|

Byna ses keer hoër as
die Groot Piramide van Giza
REGS:
Die nuwe Burj Khalifa (“Khalifa-toring”), aanvanklik die Burj Dubai
genoem, wat op 828 meter die
onbetwiste koning onder alle
superhoë mensgemaakte strukture is. Die argitek is die Amerikaner
Adrian Smith. Die Burj Khalifa, wat in die begin van 2010 amptelik
geopen is, is gebou om onder meer ’n
verbysterende 30 000 wooneenhede en nege hotelle te huisves. Hiermee
word die Midde-Ooste uiteindelik weer die tuiste van die hoogste
vrystaande bouwerk op ons planeet, ’n onderskeiding wat dit in die
vroeë 1300’s kwyt was toe die Lincoln- katedraal
in Engeland die Groot Piramide van die farao Choefoe of Cheops
verbygesteek het. Die
Groot
Piramide
(KLEIN FOTO’TJIE HIERBY),
wat op die Giza-plato in die suidwestelike buitewyke van die
teenswoordige Kaïro in Egipte staan, was tot op daardie tydstip byna
vierduisend jaar lank die hoogste bouwerk. Die Groot Piramide was
oorspronklik 'n entjie duskant 147 m hoog, maar weens erosie en die
verlies van die piramidion of boonste deksteen is dit tans 'n raps
onder 139 m. ’n Mens sal ses Groot Piramides opmekaar moet stapel om
die Burj Khalifa in hoogte te oortref. (Kyk ook die foto van die
Burj Khalifa ondertoe in hierdie artikel.)
Burj
Khalifa-foto: bron: GSFC / NASA

BO: Johannesburg
se Carltonsentrum, op 223 meter die hoogste gebou in Afrika,
word heeltemal deur die Burj Khalifa verdwerg op hierdie
vergelykende diagram van ’n klompie baie hoë strukture.
Hierdie
diagram is ’n gewysigde weergawe
van ’n oorspronklike werk deur
Astronaut,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
ingevolge verskillende lisensies gelisensieer het, onder
meer die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie, wat deling en
gewysigde werke op sekere voorwaardes vergun
OE sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met
’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir
ons ’n naam.” Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die
toring... Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele
aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad. Daarom het
hulle die stad Babel genoem.
Volgens die elfde hoofstuk van Genesis wou Noag se nageslag naam
maak deur ’n stad met ’n hemelhoë toring te bou. Maar God wou dit
nie so hê nie. Hy het toe ’n taalverwarring onder die bouers gebring
sodat hulle mekaar nie verstaan het nie en oor die aarde heen
verstrooi is.
Stel jou die verbasing van hierdie nakomelinge van Noag voor as
hulle vandag se ontsaglike stapelgeboue kon sien!
REGS:
Die toring van Babel, soos die Vlaamse kunstenaar Lucas van
Valkenborch (ca. 1535-1597) hom dié Bybelse bouwerk in 1594 voorgestel het
(detail).
As ’n mens aan die
moderne argitektuur dink, dink jy feitlik outomaties aan
wolkekrabbers.
Die hoofredes waarom só in die lug op gebou word, is die duur grond
en beperkte ruimte in die sakebuurte van stede.
Maar ongetwyfeld
speel die mensdom se stommiteite—soos by die mense van Babel—ook ’n
rol. Só sal lande dalk met ander lande wedywer, en stede met ander
stede, om met die hoogste, die mees “uitstaande’’ strukture te kan
spog. Of skatryk statusjagters kan miskien selfs fortuine prysgee
net om hul name op belangrike geboue te sien pryk.
Hoe ook al, die meeste wolkekrabbers word gebou om kantore daarin in te rig.
Party kan soos mini-stede wees met, benewens die kantore, ook
hotelle, banke, winkels, bioskope en sportgeriewe. ’n Paar kan selfs
’n landingsplek vir helikopters hê.
In ander wolkekrabbers is weer baie wooneenhede. Mense hou in die
reël egter nie van só ’n letterlik hoë lewe nie en daar is dus baie
minder sulke stapelhuise as wat daar stapelkantore is.
DIE bou van wolkekrabbers is deur twee tegnologiese vooruitgange
moontlik gemaak: die vervaardiging van
staal in groot hoeveelhede en die uitvinding van ’n veilige
hyser vir passasiers.
Hoewel die mense in sekere wêrelddele reeds eeue lank staal gemaak
het, kon hulle slegs ’n bietjie daarvan op ’n keer vervaardig. In 1855 het
’n Britse staalvervaardiger, Henry Bessemer, egter ’n metode
uitgevind om gesmelte ru-yster te raffineer deur lug daardeur te
blaas, wat daartoe gelei het dat staal baie goedkoper en in groot
volumes gelewer kon word.
Staal het die ideale boustof geblyk te wees vir ’n ligte raamwerk
wat sterk genoeg is om die gewig van die stapelgebou te dra.
Maar selfs as dit voor Bessemer se uitvindsel moontlik was om hoë
geboue op te rig, sou dit sinloos gewees het sonder ’n manier om
passasiers veilig tussen die verskillende verdiepings te vervoer.
Mense hou eenvoudig nie daarvan om baie trappe te klim nie.
Hysers vir goedere was reeds eeue lank in gebruik, maar hulle was
stadig en gevaarlik, omdat die toue dikwels gebreek en die hysers
geval het. In die vroeë 1850’s het Elisha Graves Otis van New York egter
’n meganisme ontwerp wat keer dat hysers grond toe stort as die kabels
breek waaraan hulle hang.
Die pad na die wolke was nou oop.
|
Twee
uitvinders wat gehelp het om die bou van wolkekrabbers
moontlik te maak |
|

BO: Henry Bessemer (1813– 1898), die
Engelse ingenieur en uitvinder, wat veral beroemdheid
verwerf het vanweë sy proses om staal in groot hoeveelhede te vervaardig.
|

BO: Elisha
Graves Otis (1811 – 1861), wat in die 1850’s in New York
’n veiligheidsmeganisme ontwerp het wat verhinder dat
hysers val wanneer die hyskabels afknak.
Illustrasies: Histories
(“Public Domain Old”) |
CHICAGO in Amerika is—só word gereken—die
geboorteplek van die wolkekrabber. Vanweë ’n ekonomiese oplewing in
die 1800’s in hierdie Amerikaanse stad was daar ’n groot vraag na
ekstra kantoorruimte. In 1884 is wat beskou word as die wêreld se
eerste ware wolkekrabber, die Home Insurance-gebou, daar opgerig.
William Le Baron Jenney was die argitek. Die gebou se raamwerk van
gietyster, smee-yster en staal het ’n destyds verbysterende tien
verdiepings gestut. In 1890 is nog
twee verdiepings bygevoeg.
Binne ’n dekade ná sy oprigting is Jenney se gebou wat die getal
verdiepings aanbetref deur verskeie ander
wolkekrabbers in Chicago geëwenaar of oorskadu. (Die Home Insurance-gebou is later afgebreek.)
REGS:
Die Home Insurance-gebou in Chicago, in die Amerikaanse staat
Illinois, wat as die eerste ware wolkekrabber op aarde beskou word.
Dit is in 1884 gebou, in 1890 hoër gemaak deur nog verdiepings by te
voeg, maar in 1931 afgebreek om vir ’n ander gebou
plek te maak.
Foto: Histories (“Public Domain Old”)
In die stad New York het die bevolkingsgroei
en skerp stygende grondpryse in die vroeë 1900’s talle wolkekrabbers
laat opskiet. Die wêreld se eerste ware bielie-wolkekrabber—die
Chrysler-gebou—het in 1930 verrys. ’n Paar glorieryke maande lank
was hy met sy 77 verdiepings die hoogste gebou ter wêreld, maar die
Empire State-gebou, wat in dieselfde jaar voltooi is, het spoedig
dié eer voor hom weggeraap.
Die Empire State-gebou het 102 verdiepings en staan 381 m hoog. Saam
met ’n TV-mas van 62 m, wat in 1950 bygevoeg is, is die hoogte
altesaam 443 m. Hierdie reusagtige struktuur het tot 1974 die aarde
se hoogste wolkekrabber gebly, toe hy getroef is deur die
Sears-toring van 110 verdiepings in Chicago—443 m hoog met
uitsaaimaste wat sy totale hoogte op 520,3 m te staan bring.

Die
Chrysler-gebou (LINKS BO) en Empire State-gebou (REGS BO), albei in New York.
Foto’s: U.S. National Institutes of
Health en U.S. Library of Congress
Die Sears-toring was lank die wêreld se hoogste wolkekrabber, hoewel
nie die hoogste vrystaande bouwerk op aarde nie. Hierdie eer het
weer lank die CN-toring van 555 m in Toronto, Kanada, toegekom, wat
in 1975 gebou is.
REGS:
Toronto, Kanada, se CN-toring.
Foto: Bill Wrigley,
wat dit tot openbare besit verklaar het
(“released into the public domain”)
Maar die groot knewel onder mensgemaakte
strukture was die Warschau-radiomas in Pole, met sy hoogte van 645
m. Ons sê was. In Augustus 1991 het die radiomas
ineengestort. Daarmee het die KVLY-TV-mas buitekant Fargo, North
Dakota, in die VSA, sy onderskeiding herwin as die wêreld se hoogste
struktuur, te wete 628,8 m. Die KVLY-TV-mas is eers in April 2008
van hierdie titel gestroop toe die skouspelagtige Burj Dubai (onder
konstruksie), wat later tot die Burj Khalifa hernoem sou word, hom in hoogte verbygesteek het.
Meer oor die Burj Khalifa (Arabies vir
“Khalifa-toring”) word in die byskrif by die foto heel boaan hierdie
artikel vertel—asook in die byskrif
direk hieronder.
|
160
verdiepings pylreguit boontoe...
|
|
REGS: Die
Burj Khalifa in Dubai is nie net die hoogste struktuur op aarde
nie, maar ook die hoogste vrystaande struktuur. Boonop
is dit die gebou met die meeste verdiepings, te wete 160
(teenoor die vorige rekordhouer, die verwoeste World
Trade Center in New York, se 110). Die Burj Khalifa is
deel van ’n ontwikkeling op twee vierkante kilometer wat
“Downtown Burj Khalifa” (Stadskern Burj Khalifa) genoem word. Daar is 4,1 miljard
Amerikaanse dollars vir die Burj Khalifa-projek begroot en
$20 miljoen vir die totaal nuwe “Downtown”-projek. Die
Amerikaanse bou-ontwerp- en ingenieursfirma Skidmore,
Owings and Merrill (SOM) van Chicago was in beheer van
die touringbouery. Die nuwe superwolkekrabber is glo deel van ’n nuwe benadering in
Dubai om sterk op dienslewering en toerisme te
konsentreer. Waar dit eers die Burj Dubai genoem is, is
dit in ’n verrassende aankondiging ten tyde van die
opening tot die Burj Khalifa hernoem. Die hernoeming is
ter ere van die teenswoordige president van die
Verenigde Arabiese Emirate en heerser van Abu Dhabi,
sjeik Khalifa bin Zayed al Nahyan. |
 |
|
Foto deur
Joi Ito,
wat dit
op
hierdie bladsy
by flickr op die wêreldwye
web uitgeplaas het, waar dit gelisensieer is ingevolge
die
Creative Commons Attribution 2.0-lisensie
waarvolgens gebruik op sekere voorwaardes vergun word |
LINKS:
Die boonste deel van die
Warschau-radiomas, in Pole, wat op
8 Augustus 1991 ineengestort het.
Foto: Histories (“Public Domain Old”)
Aan die einde van 2003 is aangekondig dat die twee torings van 411 m
van die World Trade Center in New York—wat op 11 September 2001 deur
fanatieke terroriste met gekaapte vliegtuie verpletter is—vervang
sou word deur ’n toringgebou van 541 m. Dié super-wolkekrabber sal
’n toringspits hê, asook ’n windkragopwekker wat moet help verseker
dat die gebou die meeste van sy elektrisiteit self opwek. Die
projek, waarmee in 2006 begin is, is al selfs as die
verbeeldingrykste projek in Amerika se argitektoniese geskiedenis
bestempel.
1 World Trade Center, ook bekend as die Freedom
Tower, is die hoofgebou van die nuwe World Trade Center, wat
nog onder konstruksie is. Daar word geraam dat die toring iewers in
2013 voltooi sal wees teen ’n koste van altesaam 3,1 miljard
Amerikaanse dollars en ná die gebruik van
46 000 ton staal.
Ten slotte lyk dit byna of daar geen grense is aan die hoogtes
waarna die mensdom streef nie. Party ingenieurs droom al van geboue
wat 3000 m (of drie kilometer) bo die aarde troon, met hul boonste
dele bokant die wolke. Sou Noag se nasate van destyds nie jaloers
gewees het as hulle die betonkolosse van die toekoms kon sien nie?

LINKS
BO: Die twee torings van die World Trade Center in Laer
Manhattan, in die stad New York, in die maand voordat hulle
in September 2001 deur fanatieke terroriste met
gekaapte vliegtuie verpletter is. REGS bo is ’n
argiteksvoorstelling van 1 World Trade Center, ook bekend
as die Freedom Tower, die hoofgebou van die nuwe World
Trade Center wat nog onder konstruksie is.
Die foto links bo is uitgesny uit ’n groter foto deur
Carol M. Highsmith,
wat dit tot openbare besit (“public domain”) verklaar het /
U.S. Library of Congress. Kopiereg op die foto regs bo word
bes moontlik gehou deur die argitekte van 1 World Trade
Center, maar word te goeder trou betreklik klein en in lae
resolusie gebruik ingevolge die Amerikaanse “fair
use”-reëling
|