|
Op ’n windplaas… die windmakerige kragopwekkers wat laat wiel dat hulle blou word Windties aan die werk
|
|||||||||
ELFS ’n halfeeu of wat gelede al was hulle glad nie iets ongewoons in Suid-Afrika nie—die sogenaamde windlaaiers waarmee party mense die wind ingespan het om “pap” batterye te laai. Mense
op afgeleë plekke, byvoorbeeld boere op plase, het toe reeds bedags hul
batterye gekoppel aan tollende spane wat soos ’n windpompwiel se lemme
deur
die wind aangedryf is. Saans is die gelaaide batterye weer gebruik om
die mense se huise te verlig. Dit is ook ingespan om die destydse primitiewe buislamp-radio’s
te laat werk.
Sedertdien is nog meer sulke windlaaiers op verskillende plekke op die Suid-Afrikaanse platteland gebruik, ook in die agtergeblewe gemeenskappe. Dog dit was meestal maar eintlik op heel ’n beperkte skaal. Nou lyk dit egter of hierdie soort kragopwekking plaaslik—om die uitdrukking te gebruik—sy tweede wind gekry het. En hierdie slag is dit nie sommer net huishoudelike stofskoppertjies wat ter sprake is nie, maar stewige knewels van windkragopwekkers wat selfs stede van elektrisiteit kan voorsien. Anders gestel: Suid-Afrika het pas die era van grootskeepse “windgemaakte” elektrisiteit begin betree. Maar wat beteken dit alles? Hoekom windkrag deur baie mense verkies word en waarom SA dit nodig het DIE
GEBRUIKMAKING van wind vir kragopwekking wen om goeie redes vandag vinnig
veld in ’n besoedelde wêreld waarin “skoon” energie al hoe
noodsaakliker word. Met “skoon” energie word elektrisiteit
bedoel wat opgewek word met natuurlike middele wat glad nie die omgewing
besoedel nie. Kragsentrales wat fossielbrandstowwe—steenkool en olie—verbruik, pomp enorme hoeveelhede besoedelende stowwe in die lug in. Wat meer sê, selfs kernkragsentrales soos ons eie Koeberg het te kampe met die probleem van radioaktiewe afvalstowwe. Maar
windkrag en waterkrag (wat by hidroëlektriese
sentrales opgewek word) is silwerskoon.
Elektrisiteit kan te alle tye sonder enige besoedelende afvalprodukte
gegenereer word solank daar maar net genoeg vloeiende water is, of winde wat
nie te ongereeld waai nie. Daar
word hoeka gereken dat die vraag na elektrisiteit in Suid-Afrika in 2007
die bestaande toevoer kan oorskry. En ’n ander onrusbarende aspek van
ons kragleweringsdilemma is dat die grootste deel van die plaaslike
ekonomie tans op die verbranding van lugbesoedelende laegraadse steenkool gebou
is. Daarteenoor is daar genoeg winderige streke
op die uitgestrekte vlaktes van Suid-Afrika wat skoon windkrag hier uiteindelik
baie lonend kan maak. Deur dus groepe reusagtige “windlaaiers” saam op sogenaamde windplase staan te maak, kan ’n waardevolle bydrae gelewer word om nie net aan ons land se toenemende elektrisiteitsbehoeftes te help voldoen nie, maar ook ’n netjiese slag te slaan in die stryd teen omgewingsbesoedeling. ’n Ambisieuse begin—ons eerste kommersiële windplaas naby Darling in die Wes-Kaap
Die
windplaas is op die plaas Windhoek in die distrik Darling in die Wes-Kaap,
in die verre suidelike deel van die vasteland van Afrika, ’n landstreek
wat reeds eeue gelede by die vroegste Europese seevaarders bekend was om
sy besonder sterk winde. Trouens, aan die Weskus waai die wind teen gemiddeld meer as 7,5 meter per sekonde. Waar die Darlingse windplaas besig is om tot stand te kom, is die gemiddelde windsnelheid selfs vinniger, naamlik 8,5 meter per sekonde. Vier
50 meter hoë Deens-ontwerpte windturbines met ’n lem-span van 31 meter
en ’n gesamentlike afvoer van 5,2 megawatt moet hier verrys, deels met
die geldelike steun van die Deense regering se hulpagentskap Danida. Nog
ses windturbines moet in die tweede fase volg.
Die
windplaas-projek, 12 km noordwes
van die dorpie
Darling en 75 km noord van Kaapstad, word
deur die Darling Independent Power Producer (Darlipp) bedryf. Naby
die windturbines word ’n opleiding-
en onderrigsentrum van byna R35 miljoen
beoog om die voordele van hernieubare krag en volhoubare ontwikkeling aan
besoekers te demonstreer. ’n Ooreenkoms is met die Kaapse munisipaliteit gesluit dat Kaapstad al die krag sal koop wat Darlipp se windturbines kan verskaf. Die
Darlingse windprojek volg in die spore van die drie turbines by
Klipheuwel, naby Stellenbosch, ook in die Wes-Kaap, wat in 2002 deur die
elektrisiteitsvoorsiener Eskom opgerig is, as ’n toetsprojek vir
toekomstige windkragontwikkelings in Suid-Afrika. Die
feit dat die Wes-Kaap so sterk in die plaaslike windkrag-bedryf figureer,
is eintlik baie paslik as ’n mens daaraan dink dat dit juis aan die
heersende winde te danke was dat seilskepe destyds Europese kundigheid
hier na die suidpunt van Afrika gebring het. Kinders van die windmeul... en hoe die turbines op die windplase werk AS
’N HERNIEUBARE energiebron kom die energie wat in wind voorkom van die
son af en word goed een tot twee persent van die sonkrag wat die aarde
absorbeer in wind omgeskep. Die mense van ouds het goed geweet hoe om
hierdie wind te benut, soos met die genoemde seilskepe, maar ook met
windmeulens.
Vroeër
was windmeulens ’n algemene gesig op baie plekke in Europa, waar hulle
onontbeerlik was om graan te maal, maar selfs die Nederlandse windmeulens
is nie meer so volop nie. Die enkele ou windmeulens in die Kaap (Mostert
se meule en die een by die Alexandra-sentrum in Maitland) is deesdae ook
maar nog slegs toeriste-attraksies.
Vandag
woed die meeste winde hulle dus ongelukkig uit sonder dat eens meer
probeer word om hul waardevolle energie nuttig elders heen
Maar nou sorg die moontlikheid van uitgebreide elektrisiteitsopwekking vir ’n nuwe belangstelling in windkrag. Tans is Duitsland en Denemarke hiermee op die voorpunt in Europa, terwyl Amerika ook ’n leier op hierdie gebied is en van die grootste windplase op aarde het.
Verreweg
die meeste windturbines lyk baie soos die tradisionele ou windmeul, hoewel
daar is ook baie ander ontwerpe is. Die lemme van windturbines werk egter
baie soos die vlerke van ’n vliegtuig—met
’n soort stygkrag-meganisme—en
hulle is dus veel doeltreffender as hul windmeul-voorgangers. Die
belangrikste onderdeel van ’n windturbine is ’n rotor wat aan ’n
ratkas gekoppel is. Die
ratkas vermeerder die rotasiesnelheid sowat vyftig maal om ’n elektriese
generator aan te dryf. Omdat die wind so wisselvallig kan waai, word
sekere aanpassings wel gedoen om te verseker dat die kragtoevoer nie met
horte en stote geskied namate die windsnelheid toeneem of afneem nie. Die
ontwerp van ’n toestel wat die sterkste winde kan weerstaan, verg ook
uitmuntende ingenieursbeplanning. Windturbines
is noodwendig strukturele bielies en dus onderhewig aan verskillende groot
kragte. Geleerdes het byvoorbeeld vasgestel dat die krag wat in die wind
beskikbaar is, eweredig is aan die derde mag van die windsnelheid. Dit
beteken dat, as die wind twee keer so sterk begin waai as wat dit gewaai
het, die energie in die wind 2x2x2=8 maal vermeerder. Ingenieurs moet op
al sulke dinge let wanneer hulle windkragopwekkers ontwerp. Hulle
moet letterlik eers kyk hoe die wind waai—en goeie raad nie sommer net
in die wind slaan nie—voordat hulle besluit wátter soort opwekker hulle
wáár moet oprig om die heel beste waarde uit die lugstrome in die
spesifieke omgewing te kry!
|
|||||||||