|
|
|
|
• Hierdie artikel moet in samehang gelees word met ons ander artikels oor die Eerste Wêreldoorlog: •
Die
oorsake, die verloop, die bitter duur prys Foto’s by hierdie artikel kan, tensy anders vermeld, as openbare besit beskou word vanweë die verstryking van kopiereg weens ouderdom |
Vir geen vorige konflik in die geskiedenis is soveel soldate gemobiliseer of is soveel manskappe op die slagvelde ontplooi nie. En nooit tevore het soveel soldate gesneuwel, so baie weerlose burgerlikes gesterf en is soveel mense op allerhande maniere beseer nie. Die
oorlog sou dan ook mediese ondersteuningsdienste in ’n ongekende mate
beproef—en groot gebreke daarin uitwys, waardeur die mensdom baie meer
paraat gemaak sou word om latere krisisse die hoof te bied. Die
Eerste Wêreldoorlog sou boonop die grondslag lê vir ’n
moderner vorm van oorlogvoering wat grootliks op die tegnologie
aangewese sou wees en waarin nie-vegtendes by die aaklighede van
oorlog betrek sou word soos nooit voorheen nie. Oorlog
sou nie langer ’n “hoflike” skermutseling wees tussen
manne wat op die een of ander oorlogsterrein teen mekaar kragte
meet nie. Die Eerste Wêreldoorlog het die nuwe rigting aangedui
waarin oorlogvoering sou ontwikkel, waar elke kant hom tot
wanhopige en partykeer verskriklike strategieë sou wend om die
geringste voordeel te behaal, selfs ten koste van die
onskuldiges. Maar
haglik soos die toestande in die Eerste Wêreldoorlog was, kon
dit selfs ’n goeie ent erger gewees het as dit nie vir sekere versiende medici en ander barmhartige Samaritane sowel as
vindingryke uitvinders was wat destyds gelewe het nie. Trouens,
reeds in die paar dekades voor die oorlog het verskeie mense
nuwe ontwikkelings geïnisieer om kwale en gebreke beter te
behandel, die lyding van mense te verlig en groter klem op
dienste aan pasiënte en die gerief van gehospitaliseerdes te lê. Om
op te som kan die einde van die 1800’s en die begin van die
1900’s as ’n tyd van ommekeer in sekere belangrike
fasette van die geneeskunde beskou word. X-strale
en die ontwikkeling van beenchirurgie
Dit is insiggewend dat dit nie ’n Nobelprys vir Geneeskunde was nie, want ironies genoeg sou dokters nie dadelik die volle nut van X-strale in die mediese praktyk besef nie. Dit sou die Eerste Wêreldoorlog kos om die omvattende gebruik van X-strale vir duisende gewonde soldate te laat posvat.
Die
Brit sir Robert Jones (1855-1933) het darem in 1896 reeds die
moontlikhede raakgesien toe hy die eerste verslag oor die kliniese
gebruik van X-strale gepubliseer het. Hy het beskryf hoe dit
gebruik kan word om ’n koeël op te spoor wat in ’n gewrig
vassteek. (Dis
terloops interessant dat Jones al in sekere kringe beskryf is as
die grootste ortopediese chirurg wat ooit gelewe het. Daar is
indertyd vertel dat die Tyd self stilgestaan het wanneer hy met ’n
operasie besig was.) Mediese
gebiede waarop X-strale wel gou met vrug gebruik is, was dié van
die verswakking van die menslike gebeentes en beenafsterwing.
Beenafsterwing het destyds baie algemener voorgekom as vandag,
want daar was nog geen antibiotika nie. Ten tyde van die Eerste Wêreldoorlog het sir Robert Jones belangrike boeke oor gewrigsbeserings en beenchirurgie die lig laat sien: Injuries of Joints in 1915 en Notes on Military Orthopaedics in 1917. Van sy teksboek Orthopaedic Surgery word gesê dat dit die eerste was die diagnose en behandeling van nuwe beenbreuke stelselmatig uitgespel het.
In
die Eerste Wêreldoorlog was Jones hoof van die ortopediese
afdeling van die Britse magte. Hy was onder meer ook ’n
voorstander van die oorplanting van gesonde beenweefsel op plekke
waar beenbeskading plaasgevind het. Daar
moet werklik benadruk word dat die oorlog ’n belangrike rol in
die ortopediese geskiedenis gespeel het. Baie van die groot
bydraers op hierdie terrein was militêre chirurge. Só was daar Paul
Budd Magnuson (1884-1968), ’n
Amerikaner wat in die oorlog ortopediese dienste verrig en baie
ondervinding oor trauma opgedoen het. Magnuson
het ’n teksboek genaamd Fractures (Beenbreuke) geskryf en
daarin ’n ingrypende behandelingsmetode vir beenontsteking
beskryf. By chirurgie aan die knie het dit die verwydering van
beendeeltjies en beskadigde kraakbeen ingesluit, asook die
afstroping van die kraakbeen tot op die kale been en, indien
nodig, die vernouing van die knieskyf.
Saam
met die ontwikkeling van beenchirurgie het radioloë ook X-strale
probeer verbeter sodat nie net die verborge gebeente nie, maar ook
areas van sagte weefsel in die liggaam daarmee geopenbaar kon
word. Só was dit in 1918, in die laaste jaar van die Eerste Wêreldoorlog,
reeds moontlik om die harsingskamers van die brein te sien. En
deur middel van X-strale van die bors kon die omvang van die skade
weens tuberkulose en longkanker waargeneem word. Sulke
vroeë deurbrake het wel deeglik die weg gebaan vir die
gesofistikeerde chirurgiese praktyke van vandag. Reeds in die
laaste helfte van die twintigste eeu kon operasies gedoen word wat
eenmaal as onmoontlik beskou is. In 1962 is ’n arm wat heeltemal
by die skouer afgeskeur is, vir die eerste keer met welslae weer
aan die liggaam geheg. Rol
van dokters/verpleegsters/noodhulpwerkers DIE
term "First Aider" (vir iemand wat noodhulp verleen) is
die eerste keer in September 1894 gebruik deur ene dr. Heaton
Howard, redakteur van die Britse tydskrif First Aid, wat
deur die noodhulporganisasie die Order of St. John gepubliseer is.
Dr. Howard het dit gedefinieer as "enige person wat ’n
sertifikaat van ’n gesaghebbende vereniging ontvang het dat hy
(of sy) gekwalifisieer is om noodhulp te verleen". Eers
kon slegs dokters mense noodhulp leer, terwyl ’n ander dokter
dan die studente se kennis sou toets. Maar in die Eerste Wêreldoorlog
was daar ’n ontploffing in die aantal burgerlikes wat met
noodhulp gemoeid was in Brittanje en ander lande van die destydse
Britse Gemenebes (waarvan Suid-Afrika ook ’n lid was). Noodhulp
is selfs aan skoolkinders geleer. Dit het ook vir nie-dokters
moontlik geword om mense in noodhulp te onderrig, hoewel die
eksaminator aan die einde steeds ’n dokter was.
Omdat
die St. John Ambulance Association aanvanklik nie in Amerika
bestaan het nie, was dit brandweer-korpse van vrywilligers wat die
idee van noodhulp begin propageer het, en in die Eerste Wêreldoorlog
het die Amerikaanse Rooi Kruis burgerlikes in noodhulp begin
oplei. Die
geweldige rol van die Rooi Kruis in die verskaffing van ambulanse,
hospitale, dokters en verpleegsters in oorlogsgeteisterde gebiede
sal stellig nooit oorskat kan word nie. Reeds in 1864
het regeringsverteenwoordigers van verskillende lande in Genève,
Switserland, regsgeldigheid aan dié organisasie verleen deur
hulle te verbind tot ’n internasionale verdrag vir die
beskerming en versorging van gewonde soldate in oorlogstyd. Die
Rooi Kruis se eerste enorme vuurdoop het met die Eerste Wêreldoorlog
gekom, toe hy plek-plek met vlieënde vaandels in sy eie
doelstellings geslaag het, al was hy onmagtig om oral hulp te
verleen omdat logistieke steun nie altyd beskikbaar was nie en die
ellende so geweldig groot was. Hospitale
en die afvoer van ongevalle DIE
metode van afvoer van ongevalle van die slagveld was plek-plek
verskillend, maar die volgende beskrywing van die werksaamhede van
’n tipiese Australiese veldambulanskorps bied ’n insiggewende
kykie in die destydse omstandighede. Die ambulanskorps moes
vervoer en mediese hulp aan die gewonde en siek soldate van ’n
brigade van ligte ruitery verskaf. ’n
Ambulans het in die reël onder die bevel van ’n
luitenant-kolonel gestaan. Al die offisiere van die ambulans was
mediese dokters of chirurge. Tandheelkundige eenhede is baiemaal
ook by ambulanse ingeskakel. Die
ambulanskorps is in twee afdelings ingedeel, wat die mobiele
afdeling en die immobiele afdeling genoem is. Die rol van die
mobiele afdeling was om saam met die brigade na die slagveld te
reis, ’n wondverbindingspos daar te vestig en die gewondes per
draagbaar of vervoermiddel soontoe te bring. Die
immobiele afdeling moes op hul beurt ’n ontvangspos oprig
waarheen die gewondes vanaf die wondverbindingspos gebring is. Die
ambulanskorps se chirurge sou by die ontvangspos op die gewondes
opereer. Van die ontvangspos is die siekes en gewondes eers na
’n ongevalle-uitklaarpos verskuif en uiteindelik na ’n
basishospitaal. Nuwe
medisyne IN
die twintigste eeu is die mediese wetenskap deur meer wesentlike
welslae gekenmerk as in enige ander tydvak in die geskiedenis. Ons
begrip van hoe die menslike liggaam funksioneer en wat dit is wat
ons siek maak, asook die vermoë om hierdie kennis te gebruik om
siektes te behandel en te voorkom, was nog nooit so gesofistikeerd
en betroubaar nie. In
1900 was daar egter feitlik nog geen geneesmiddels in die sin
waarin ons hulle vandag ken nie. Die klompie doeltreffende soorte
medisyne, soos kinien vir malaria, kwik teen sifilis en
vingerhoedskruid om hartsiekte te behandel, was al ’n tyd lank
bekend en het onaangename newe-effekte gehad. Onder die
pynstillers was daar darem die staatmaker Aspirien, wat in 1899
die eerste keer bemark is. As
’n mens die bronne nagaan, lyk dit nie of die Eerste Wêreldoorlog
as sodanig tot aardskuddende nuwe geneesmiddels gelei het nie. Wel
het die tydvak tussen 1900 en 1930 die grondslag gelê vir die
sogenaamde Goue Era in die geneeskunde, waarvan ons vandag steeds
onmiskenbaar die vrugte pluk. |