|
Węreldbeker-toernooi van 2010: die ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika
Goud uit sokker vir ons Land van Goud!
Artikel voltooi op 2 Junie 2007 |
|
ERS het hulle geraam dit sou R21,3 duisend miljoen (miljard) wees. Nou stel die konsultasiefirma Grant Thornton dit op ’n fantastiese minstens R51,1 miljard. Só ’n berg van geld, reken hulle, gaan die Węreldbeker-sokkertoernooi van 2010 in die Suid-Afrikaanse ekonomie inpomp. Die regstreekse geldbesteding raam hulle op R30,4 miljard.
En daarmee sou sokker ons dan tot reg in die rykman-sitplekke inskop! Dis om die Engelse gesegde oor die “pound seats” so effens te vervorm.
Grant Thornton is die firma wat destyds die verslag oor die finansiële impak vir Suid-Afrika se Węreldbeker-bodkomitee opgestel het. En nou kom hulle met meer as ’n verdubbelde raming oor wat die sokkertoernooi in der waarheid finansieel vir ons kan beteken.
“ ’n Reuse-deel (van die gewysigde syfers) kom van infrastruktuur, veral vervoer-infrastruktuur,” het ’n woordvoerder van Grant Thorton aan die publikasie Business Report gesę. Die rede wat hiervoor gegee word, is dat die Suid-Afrikaanse regering nou vyf tot ses keer meer bestee as wat hulle oorspronklik vir die toernooi beplan het.
Volgens Grant Thornton is hul bevindings oor die ekonomiese impak gegrond op die veronderstelling dat:
Ramings is gebaseer op ’n verblyf van vyftien dae, omdat die meeste van die buitelandse toeriste na verwagting nie die volle maand hier sal vertoef wat die sokkertoernooi duur nie.
Op die koop toe word verwag dat sowat 100 000 nie-kaartjiehouers uit Afrika en 25 000 van oorsee ons land tydens die toernooi sal besoek, het die konsultasiemaatskappy aan Business Report gesę.
Hierdie vooruitskattings is welkome nuus vir twyfelaars wat steeds wonder of Suid-Afrika werklik die mas sal kan opkom met so ’n hipergroot aanbieding en of ons op die ou end nie straks geldelik aan die kortste ent gaan trek nie.
Maar dan moet die doemprofete ook gereeld herinner word dat die beplannings goed op dreef is. Ook dat die verantwoordelike owerhede en talle sakelui met die volste vertroue uitsien na die toernooi, wat volgens hulle massas geld in die land gaan inbring en baie duisende nuwe werkgeleenthede gaan skep.
Baie waarnemers kyk boonop verder as bloot 2010. Hulle reken naamlik dat die sokkerfees van onberekenbare waarde gaan wees om Suid-Afrika se aansien as land en sy stand as toeristebestemming te verhoog.
Soos Pieter de Bruyn, hoof van oplossings vir toerisme van Eerste Nasionale Bank, in Mei 2007 in ’n verklaring gesę het: "2010 is slegs dertig dae, maar toerismegroei strek veel verder as die eintlike okkasie. In die jare ná die sportgebeurde (wat ook die Federasiebeker in 2009 en die toer van die Britse rugby-Leeus in dieselfde jaar insluit) verwag Suid-Afrika baie terugkerende besoekers wat aanvanklik as sportondersteuners hierheen gekom het. Dit behoort die bal aan die rol te sit sover dit die toenemende gewildheid van die bestemming vir die internasionale toermark aangaan.”
Groter voordele in die lang
noodsaaklikheid om die kat IN aansluiting by die bogenoemde glo nie alle waarnemers dan ook al die fenomenale vooruitskattings wat dikwels gemaak word oor die onmiddellike waarde van sulke groot sportbyeenkomste vir ’n gasheerland nie. Trouens, vir vele lę die geweldige voordeel inderdaad eerder in die skepping van infastruktuur wat in die jare daarna benut kan word.
Dit blyk uit ’n referaat van dr. M.M. (Maléne) Campbell van die department van stedelike en streekbeplanning in die fakulteit van natuur- en landbouwetenskappe aan die Vrystaatse Universiteit. Die voorlegging is in 2007 by ’n internasionale konferensie rondom streekstudies in Lissabon, Portugal, gedoen.
Dr. Campbell haal aan uit ’n Amerikaanse bron: “Die ware ekonomiese voordele (van groot sportbyeenkomste) is tipies baie minder as die syfers waarmee promotors dit opvysel. Stede en lande kan gerus deegliker besin oor die beloftes van reklamemakers dat hulle grootliks gaan wen deur mega-sportbyeenkomste soos die Węreldbeker en Olimpiese Spele aan te bied, voordat hulle hulle verbind om aansienlike openbare middele vir so ’n byeenkoms aan te wend.”
Volgens die begrotingsrede vir 2007 van Trevor Manuel, Suid-Afrikaanse minister van finansies, gaan die nasionale regering R17,4 miljard tot 2010 se Węreldbeker-toernooi bydra. R8,4 miljard hiervan gaan bestee word aan die oprigting van vyf nuwe stadions en die opgradering van vyf bestaande stadions. Die R9 miljard sal aan die vervoer-infrastruktuur bestee word.
Die tien gasheerstede sal nog R2,6 miljard tot die koste van die stadions bydra.
Dit sal ’n welkome inspuiting beteken vir die konstruksiebedryf, wat volgens ’n berekening enkele jare gelede werk aan 5,4 persent van die land se werkkragte verskaf. Daarbenewens is bereken dat dit jaarliks 159 000 nuwe werkgeleenthede gaan skep.
Maar daar is ook die keersy van die munt. Voorbereidings vir 2010 het byvoorbeeld veroorsaak that die oprigting van ’n streekhospitaal in De Aar uitgestel is. Volgens ’n amptenaar van die departement van gesondheid moes die nasionale tesourie die begroting besnoei weens die oordrag van geld met die oog op die Węreldbeker-toernooi.
Dr. Campbell se gevolgtrekking is dat, hoewel navorsing toon dat ’n gasheerland in die geheel bevoordeel word deur vername sportbyeenkomste aan te bied, die ekonomiese en sosio-ekonomiese voordele nie daaronder begrepe is nie. Die aanbieding van vername sportbyeenkomste behels in die reël dat die gasheer tot die delging van die onkoste bydra. Of so ’n bydrae geregverdig is, hang af van die ekonomiese voordele wat in die plaaslike ekonomie gegenereer word.
Die referaat is afgesluit met die volgende stellings van dr. Campbell:
“Die hoë misdaadsyfer sal beslis ’n invloed hę op die getal toeriste wat gewillig sal wees om vir die FIFA-Węreldbeker-sokkertoernooi van 2010 na Suid-Afrika te reis. Die regering behoort dus daardie probleem dadelik aan te spreek.”
En:
“Die vraag ontstaan of genoeg plaaslike toeskouers die wedstryde sal kan bywoon as die pryse van die kaartjies te hoog vir hulle gaan wees. Die finansiële sukses van die toernooi sal van die hoeveelheid verkoopte kaartjies afhang.”
Hoe sakelui kan munt slaan uit MAAR hoe kan sakelui en entrepreneurs baat vind by 2010? Dit kan natuurlik op verskillende maniere gedoen word en net ’n paar voorbeelde is:
Daar is nog hoeveel ander voorbeelde; die moontlikhede is legio.
En presies hoe voel die Suid-Afrikaanse sakesektor oor die vooruitsigte vir 2010? Volgens hul Internasionale Sakeverslag wat die reeds genoemde konsultasiemaatskappy Grant Thornton vroeg in 2007 uitgereik het, glo driekwart van Suid-Afrikaanse firmas dat hulle op die een of ander manier munt uit die sokkertoernooi gaan slaan en doen hulle stappe om daaruit voordeel te trek. Tog klink daar sekere waarskuwings op wat firmas en entrepreneurs nie durf ignoreer nie—en wat aansluit by dr. Campbell se vermaning oor buitensporige kaartjiepryse. Verblyf- en ander toerisme-ondernemings, maan kenners, moet naamlik daarteen waak dat hulle hulle nie met die oog op 2010 uit die mark prys nie. In hierdie verband het Mariëtte du Toit-Helmbold, hoof van Kaapstad Toerisme, al volgens die koerant Die Burger gesę dis van die grootste belang dat Suid-Afrika steeds beskou moet word as ’n bekostigbare bestemming waar toeriste waarde vir geld kry. Die land kan dit nie bekostig om sy voorsprong in die mededingende węreldmark te verloor nie. En die leë stadions wat by die Węreldbeker-kriekettoernooi op die Karibiese Eilande te sien was, behoort vir almal ’n vingerwysing te wees, het me. Du Toit-Helmbold gesę. In Die Burger is voorts berig dat sy daarop gewys het dat Suid-Afrikaners baie gasvry is. Gasvryheid en vriendelikheid beteken volgens haar egter nie dat diens van gehalte gelewer word nie. Almal sal moet weet dat gehaltediens van die grootste belang is om sukses te verseker. Gevolglik sal almal in die gasvryheid- en toerismebedryf daaraan moet werk, en die toerismebedryf sal self duisende vrywilligers moet oplei om besoekers in 2010 met raad en daad by te staan. Die motorhuurbedryf sal ook opgeknap moet word, het me. Du Toit-Helmbold gesę. Dié voorsien net genoeg voertuie vir die spitsvakansietyd van Desember en Januarie. ’n Ander waarnemer het aan die Mieliestronk-webwerf gesę dit is verblydend dat soveel maatskappye en stellig ook nuwe entrepreneurs in Suid-Afrika die kans wil aangryp om die Węreldbeker-sokkertoernooi tot hul eie voordeel maar ook dié van die land as geheel te benut—deurdat hulle wil help verseker dat die stroom buitelandse besoekers agterna met net die beste herinneringe huiswaarts sal keer. “Maar ons sal moet vergeet van Afrika-tyd en sal stiptelikheid, werkdadigheid en doeltreffendheid voorop moet stel,” het hy met nadruk bygevoeg. “Op hierdie wyse alleen sal ons land van sonskyn ook vir hom ’n veel gunstiger plek in die ekonomiese son kan verwerf. Kortom, ons kan ‘Viva FIFA’ skreeu tot ons blou is, maar dit sal ons niks help as ons nie ons mooi beloftes met groot ywer in die beste en mees konkrete resultate kan omskep nie.” |
|