DIE
verhaal van wol gaan baie ver terug. Opgrawings wat by
afvalhope uit die voortyd gedoen is, toon dat die
Steentydmense, benewens die feit dat hulle skape se melk
en vleis benut het, ook die warmte en gerief van wol
waardeer het.
Trouens, in die Bybel word vertel dat Abel ’n veeboer
was, en meermale lees ons verder in die Skrif van
herders en hul skape.
Nadat die mens geleer het om ru wol tot kledingstof te
weef, het hy ’n veelsydige materiaal gehad wat hom snags
verwarm en bedags koel gehou het. Uit hierdie primitiewe
begin het ’n bedryf gegroei wat vandag vir verskeie
lande, veral in die Suidelike Halfrond, van besonder
groot belang is.
Wol is die fyn, sagte vesel van die vag van die skaap en
party ander diere soos bokke en angorakonyne, asook
kamele en dié se familielede, die guanaco’s, alpakkas,
vikoenjas en lamas.
Wolvesels groei uit die sogenaamde follikels in die
skaap se vel. Die vesels is gemaak van die proteïen
keratien en is ruweg silindries. Die oppervlak is bedek
deur talle baie klein, oormekaar vouende skubbe wat by
hitte, drukking of vogtigheid ineensluit. Dit maak die
wol sterker.
’n Skaap se hele wolbedekking word ’n vag genoem. Dit
groei in ’n golfpatroon, wat dit elasties maak.
Verskillende skaaprasse lewer verskillende soorte wol.
Suid-Afrika produseer fyn- tot mediumgraad. Die vesels
van die Merinoskaap—wat vir die meeste van ons wol
sorg—is uiters fyn en dig bymekaar, wat dit geskik maak
vir luuksieuse en beskermende klere.
Australië produseer ook fyn wol, maar dit is in die reël
minder fyn ofskoon sterker as Suid-Afrikaanse wol.
Dikker, langer vesels kom gewoonlik van kouer lande. Van
Nieu-Seeland en Brittanje se meestal growwer wol word
byvoorbeeld tapyte gemaak. Wol van Argentinië en Uruguay
wissel van fyn tot grof.
Suid-Afrika is ’n gerekende wolproduserende land. Ander
gerekende produseerders benewens dié wat hierbo genoem
is, is veral China en lande van die voormalige
Sowjet-Unie.
Die Merinoskaap is oorspronklik in Spanje geteel en het
gou bekend geraak vanweë die witheid, fynheid en sterkte
van sy wol.
In 1789, die jaar van die Franse Revolusie, het die
koning van Spanje ’n trop Merinoramme aan die prins van
Oranje gestuur. Die vogtige Nederlandse klimaat het glad
nie met hulle geakkordeer nie en hulle is gevolglik Kaap
toe gestuur, waar die destydse goewerneur dadelik met
Merino’s begin boer het.
Skielik het die prins sy skape teruggeëis. Hulle is
teruggestuur—sonder hul nakomelinge. En só het
Suid-Afrika se baie belangrike Merinobedryf begin. Die
skaap is sedertdien met verskeie ander rasse gekruis.
(Terloops, iemand het al bereken—darem seker nie
vasgestel deur hulle te tel nie!—dat daar sowat honderd
miljoen vesels op ’n Merinoskaap is.)
Die Karakoel, nog ’n belangrike ras, kom aanvanklik uit
Asië. Sy wol is kort, grof en bruinerig grys en word vir
tapyte met ’n growwe, natuurlike voorkoms gebruik.
Maar die belangrikste produk van die Karakoel is die
pels van die pasgebore lammers. Hierdie pels, bekend as
astrakan, is baie sag en word vir die maak van pelshoede
en jaskrae gebruik.

BO: ’n
Karakoel-lammetjie.
Deel weggesny van
’n oorspronklike foto deur
GNU Free Documentation
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie.
Daarvolgens word deling en afgeleide werke op sekere
voorwaardes vergun.

BO: Arapawa-skape tel
onder die skaars skaaprasse, en hierdie ram met
die yslike horings lyk kwalik na die Merino
waarvan hy bes moontlik oorspronklik afstam.
(Kyk foto van Merino by
Mieliestronk se ander
artikel oor skape.)
Maar daar word gereken dat die Arapawas nakomelinge
is van Merino-skape wat in die 1860’s op die
Nieu-Seelandse eiland Arapawa agtergelaat is,
waar hulle toe wild geword het. Hulle is nou
weer mak gemaak en word hoofsaaklik vir hul wol
geteel.
Gewysigde foto van ’n oorspronklike deur
Moriori / Public Domain
Release,
Wikimedia Commons
Wol van die plaas na
die fabriek
WANNEER die
lente aanbreek, het skape nie langer hul dik
wolbedekking nodig om warm te bly nie. Dit is dus die
beste tyd van die jaar om hulle te skeer.
Skape word deesdae dikwels meganies geskeer, hoewel die
tradisionele skaapskêre nog lank nie begrawe is. Bedrewe
skeerders kan met tientalle skape op ’n dag klaarspeel.
’n Goeie skeerder verwyder die vag in een stuk met lang,
gladde hale en sonder om die dier seer te maak. Die
meeste boere stuur hul geskeerde skaaptrop deur ’n dip
(’n lang, smal gleuf gevul met ’n ontsmettingsmiddel)
voordat hulle hulle weer veld toe jaag.
Die vag, wat só geskeer is dat dit aanmekaarbly, word
soos ’n kombers op ’n afrandtafel oopgegooi en
ondersoek. Met afrand word bedoel dat die wol wat te
kort, vuil of minderwaardig is, van die res verwyder
word. Spesiaal opgeleide mense moet hierna die vagte in
verskillende grade klassifiseer volgens die lengte en
fynheid van die wol.
Van die afrandtafel gaan die vagte na die wolbakke. Elke
graad kom in ’n aparte wolbak. Sodra ’n bak genoeg wol
het om ’n wolsak of baal vol te maak, word dit met ’n
wolpers styf en netjies in die baal ingepers en met
seilgaring toegewerk.
Vragmotors bring die boer se wol stasie toe. Van daar
gaan dit na die plek waar dit per veiling verkoop word.
In sy ruwe vorm bevat skaapwol vet, sand en stukkies
plante wat uitgewas moet word. Die wol word in lang vate
met warm water en suiweringsmiddels geplaas. Lang
metaalharke word gebruik om die wol deur die
verskillende vate te stuur.
Ná die was en droogmakery kan ’n vag minder as die
helfte van sy oorspronklike gewig hê.
Die wol is nou gekoek en die vesels staan in alle
rigtings. Daarom word dit gekaard: dit word deur rollers
met dun draadtande gestuur, wat dit só uitkam dat die
vesels ewewydig en op mekaar kom lê.
Die wol word vervolgens in lang, smal repe gerol.
In die spinproses word die wol in ’n reeks masjiene
ingevoer wat die repe rek om hulle dunner te maak en dan
vleg om wolgaring te vorm.

BO:
’n Ierse spinwiel, omstreeks 1900. Vandag word wol
en ander vesels met veel gesofistikeerder masjiene
tot wol- en ander soorte garing gespin.
Foto: U.S. Library of
Congress / “Public Domain Old”

BO: Die Spinster, ’n olieverfskildery uit
1873 deur die Franse skilder William-Adolphe
Bouguereau (1825-1905). Dit toon ’n jong meisie
met ’n spindel, ’n primitiewe spinapparaat
waarin ’n houtpen aangewend is om vesels tot
garing te spin. Sulke apparate is duisende jare
lank gebruik, en die spinwiel het maar eers sy
verskyning in die Middeleeue gemaak.
Krediet: Openbare besit
vanweë die verval van kopiereg
weens ouderdom (“Public
Domain Old”)
Wanneer wolvesels om mekaar gevleg word, haak die klein
skubbetjies in mekaar en keer dat die vesels van mekaar
skei. Die mate waarin die wol gerek en gevleg is, bepaal
die gewig en dunheid van die wolgaring.
REGS:
Wolvesels onder die
elektronmikroskoop.
Die kleur van rou wol wissel van wit tot donker-ivoor.
Sou ’n ander kleur verlang word, moet die wol gekleur
word. Dit kan in verskillende stadiums gebeur.
Word ’n enkele kleur verkies, hoef die wol net gekleur
te word nadat dit tot materiaal geweef is. Maar as
verskeie kleure nodig is, moet die kleuring óf voor óf
ná die spinproses plaasvind.
Met die kleuring word die wol gewoonlik geweek in groot
vate wat met warm oplossings van die kleurstof gevul is.
Stoomdruk bou in die vate op en forseer die kleurstof
diep in die vesels in.
Wol en sintetiese vesels
STEL jou ’n
wêreld sonder wol voor. In die eerste plek sal skape—en
verskeie ander soorte diere—bra koddig lyk.
Maar ons sal self ’n hele klomp dinge moet ontbeer. Ons
sal geen woltruie en -sokkies hê nie, ook geen komberse,
matte, tapyte en gordyne van wol nie en selfs nie eens
die wolvoering in ons pantoffels nie.
Wol bly maar koning. En tog is dit ’n koning wat nie
selfvoldaan op sy louere durf rus nie.
Die eerste sintetiese vesels wat uitgevind is, kon
weliswaar glad nie by natuurlike vesels kers vashou nie.
Maar wetenskaplikes het gou geleer hoe om die eienskappe
van die ware Jakob na te boots.
En omdat mensgemaakte vesels goedkoper en makliker
geproduseer is, was daar ’n daling in die wêreldwye
vraag na wol.
Die bedreiging wat dit vir die wolbedryf ingehou het,
het wolprodusente gedwing om hul produkte te verbeter.
Hulle het byvoorbeeld uitgevind dat wolmateriaal
waterdig gemaak kan word deur dit met ’n spesiale soort
waks te bedek. En hulle het geleer hoe om dit te bewerk
sodat dit nie so gou vuil sal word nie.
Die gevolg is dat wol hom vandag steeds baie deeglik in
die tekstielwêreld handhaaf.
Gebruike van wol
NADAT wol in
wolgaring omskep is, kan ’n verskeidenheid van materiale
daarvan gemaak word, hetsy deur middel van brei of weef.
Gebreide materiaal word gemaak deur die aaneenlopende
vorming van lusse in die wolgaring, óf met breinaalde óf
met masjiene.
In die weefproses word twee stelle garing deur groot
masjiene haaks gevleg. Die beginsel is baie eenvoudig en
al duisende jare in gebruik.
Die lengtedrade van die materiaal staan bekend as die
skering en die dwarsdrade as die inslag.

BO:
Skering en inslag in eenvoudige weefwerk.
Illustrasie: PKM / Public
Domain Release, Wikimedia Commons
Weeftoestelle kan baie verskillende soorte weefwerk doen
om allerhande soorte materiaal te maak.
Ofskoon handweef nog in baie lande ’n gewilde beroep is,
word die meeste geweefde materiaal tans deur fabrieke
gelewer.
Die afwerking is die eindstadium in die verwerking van
wol. Die oppervlak-voorkoms van die materiaal word
verander om ’n verskeidenheid van materiale te kry. Die
punte van sekere van die vesels kan byvoorbeeld uitgekam
word om pluisig te lyk. Of die vesels kan in een rigting
geborsel word of selfs platgedruk word vir ’n
glanseffek.
Baie van die materiaal se sagtheid en gladheid word in
hierdie stadium ontwikkel.
Wol het baie voordele. Dit is sag, elasties en warm. Dit
isoleer ook teen hitte en hou die draer koel. Materiale
wat van wol gemaak is, word maklik skoongemaak en die
vorm word goed behou.
Wol kan ook “asemhaal”, want die vesels absorbeer die
vog wat die liggaam afgee en laat dit verdamp—iets wat
mensgemaakte materiale nie kan doen nie.
Al hierdie eienskappe maak wol ’n volmaakte vesel vir
komberse, truie, musse, handskoene, sokkies en ander
soorte klere. Bergklimmers en ruimtereisigers pantser
hulself met wolklere teen die koue.

REGS: ’n Oortrektrui van wol.
Krediet: WPClipart.com
Omdat dit kwaai hitte en vlamme weerstaan, word wol ook
vir die beskermende oorpakke van renjaers,
brandweermanne en metaalgieters gebruik.
Selfs die vet wat uit wol gehaal word wanneer dit
aanvanklik gewas word, word gesuiwer om lanolien te
maak, ’n stof wat in gesigsrome, sepe, politoere, inke
en salwe gebruik word.
Niks van die vag wat die skaap so gul aan die mensdom
bied, word toegelaat om verlore te gaan nie.
|