|
Wat die oorlog veroorsaak het
RUWELIKE
foute veroorsaak oorloë, op oorloë volg vredesverdrae en met
vredesverdrae word weer gruwelike foute gemaak. Dan begin die
oorlogvoering opnuut.
Só
was dit ook met die Tweede Węreldoorlog, wat primęr die gevolg
was van lelike misrekeninge wat aan die einde van die Eerste
Węreldoorlog gemaak is. Die verpletterdes is naamlik
selfs verder in die grond ingetrap eerder as om iets van hul
nasietrots te probeer begryp en darem ’n bietjie respek daarvoor
te toon.
Ingevolge
die Verdrag van Versailles, wat die Eerste Węreldoorlog tot ’n
einde gebring het, moes die verslane Duitsers geweldige
opofferinge maak. Duitsland moes die
provinsie Elsas-Lotharinge teruggee, wat hy in 1870 van Frankryk
verower het. Boonop moes 'n "korridor" tussen Wes-Pruise
en Oos-Pruise aan Pole gegee word, waardeur die twee Duitse
provinsies van mekaar afgesny is.
Voorts
moes 'n groot deel van die Duitse steenkool- en ystervelde in die
weste aan Frankryk en in die ooste aan Pole oorhandig word. Al
Duitsland se kolonies is ook van hom afgeneem en op die koop toe
moes die Duitsers alle skuld vir die oorlog aanvaar en daarvoor
betaal. Die oorlogskuld het, as dit na vandag se geld oorgeskakel
sou kon word, miljoene der miljoene rande beloop.
Om
alles te kroon moes Duitsland hom ontwapen—deur sy vloot aan
Engeland en Amerika te oorhandig en sy leër tot die onbeduidende
100.000 man te beperk. Hierdie leërtjie
is selfs verbied om vliegtuie, tenks en swaar kanonne te hę,
terwyl Duitsland ook geen oorlogskepe en geen duikbote kon besit
nie.
Kragtens
die vredesverdrag sou dit die begin van algemene ontwapening wees,
maar die res van Europa het tot die tande bewapen gebly. Party
lande het hulle ná die oorlog selfs op groter skaal as ooit
tevore bewapen.
Van
die begin af was daar groot ontevredenheid en teleurstelling met
die vredesverdrae in die verowerde lande, en versiende mense
elders sou dan ook groot probleme vorentoe verwag. Nie verniet
nie. Trouens, tussen 1919 en 1939 was daar meer as een ernstige
krisis in Europa weens foute wat in Versailles gemaak is.
Suid-Afrika
se bekende staatsman en veldheer genl.
J.C. Smuts, wat hierdie gevolge voorsien het, het dan
ook aanvanklik geweier om die Vredesverdrag van Versailles namens
Suid-Afrika te onderteken.
Só
het die Nazi-diktator Adolf
Hitler dan die vernedering van sy volk by Versailles
aangegryp—eintlik uitgebuit, sal baie ontleders sę—om
Duitsland tot ’n ontevrede groot moondheid te ontwikkel wat
daarop uit was om soveel moontlik terug te wen wat hy verloor het.
Die ambisieuse Hitler het egter ook sy eie agenda gehad. Om sy mag
uit te brei wou hy ook alle Duitsers in een ryk te verenig. Die
eerste groot stap in hierdie rigting was die inlywing van
Oostenryk by die Duitse Ryk in Maart 1938.
Ander
dade van aggressie deur die sogenaamde Spilmoondhede (sien later)
wat die Tweede Węreldoorlog voorafgegaan het, was Duitsland se
anneksasie van Sudetenland in September 1938 en Tsjeggo-Slowakye
in Maart 1939; Japan se verowering van Mantsjoerye (1931); Italië
se verowering van Abessinië (1935/'36); Japan se inval in China
in 1937; en Italië se verowering van Albanië (April 1939).
Maar
dit was die groot wrywingspunt—die Poolse korridor—
wat uiteindelik die Tweede Węreldoorlog laat ontbrand
het. Dit het uitgebreek nadat
Duitse leërs Pole op Vrydag 1 September 1939 binnegeruk het om
die "onreg" te herstel wat hulle in Versailles aangedoen
is. Europa was aan die brand…
Hoe
die oorlog verloop het
IE
TWEEDE WĘRELDOORLOG het van 1939 tot 1945 geduur en was die vernietigendste
oorlog wat nog ooit deur die mens gevoer is. Die strydendes was
die sogenaamde Geallieerdes, met Brittanje, Amerika, die
Sowjet-unie, China en Frankryk as leiers, teen die sogenaamde
Spilmoondhede, naamlik Duitsland, Italië en Japan.
Suid-Afrika
het hom, vanweë sy bande met Brittanje, ook by die Geallieerdes
geskaar. Benewens Brittanje, Amerika, die Sowjet-unie, China, Frankryk
en Suid-Afrika was daar nog 45 ander lande in die Geallieerde
kamp.
Belangrike
leiers van die Geallieerdes was Brittanje se Winston Churchill,
Amerika se Franklin D. Roosevelt, die Sowjet-unie se Josef Stalin,
China se Tsjiang Kai-Sjek en Frankryk se Charles de Gaulle.

BO:
Die Geallieerdes se sogenaamde Groot Drie.
Van links is Stalin,
Roosevelt en Churchill.
Foto:
US Library of Congress
By
die Spilmoondhede sou Duitsland se Adolf Hitler en Italië se
Benito Mussolini weer hul name in geskiedenisboeke verewig—ofskoon in ’n veel minder gunstige sin as verskeie van die helde
van hul teenstanders. Die oorlogstydse
leier van Japan, keiser Hirohito, was bloot 'n simboliese figuur
wat nooit laat blyk het hoe hy self voel nie. In werklikheid was
hy teen die oorlog gekant. Die destydse premier, Todjo Hideki, het
'n groter sę in Japan se oorlogsake gehad.
LINKS:
Mussolini
(links) en Hitler van die Spilmoonhede.
Soos
gesę, was dit die Duitse inval in Pole op 1
September 1939 wat
die vonk vir die uitbreek van die Tweede Węreldoorlog verskaf
het. Op 3 September verklaar Engeland en Frankryk oorlog teen
Duitsland. Op 17 September ruk die Russe Pole binne; op 27
September gee Pole oor en twee dae later word dit tussen Rusland
en Duitsland verdeel.
Op
30 November 1939 breek oorlog tussen Rusland en Finland uit, wat
tot 12 Maart 1940 duur toe Finland aan die Russiese eise toegee.
In 1941 het Finland Duitsland gesteun in die aanval op Rusland.
In
April 1940 verower Duitsland eers Denemarke en daarna Noorweë.
Daarna kom daar lewe in die oorlog in die Weste toe Duitsland sy
offensief op 10 Mei 1940 open en Nederland op 14 Mei, België op
26 Mei en Frankryk op 22 Junie moet oorgee. In die offensief is
die Britse mag teen die kus vasgedruk by Duinkerken, waarvandaan
oor die 337 000 troepe met allerlei soorte vaartuie na Engeland
ontruim is.
Intussen
het Italië op 10 Junie 1940 aan Duitse kant tot die oorlog
toegetree.
Ná
die oorgawe van Frankryk begin die Duitse lugaanvalle op Engeland,
die sogenaamde "Slag om Brittanje", ter voorbereiding
van ’n inval. Van Augustus tot Oktober 1940 het die Duitse
lugmag die Engelse stede op ’n ongehoorde skaal gebombardeer,
maar die Britse lugmag het dit reggekry om die Duitse bomwerpers
al hoe meer in toom te hou. Die Duitse aanvalle is afgeslaan en
dit het Engeland moontlik van ondergang gered.
Toe
val Duitsland die Balkan binne waar die Grieke die aanvallende
Italianers teruggedryf het. Van 6 tot 27 April 1941 verower
Duitsland Joego-Slawië en Griekeland en neem Kreta in die
volgende maand in ondanks verbete Britse weerstand.
Op
22 Junie 1941 val Duitsland vir Rusland aan met die hulp van
Finland, Hongarye en Roemenië. Die Russe word teruggedryf tot by
Moskou en Stalingrad; die Oekraine word verower en die olievelde
van Bakoe bedreig (1941/’42). In die begin van 1943 kom hier die
keerpunt toe die Duitse leër hom by Stalingrad moet oorgee (2
Februarie 1943).
Intussen
het Japan onder leiding van sy premier Todjo
Hideki
tot die stryd toegetree deur op 7 Desember 1941 die Amerikaanse
vlootbasis Pearl Harbor te oorval. Hierdeur is die Amerikaanse
vloot in die Stille Oseaan uitgeskakel en Amerika in
die oorlog ingesleep.
Op 11 Desember verklaar ook Duitsland en Italië oorlog teen
Amerika.

BO: ’n
Toneel op die rampdag in Desember 1941 toe die Amerikaanse
vlootbasis Pearl Harbor deur die Japanners oorval is. Dit
het Amerika genoop om ook tot die oorlog toe te tree.
Foto:
U.S. National Archives and Records Administration
Daarna
maak Japan hom in die volgende ses maande meester in die Ooste
totdat sy voorgenome inval in Australië gekeer word deur die
Amerikaanse vlootoorwinning in die Koraalsee op 7 Mei 1943. Hierna
is die Japanners geleidelik teruggedryf en die Japanse vloot
grotendeels vernietig.
In
Oos-Afrika het die Italianers in 1940 die Britse gebiede aangeval.
Hierheen is Suid-Afrikaanse troepe gestuur nadat die
Unie-parlement op voorstel van genl. J.C Smuts (en teen die
voorstel van die destydse eerste minister genl. J.B.M. Hertzog) op
6 September 1939 besluit het om teen Duitsland oorlog te verklaar
en genl. Smuts in April 1940 besluit het om Unie-troepe buite die
grense van die Unie te stuur. Op 19 Augustus 1940 was
Brits-Somaliland deur die Italianers verower.
Op
5 April 1941 het Suid-Afrikaanse troepe Addis Abeba binnegegaan en
ses weke later het die Italiaanse leër onder die hertog van Aosta
hom aan genl. Dan Pienaar oorgegee. Op 13 September 1940 het die
Italiaanse aanval op Egipte begin. Hulle is deur die Engelse
teenoffensief teruggedryf.
In
Februarie 1941 gryp die Duitsers onder genl. Erwin Rommel in en
die Engelse word teruggedruk. In Julie 1941 stuur genl. Smuts die
1ste en 2de SA divisie na Egipte om hulp te bied aan die
terugvallende Engelse onder Wavell. Op 23 November 1941 ly die SA
leër sy eerste ernstige verliese by Sidi Rezegh in 'n poging om
deur te dring na Tobruk. Die stryd het heen en weer beweeg.
In
die laaste groot opmars van die Duitsers is die hele
Suid-Afrikaanse 2de divisie, sowat 13 000 man, saam met ongeveer
17 000 ander troepe by Tobruk krygsgevangenes gemaak. Die keerpunt
het gekom toe die Engelse generaal Bernard Montgomery vir Rommel
by El Alamein beslissend verslaan het (23 Oktober - 2 November
1942). In Mei 1943 is die Duitsers en Italianers in Noord-Afrika
tot oorgawe gedwing.
Die
SA landmagte is toe omgeskep in die Sesde Gepantserde Divisie
onder genl. Evered Pople. Hierdie divisie het deelgeneem aan die
inval in Italië, wat begin het op 3 September 1943 nadat die
regering van Mussolini reeds op 25 Julie geval het en Mussolini
gearresteer is.
Op
8 September gee Italië hom onvoorwaardelik oor. Op 13 Oktober
verklaar Italië oorlog teen Duitsland, sy gewese bondgenoot in
die oorlog. Die Duitsers sit wel die stryd in Italië voort, maar
word stadig teruggedryf. In September 1944 verower SA troepe
Florence, maar die Duitse leër het hom eers op 29 April 1945 in
Italië oorgegee.
Intussen
is die Duitse lugaanvalle op Engeland afgeslaan en het die
Engelse en Amerikaners ter see oppermagtig geword nadat Engelse
skeepverliese deur duikbootaanvalle in 1942 ’n hoogtepunt bereik
en daarna afgeneem het namate daar meer oorlogsbote beskikbaar
geword het vir begeleiding van handelsvaartuie in konvooie.
Uit
Engeland is al hoe groter aanvalle met bomwerpers teen Duitsland
geloods.
Op 6 Junie 1944 land Britse en Amerikaanse troepe onder die
Amerikaners se genl. Dwight D. Eisenhower in Normandië. Teen die
einde van Julie was die Duitse weerstand daar gebreek. (Lees
D-DAG: Die inval
in Normandië in Mieliestronk se
Laslappie-afdeling.)
In
Augustus/September is Frankryk en België bevry. Die groot riviere
het die opmars vertraag, maar in Februarie 1945 het die
Geallieerdes die Ryn bereik. In die volgende drie maande het die
Britte, die Amerikaners en die Franse Wes- en Suid-Duitsland
verower.
Die
Russe het intussen, sedert die keerpunt by Stalingrad, die
Duitsers teruggedruk. Op 12 Januarie 1945 het die laaste groot
Russiese offensief begin wat hulle in April 1945 by Berlyn gebring
het. Aan die einde van die maand is Berlyn verower.
Op
30 April 1945 pleeg Duitsland se Nazi-diktator Adolf Hitler selfmoord,
terwyl Benito Mussolini, die diktator van die Fascistiese Italië,
reeds in April deur Italiaanse partisane vermoor was. Daar het nou
’n einde gekom aan alle georganiseerde Duitse weerstand, en op 7
Mei het die Duitse strydmagte hulle onvoorwaardelik oorgegee.
In
die Ooste het Japan die stryd voortgesit, hoewel hy so ver
teruggedryf was dat die Geallieerdes deur die verowering van
Iwo-Jima in Februarie/Maart 1945 en van Okinawa in April/Junie
1945 die nodige basisse gehad het vir ’n aanslag op Japan self.
Die
einde het egter skielik en dramaties gekom. Op 6 Augustus 1945 is
’n atoombom op Hirosjima afgegooi en ’n tweede op Nagasaki op
9 Augustus. Op 14 Augustus het keiser Hirohito die Geallieerde
voorwaardes aanvaar en op 2 September 1945 is die formele oorgawe
van Japan onderteken.
REGS:
Die paddastoelwolk van die atoombom op Nagasaki. Dit het
nagenoeg agttien kilometer bokant die knalpunt in die lug
uitgegolf.
Foto: U.S.
National Archives and Records Administration
Die
Tweede Węreldoorlog het aanmerklik van die Eerste Węreldoorlog
verskil. Anders as in die laasgenoemde was troepebewings vinnig en
met mindere vertragings. Daar was wel tydperke van stagnasie,
veral in Italië, maar niks kon vergelyk word met
dooiepunt-situasie van loopgraaf-oorlogvoering
oor vier moordende jare van 1914 tot 1918 nie.
Byna
400 000 Suid-Afrikaanse soldate was betrokke by die Tweede
Węreldoorlog, onder wie 123 000 swart
mense wat in nie-vegtende hoedanighede deelgeneem het. Suid-Afrika
se verliese in oorlog
was
nagenoeg 38 000 man, van wie meer as 9000 gesneuwel of in aktiewe
diens gesterf het: 6800 blankes en 2200 nie-blankes (sulke
rasse-onderskeidings is altyd gemaak selfs voordat apartheid nog
amptelik in ons land bestaan het ).
Węreldwyd
het die oorlog—só is bereken—sowat 64 miljoen lewens geëis
(nagenoeg 24 miljoen soldate en 40 miljoen burgerlikes). Die skade
aan eiendomme en infrastrukture was onnoembaar groot, om nie eens
van die sielkundige letsels op die ganse mensegeslag te praat nie.
Hoofbron vir verloop van
die oorlog: Die Afrikaanse Kernensiklopedie onder redaksie van
J.P. Scannell; Nasboek. |