waterstof en swawel) as die groot booswig
uitgewys, met ander swawel-gebaseerde gasse as die mindere skuldiges.
Maar indool en skatool was nêrens in die prentjie nie. Die
verslag het ook ander interessanthede bevat, soos dat daar geen bewyse
gevind is dat mans die atmosfeer onwelriekender maak as vroue nie. Wat
meer sê, daar is gevind dat die vroue in die proefneming beduidend hoër
konsentrasies waterstofsulfied vrygestel het, en altwee beoordelaars het
saamgestem oor hul groter bydrae tot die ongewenste dampkring. Navorsing
soos dié is lank nie nutteloos nie. Dit het al lewens gered. Waterstof
en metaan, twee van die vernaamste gasse wat in die ingewande vorm, is
brandbaar. In die jare tagtig het hulle ’n aantal noodlottige
ontploffings veroorsaak tydens andersins doodgewone operasies aan die
ingewande. Op
die een of ander manier het die purgasies wat gebruik is om die
ingewande skoon te kry, die produksie van waterstof en metaan verhoog,
en ’n toevallige vonkie tydens die operasie het die ontploffing
veroorsaak. Levitt en andere het sedertdien purgeermiddels ontwikkel wat die ingewande met weinig gasvorming skoonskraap. Dodelike knalle in die kolon is nou seldsaam.
Die
ene duime...
Sadie
Plant van die Warwick-universiteit het hierdie betreklik nuwe gedragspatrone
ontdek toe sy die uitwerking van selfone op die menslike gedrag
bestudeer het. Sy het oor ’n tydperk van ses maande inligting versamel
van honderde selfoongebruikers in nege stede regoor die wêreld,
waaronder Bejing, Chicago, Londen en Tokio. Die
duimgebruikers het met selfone grootgeword.
"Dit
lyk of hierdie generasie die duim as die vaardigste vinger aanvaar het.''
het Plant gesê.
In
’n proefbuis: twéé van jou CHARLIZE
THERON en ander beroemdes, pas op! Jul baie
aanhangers is dalk gretig om julle te kloon. Só reken ’n
Kaliforniese maatskappy wat al met ’n baie vreemde konsep vorendag
gekom het. Hulle het naamlik beroemdes die kans gebied om kopiereg op hul
DNS uit te neem om ongewenste duplikasie te verhinder.Die
mens is natuurlik self geen enkelvoudige wese is nie, maar ’n
versameling van miljoene der miljoene piepklein selletjies. Elkeen is in
staat om te verdeel en presiese weergawes van homself te maak, en in elk
van hulle is die hele oorgeërfde samestelling van die volledige mens
uitgestippel. Die genetiese materiaal is ’n lang string van die
molekule DNS, wat soos ’n opgedraaide
touleer lyk. Elkeen van ons se DNS (Engels: DNA)
verskil ewe veel van dié van andere as ons vingerafdrukke. En,
ten minste in teorie, is al wat iemand nodig het om ’n presiese
weergawe van hul held of heldin te maak, ’n paar lewende selle van
daardie persoon. Dié selle kan selfs op ’n drinkglas agtergelaat word
-- of op ’n ander persoon se hand ná ’n bladskuddery. "Baie mense gaan mense wil kloon wat hulle bewonder,'' het Andre Crump, voorsitter van die DNA Copyright Institute van San Francisco, gesê. Alle regsgeleerdes is egter nie so seker of dit regtens moontlik is om kopiereg op DNS uit te neem nie. Maar een ding is seker, die blote gedagte dui op ’n nuwe wêreld waarin dinge net ál vreemder en meer bisar raak...
Identiese
hoenders
Amerikaanse
maatskappye is glo reeds besig om die tegnologie te ontwikkel wat
nodig is om eenderse hoenders by die massas te kloon. Sodra
’n hoender van die regte stoffasie geteel of deur genetiese
manupulasie gegenereer is, kan tienduisende eiers, waaruit identiese
kopieë sal ontwikkel, elke uur van die produksiebane rol. Biljoene
klone kan jaarliks geproduseer word om hoenderplase te voorsien van voëls
wat almal ewe vinnig groei, dieselfde hoeveelheid vleis het en presies
dieselfde smaak. Dis
ten minste die visie van die Amerikaanse National Institute of Science
and Technology, wat ’n firma in Kalifornië en ’n ander in Noord-Carolina
’n stewige som geld gegee het om vir die navorsing te help betaal. Die
plan behels om stamselle van die ''volmaakte'' hoender in die embrio’s
van bevrugte eiers in te plant, wat dan almal die eienskappe van die
''volmaakte''
een sal hê. En wat sê die bewaringsbewustes hiervan, hulle wat reeds diep bekommerd is oor die manier waarop die mens besig is om in die natuur in te gryp? Soos een van hulle dit lakoniek gestel het: ''Sê maar net daai hoender-kloners moet hulle nie kom haantjie hou met die skepping nie..."
Pas
op, water maak jou dom! DINK jy jy’s briljant genoeg om daardie motor te wen in die TV se ``Flink Dink"-program?'' Goed, miskien is jy. Maar dan moet jy nie kort-kort senuweeagtig slukkies water vir jou droë keel neem terwyl jy die aanbieder Riaan se vrae beantwoord nie. Bloot
deur water op die verkeerde tyd te drink, kan ’n mens jou
verstandelike vermoëns belemmer, sê Britse navorsers. Peter Rogers, sielkundige, en van sy kollegas aan die Universiteit van Bristol het sestig vrywilligers gevra om aan te dui hoe dors hulle voel. Hy het toe hul reaksies getoets wanneer hulle knoppies moes druk sodra hulle op ’n skerm aangesê is om dit te doen. Die
vrywilligers het óf niks voor die toets gedrink nie óf ’n koppie
water weggeslaan wat tot 10 grade C verkil is. Mense
wat in die begin van die toets dors was en toe water gedrink het, het
tien persent beter gevaar as dié wat niks gedrink het nie. Maar die
knoppiedruk-tempo van dié wat van meet af aan nie dors was nie, het ná
’n koppie water met vyftien persent afgeneem. Die
drink van te veel water kan ’n mens se vermoë aantas om te bestuur of
intellektueel veeleisende take te verrig, sê Rogers. Asj
die hele wêreld vol water isj, wie wil dan brandewyn hê? Lentekinders . . . met
anorexia MEER
vroue wat anoreksies word, is blykbaar in die lente of vroeë somer
gebore as in die ander seisoene, berig ’n navorser in Skotland. Dié
bevinding versterk die moontlikheid dat ’n doodgewone wintertydse
infeksie, soos griep, ’n ongebore baba vatbaar kan maak vir anorexia
nervosa later in haar lewe. ''Dis
nie die volledige antwoord nie,'' sê John Eagles van die Royal
Cornhill-hospitaal in Aberdeen. Maar dit kan ’n tot dusver onherkende
oorsaak van die gevreesde dieetsiekte wees. Anorexia
word meestal beskou as ’n sielkundige afwyking wat aan die gang gesit
word deur stres in ’n gesin of deur ’n kultuur wat met slankheid
behep is. Maar nuwe getuienis dui daarop dat dit ’n biologiese
oorsprong kan hê. Eagles
se span het die gevalle bestudeer van 446 Skotse vroue wat tussen
1965 en 1997 óf met die dieetsiekte gediagnoseer is óf aan simptome
van die afwyking gely het. Hulle is vergelyk met ’n groep van 5766
vroue wat in sekere jare tussen 1950 en 1982 in dieselfde deel van
Skotland gebore is. Volgens
Eagles dui hul navorsing daarop dat die voorkoms van anorexia met die
geboorteseisoene wissel -- dat meer vroue wat in die lente of vroeë
somer gebore is, anorexia ontwikkel as die res. Dié
bevinding sluit aan by wat reeds oor skisofrene vasgestel is. Meer
skisofrene, in die Noordelike Halfrond in elk geval, vier hul verjaardae
in die eerste vier maande van die jaar as in die res van die jaar. Verskeie
studies het skisofrenie verbind met griep- of polio-virusse by die pasiënte
se ma’s in die derde kwartaal van die swangerskap -- die tyd wanneer
die brein van die fetus op sy sensitiefste is. Dit
alles versterk boonop die argument dat die eenderse geaardhede van mense
wat onder dieselfde ``sterretekens''
gebore sou wees hoegenaamd niks met die sterre uit te waai het nie, maar
eerder met die pad van die aarde om die son. Siektes,
temperatuurverskille en selfs wisselende ultravioletvlakke in die
onderskeie seisoene het dalk ’n groter invloed op fetusse as wat ooit
moontlik geag is...
Sweisdampe
verhaas DAMPE
wat ontstaan wanneer ’n mens sweis, kan die begin van Parkinson se
siekte verhaas. Parkinson se siekte is ’n chroniese
senuweesiekte wat meestal op ’n gevorderde leeftyd voorkom, maar dit
kan ook jonger mense tref. Dit word onder meer gekenmerk deur bewerasie,
verlies aan spierbeheer en traer bewegings. Brad
Racette van die Washington-universiteit in St. Louis en sy span het in
hul kliniek vyftien sweisers met Parkinson se siekte met vyftien ander
gevalle van die siekte vergelyk. Die
enigste verskil tussen die twee groepe was die gemiddelde ouderdom toe
die siekte toegeslaan het -- vyftien jaar vroeër vir sweisers. Die
boosdoener kan die metaal mangaan wees. ''Ons weet dit kan skade in die
regter-area van die brein aanrig,'' sê Racette.
Aap,
wat ben je G’N GEWONE sterfling sou so iets van die resus-apie op die foto hierby vermoed nie, maar ’n deel van hom is ’n jellievis.
Hy is ’n tyd
gelede gebore as die wêreld se eerste geneties veranderde primaat. Wetenskaplikes
by die Oregon Health Sciences University in Portland het hom geskep deur
die geen van ’n jellievis in die genetiese samestelling, of DNS, van
’n aap se kiem-sel in te las. Hulle
het die jellievis-geen gekies omdat dit onder blou lig heldergroen gloei,
wat dit makliker maak om dit in die apie se liggaam op te merk. Navorsers
hoop dat geneties veranderde primate hulle kan help om ook meer van
menslike siektes te wete te kom en om te weet hoe dit te behandel.
’n
Swak hart vir DIE
sleutelfaktor sover dit hartsiekte aangaan, is nie hoeveel jy op die
oomblik weeg nie, maar hoe jy gegroei het toe jy klein was. Trae groei
in die eerste jaar van ’n seun se lewe verhoog die risiko van
hartsiekte as ’n volwassene, volgens navorsing wat met Finse kinders
gedoen is. Dit
is lankal bekend dat babas met ’n lae geboortegewig as volwassenes
nagenoeg twee maal meer vatbaar vir hartsiekte is as swaarder babas.
Maar dit was onduidelik of ’n kind se groeitempo in die eerste jaar
ook ’n faktor is. Om
vas te stel, het David Barker van die Universiteit van Southampton en
’n span van die Nasionale Instituut vir Openbare Gesondheid in
Helsinki na die aantekeninge gekyk oor 4 630 seuns, wat tussen 1934 en
1944 in ’n Finse hospitaal gebore is en van wie 357 as volwassenes
hartsiekte ontwikkel het. Dit
lyk of swak groei in die eerste jaar ’n seun se risiko van hartsiekte
later in sy lewe verhoog, ongeag of hy by geboorte ’n bielie of ’n
graatjie was. Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |