|
IE idee van volhoubare wingerdbou—waar die omgewingsimpak beperk
word by die maak van wyn—het in die onlangse jare besonder gewild
geword.
Besware dat dit baiemaal so vaag bewoord word en aan soveel
interpretasies onderhewig is dat dit waardeloos sou wees, word
weerlê deur belangrike internasionale sowel as plaaslike inisiatiewe
wat die gedagte van volhoubaarheid in die wynlande intensief
propageer—en goed daarin slaag om die boodskap tuis te bring.
Daar is immers niks vaags aan hierdie samevatting van die definisie
van die Amerikaanse Kongres van wat volhoubare landbou is nie:
Volhoubare landbou is landboupraktyke wat ekonomies lewensvatbaar
is, die ekologie beskerm en die mens dien.
Vir volhoubare wingerdbou geld natuurlik dieselfde definisie.
In Suid-Afrika is die inisiatief deur die wynboubedryf geneem met
die bekendstelling in 1998 van ’n vrywillige skema wat op
volhoubaarheid in die bewaring van die omgewing gemik is. Die skema
staan bekend as Geïntegreerde Produksie van Wyn (Integrated
Production of Wine), afgekort as IPW. Wyn van die oesjaar 2000 was
die eerste wat ingevolge hierdie skema gesertifiseer is.
Hoewel
deelname vrywillig is, het 90 persent van ons wynuitvoerders, wat 95
persent van ons geoeste druiwe verteenwoordig, hulle reeds by die
skema aangesluit. Vyftien riglyne vir die produksie van druiwe en
dertien vir die produksie van wyn vorm die tegniese basis van IPW.
Wynkopers
word gewaarborg dat produsente wat die skema onderskryf, hul druiwe
met die volle inagneming van moontlike omgewingsimpakte verbou het
en dat die wyn op ’n verantwoordelike wyse geproduseer is deur die
omgewing te bewaar en die wyn veilig vir die verbruiker te maak.
IPW vereis dat elke plaas
’n bewaringsplan vir sy natuurgebiede (indien van toepassing) moet
hê, sowel as ’n omgewingsbestuursplan vir die bewerkte gedeeltes van
die plaas (boerdery-aktiwiteite). Dit is belangrik dat alle werkers
en inwoners op die plaas met die bepalings van die omgewingsplan
vertroud sal wees.
Foto
van wyn in ’n glas:
U.S. National Institute of Environmental
Health Sciences / Free online
Internasionaal word
volhoubaarheid ook voorgestaan deur die Internasionale Organisasie
vir Wingerd en Wyn (akroniem OIV, afgelei van sy naam in Frans,
naamlik L'Organisation Internationale de la Vigne et du Vin).
Dit is ’n tussenregeringsorganisasie wat met tegniese en
wetenskaplike aspekte rondom wingerdbou en wynmaak te doen het. Die
OIV het sy basis in Parys, Frankryk, en in 2008 het 44 lande tot die
organisasie behoort.
Maar wat beteken volhoubare wingerdbou in die praktyk? Met die
onderstaande vertelling oor die bewerkingsmetodes, besproeiing,
bemesting, ens. betree ons ’n interessante wynwêreld van leef en
laat lewe waarin elke onverskillige vandaal beslis sy
spreekwoordelike druiwe sal teëkom!

BO: Wingerde op die Meerlust-landgoed
buite Stellenbosch in die Wes-Kaap.
Detail van ’n foto
deur
F Malan,
wat dit by die Wikipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare
besit verklaar het (“released into the public domain”)
Bewerkingsmetodes
WINGERDSTOKKE
word betreklik maklik gekweek en kan baie lank aan die lewe bly. By
die Reinethuis-Museum op Graaff-Reinet is byvoorbeeld ’n reusagtige
druiwestok wat in 1870 geplant is en steeds druiwe dra. Die
verantwoordelike kommersiële wynboer se doel is egter nie net om sy
wingerde aan die lewe te hou nie, maar om op ’n volhoubare grondslag
gehaltedruiwe vir die mark te lewer en vele jare lank darem ’n
behoorlike wins daaruit te maak. Daarom is die kies van ’n geskikte
terrein die eerste en mees beslissende stap in die hele proses van
volhoubare wingerdbou.
Die makroklimaat van ’n streek is ’n belangrike faktor as dit by die
keuse van ’n terrein vir wingerdontwikkeling kom. Die voornemende
wingerdboer sal hom dus vanselfsprekend allereers laat lei deur
feite soos of sy grond in ’n gevestigde wingerdstreek geleë is of
nie. Indien nie, moet hy seker maak dat hy druiwekultivars kweek wat
die beste in sy eie omgewing sal aard. Hy sal boonop verskillende
ander faktore in aanmerking moet neem, byvoorbeeld dat erge ryp ’n
groter gevaar in die binneland is as, sê, in die Boland.
Maar die mikroklimaat is ewe belangrik, dit wil sê die klimaat in
die klein wêreldjie in en rondom die wingerd. Dit het ’n groot
invloed op die druiwestokke. Die groei kan byvoorbeeld afhang van
hoe goed die blare aan die son blootgestel is en hoe lank die plante
nat bly en vatbaar is vir siektes nadat dit gereën het.
Die terreingesteldheid is dus hier van kardinale belang. Lê die
wingerd teen ’n helling, kan grondbewerking nie net moeiliker wees
nie, maar ’n mens moet ook deeglik in ag neem in watter rigting op
die kompas die helling geleë is. Hellings wat byvoorbeeld noord wys,
ontvang meer sonlig as dié wat suid front.
Dit bring ons dan by die eintlike bewerking van die wingerd. Respek
vir die grond bly deurentyd die hoofsaak in volhoubare wingerdbou.
Dis immers die medium wat die wingerdstokke van voedingstowwe
voorsien en die druiwe hul kenmerkende geur gee, en die
verantwoordelike wynboer sal sorg dat sy grond nie so verniel word
dat dit later geslagte lank so goed as onbruikbaar is nie. Met
grondvernieling word byvoorbeeld die blindelingse toediening van
skadelike chemikalieë bedoel. Goeie grond wemel van voordelige
organismes wat deur onbesonne boederymetodes gedood kan word.
Voordat ’n mens dus jou lap aarde gereed maak vir ’n wingerd, moet
jy die grond laat ontleed om vas te stel watter voedingstowwe
(bemesting) nodig sal wees. (Ondertoe word meer oor bemesting
vertel.)
Raak ontslae van ou wingerdstompe as die grond reeds beplant is,
want sulke stompe kan dalk siekteverwekkende organismes herberg.
Trouens, jy moet alle plantwortels en onkruid verwyder voordat jy
die grond begin omspit om dit los en bewerkbaar te maak.
As jy jou stokke plant, gebruik stokke en onderstokke wat vry is van
ernstige virussiektes en geskik is vir plaaslike toestande.
Spasieer die stokke 2 tot 2,5 meter
van mekaar.
Besproei gereeld in droë toestande, maar moenie toelaat dat die
plante deurweek raak nie, want dit kan veroorsaak dat die wortels
vrot.
Die plante sal in die lente begin groei as jy hulle in die herfs
geplant het. Indien jy hulle in die lente plant, sal hulle wel ’n
sekere groei toon, maar bes moontlik sal jy ’n jaar of twee moet wag
voordat jy enige druiwe het.
In die tweede jaar word
die wingerdranke opgelei. Dit word gedoen deur hulle aan priële of
stellasies te heg in die rigting waarheen jy wil hê hulle moet
groei. Mettertyd sal jy ’n snoeiskêr nodig hê om jou wingerd se
ranke terug te sny en sodoende beter druiwe-oeste te verseker. Die
beste tyd vir wintersnoei sal van die plaaslike klimaat afhang. Die
verantwoordelike wingerdboer sal dan die gevaar van besmetting met
siektes na sy beste vermoë probeer beperk. Hy sal ook snoeiwonde
beperk om die risiko van houtvrotsiektes te verminder.
Onkruidbeheer is noodsaaklik in wingerde, omdat onkruid met
druiweplante meeding. Baie onkruiddoders is al ontwikkel wat die
wingerd sal “skoonmaak” van die grasse en onkruid wat daarin
floreer, maar werkers met skoffels sal die taak beter verrig—en op
die koop toe op ’n baie meer omgewingsvriendelike manier. ’n Sekere
mate van grondbedekking is boonop wenslik omdat dit gronderosie kan
voorkom. Werkers kan dus selektief te werk gaan met hul skoffelpikke
waar onkruiddoders die grondbedekkers voor die voet uitwis.
Intussen sal die wynboer
wat volhoubare praktyke voorstaan, hom ook deurentyd daarvoor bewyer
om sy grond in die goeie kondisie te hou wat dit was toe hy sy
druiwe geplant het. Sy instandhouding van die grond om die optimale
toestande vir goeie wingerdgroei te verseker, behels dat hy
maatreëls sal tref teen erosie en grondkompaktering, asook dat hy
sal keer dat belangrike voedingstowwe daaruit wegspoel.
Die grond kan onder meer
beskerm word deur die maak van terrasse en die toediening van ’n
deklaag van blare, strooi, kompos of iets dergeliks. Let egter
daarop dat organiese bobemesting slegs moet dien om duidelik
waarneembare gevestigde tekorte of verwagte tekorte te behandel.
Die
bestryding van plae in die wingerd moet met groot omsigtigheid
gedoen word. Hier kan die geval genoem word waar skimmel so ’n
probleem in ’n wingerd geword het, dat die werkers dit elke vyfde
dag met kopersulfaat bespuit het. Tog het hulle steeds die helfte
van die oes verloor.
Koper word in organiese en biodinamiese wingerdbou toegelaat omdat
dit “elementêr” is en wingerdstokke dit in baie, baie klein
hoeveelhede nodig het. Maar dit breek nie af wanneer dit in die
grond is nie en te veel daarvan kan uiteindelik wingerdgroei
belemmer.
Dit sluit aan by een Italiaanse verslag waaroor ernstige kommer oor
die verwording van die grond in wyngebiede uitgespreek word:
“Ongelukkig is daar tans
ernstige probleme met baie van die grond selfs in beroemde
(wyn-)streke weens die misbruik daaarvan, en die behoud van die
grond se vermoë is in ernstige gevaar. Nog ’n bron van kommer is die
akkumulasie van vreemde molekules, veral koper en ander swaar
metale. Ons sal spoedig oplossings moet vind wat meer aanpasbaar is
by volhoubare produksie en ’n langdurige leweringsvermoë van die
grond.”
Besproeiing
IN
’n publikasie waarin die Internasionale Organisasie vir Wingerd en
Wyn (OIV) riglyne vir volhoubare wingerdbou verskaf, kom besproeiing
ook onder die loep. Die OIV beveel onder meer aan dat die volgende
in ag geneem word (as ’n mens hul ietwat breedsprakerige
aanbevelings in die vertaling korrek interpreteer en kondenseer!):
Ø
Allereers moet alle
tegnieke toegepas word om waterverkwisting te keer.
Ø
Watertoediening moet in
die verskillende stadiums van die wingerd se ontwikkeling gegrond
wees op die produksiedoelwit (hetsy wyn, tafelduiwe of rosyntjies).
Ø
Die risiko van ’n
nadelige impak op die omgewing, veral sover dit grondversouting en
die ondergrondse water aangaan, moet vermy word ten einde volhoubare
wingerdbou te verseker.
Ø
Voorkeur moet gegee word
aan die doeltreffendste besproeiingstegnieke, soos mikro- en
drupbesproeiing, en die uitwerking daarvan op die verspreiding van
die wortelstelsel moet in ag geneem word. Kontrolering van die water
in die grond en in die wingerdstokke moet ’n prioriteit wees ten
einde te bepaal wanneer besproei moet word en hoeveel water die
wingerd moet ontvang.
Elders benadruk kenners dat drupbesproeiingstelsels in die begin van
elke seisoen nagegaan moet word om seker te maak dat daar ’n egalige
waterverspreiding is. Hulle wys ook daarop dat die waterbehoeftes
van die wingerd toeneem in die mate dat die blaaroppervlakke in die
lente en somer vergroot.
Bemesting
OOR
bemesting (voeding vir die wingerd) beveel die
OIV onder meer aan:
Ø
Waar bemesting toegedien
word, moet dit net genoeg wees om die produksie van gehaltedruiwe te
verseker, die gesondheid van die wingerd te handhaaf en ’n balans in
die grondvrugbaarheid te bewerkstellig.
Ø
Die hoeveelheid
bemesting, soos stikstoftoeding, moet waar moontlik beperk word en
veral gegrond wees op ontledings van die grond en/of plantweefsel en
waarnemings van die plante se groeikrag.
Ø
Voorkeur moet aan die
herwinning van organiese voedingstowwe gegee word.
Ø
Bemestingstowwe of
grondopknappers wat stowwe bevat wat giftig of skadelik vir die
omgewing kan wees, soos spoormetale, organiese mikro-besoedelaars of
patogeniese mikro-organismes, moet ten volle beheer word.
Ø
Bobemesting met blare
moet slegs doen word om duidelik waarneembare gevestigde tekorte of
verwagte tekorte te behandel.
Prieelbeheer en oeste
’N
ANDER aspek
wat met volhoubare wingerdbou verband hou, is prieelbeheer, met
doeltreffende belugting en verligting om te verseker dat die druiwe
gesond groei. Dit sluit natuurlik kundige snoeiwerk in, waarna reeds
verwys is.
En by die oes van die
druiwe sal die verantwoordelike wynbouer ook die beginsels van
volhoubaarheid voorop stel. Hy sal byvoorbeeld waar moontlik eerder
sy werkers gebruik om oesmasjiene skoon te maak as om potensieel
skadelike chemiese skoonmakers aan te wend.
Maar daarmee moet ’n mens
seker volstaan. Die onderwerp van volhoubare wynbou sal immers
boekdele kan vul.
Gevolgtrekking
DIE
begrip volhoubare wingerdbou is nie iets soos ’n modegril wat uit
die woordeskat kan verdwyn nie. Dit is ’n noodsaaklikheid in die
wynbedryf, soos beklemtoon word deur die feit dat die grootste gros
van Suid-Afrika se wynuitvoerders dit volmondig ondersteun.
Volhoubaar beteken implisiet dat volhard sal word—dat aangehou sal
word om die bodem te benut en dit nie uit te buit nie sodat die
geslagte van die verre toekoms ook sy vrugte kan geniet.
Dit is iets waarna ons almal behoort te streef.
|