’n Laslappie van Mieliestronk

  
WêRELDERFENISTERREIN:
Die uKhahlamba-Drakensbergpark in KwaZulu-Natal

Agtergrond: wat is Wêrelderfenisterreine?

DIE begrip "erfenis" is iets waarmee ons almal kan identifiseer. Die meeste van ons het al die drang gehad om 'n stamboom saam te stel, of om ons familiegeskiedenis na te speur ná 'n gesprek met 'n ou oom of tante. Ons wil hul oënskynlik nimmereindigende kennis vasvang voordat hulle dit vir altyd saam met hulle wegneem.

Maar wie sorg, in die breër verband van die wêreldfamilie, vir ons erfenis? Wel, oor die jare heen het dit noodsaaklik geword om erfeniswette te maak om te verseker dat kosbare dele van ons aarde se natuurlike omgewings- en kulturele rekords behoue bly vir die wêreldgenerasies wat ná ons sal kom.

Hierdie bewaring geskied in die vorm van Wêrelderfenisterreine, en het tot stand gekom deur die Wêrelderfenis-konvensie wat daarop gemik is om die wêreld se kultuur- en natuurerfenis te bewaar, en in 1972 deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) aanvaar is. In 1997 het Suid-Afrika die 150ste land geword wat dié konvensie bekragtig het.

Suid-Afrika het nou agt gebiede wat ingevolge hierdie konvensie tot wêrelderfenisterreine aangewys is, naamlik die Groter St. Lucia-vleilandpark, die Kaapse Blommeryk, Robbeneiland, die Wieg van die Mensdom-fossielterrein, Mapungubwe, die Ukhahlamba-Drakensbergpark, die Vredefortkoepel en, in 2007 geproklameer, die Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap.

Wêrelderfenisterreine word gekenmerk deur multinasionale samewerking tot voordeel van die hele wêreld. Die wyse waarop hulle die publiek se verbeelding aangegryp het, is 'n uitstekende aanduiding van hoe eietydse waardes gevorm word. Hierdie waardes koester volhoubare ontwikkeling, en is rede tot optimisme in die stryd vir die bewaring van ons erfenis.

Ligging van die uKhahlamba-Drakensbergpark

DIE uKhahlamba-Drakensbergpark is ’n bergpark in KwaZulu-Natal langs dié provinsie se grens met Lesotho. Die verste westelike rand van die park lê by 29°45’-28°52’O, die noordgrens van die noordelike komponenet is geleë by 28°38’-28°46’ en die gebied van die suidelike komponent lê tussen 28°55’ en 29°55’.

Die erfenisterrein bestaan uit twaalf beskermende gebiede en beslaan altesaam 242 813 hektaar.

Hoe die uKhahlamba-Drakensbergpark tot Wêrelderfenisterrein geproklameer is

DIE uKhahlamba-Drakensbergpark verskyn van 29 November 2000 af op die Wêrelderfenislys.

Dit het gebeur nadat 'n nominasievoorstel om die park tot dié status te verhoog, in 1999 deur die KwaZulu-Natalse natuurbewaringsowerheid opgestel is en deur die Departement van Omgewingsake en Toerisme aan die Wêrelderfenisraad in Parys, Frankryk, oorhandig is.

Die park kwalifiseer as Wêreld-erfenisdeel op natuurlike sowel as kulturele gebied. Dit huisves 'n uitstekende voorbeeld van 'n platorandbergformasie waar deurlopende erosie 200 miljoen jaar oue sandsteen, skalie en basalt blootgelê het. Die park huisves ook die grootste versameling San-tekeninge op die vasteland van Afrika.

'n Betowerende wêreld

DIE Drakensberg met sy hoë pieke, diep valleie, grasvlaktes en strome en waar rooi kranse die lig van 'n sonsopkoms vasvang, het inderdaad 'n eiesoortige geologie met sandsteenkranse wat oor 'n ongerepte wildernis waghou. Dit is 'n betowerende plek vol stories, 'n plek wat duisende jare lank die tuiste van die San was wie se rotstekeninge steeds in grotte en teen kranse in die streek gesien kan word.

In die lente en somer is daar amper 2000 veldblomspesies, plate proteas en inheemse woude wat van die Royal Natal-nasionale park in die noorde strek tot verby die Sani-pas in die suide. En onder die vaandel van Ezemvelo KwaZulu-Natal Wildlife word die streek vir toekomstige geslagte bewaar.

Die rykdom van die rotskuns deur die San, wat langer as 10.000 jaar in die gebied gewoon het, is werklik verstommend. Na skatting is daar 600 rotskuns-gebiede, met meer as 35.000 individuele tekeninge, wat beter bewaar gebly het as in enige ander streek suid van die Sahara.

Die oudste tekening op 'n rotskuiling in die park is sowat 2400 jaar oud, terwyl van die jongste skeppings van die 19de eeu dateer. Merkwaardige tegnieke van skakering en kleur is gebruik om die San se godsdiens en daaglikse aktiwiteite uit te beeld.

Die meeste van die kuns kom voor in die Didima-vallei in 'n natuurreservaat naby Cathedral Peak. Ongelukkig word van die kuns in grotte en skuilings blootgestel aan weerstoestande en is dit daarom nie volhoubare bates nie.

Weens die sensitiwiteit daarvan word die getal besoekers beperk en van plaaslik opgeleide gidse vergesel. Dit het gelei tot die ontwikkeling van die groot Didima-rotskunssentrum en  'n museum wat insig gee in die kultuur van die San. 'n Gemeenskapswinkel en kiosk (waarby 100 plaaslike vroue betrokke is) is deel van die sentrum.

In 2004 is 'n goue R2-munt van 24 karaat ook deur die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy by die rotskunssentrum geslaan -- een van duisend versamelaarsmunte wat sal verseker dat San-tekeninge nie net op rotse nie, maar ook op die munte voortleef.

Die vervoerbare swaaipers wat daarvoor gebruik is, is soortgelyk aan dié wat in 1902 vir die munt van die sogenaamde veldponde gebruik is.

Op die een kant van die muntstuk word 'n rotstekening soortgelyk aan een van dié in die uKhahlamba-Drakensberg-erfenisgebied uitgebeeld. Op die ander kant is die landswapen en die jaartal, 2004.

En bewaringsbewustes hoop dat ons blink erfenis in die uKhahlamba-Drakensberg net so lank sal bly voortbestaan as die skitterende goud van die muntstukke!

BRONNE:
Kompilasie van berigte en artikels in Die Burger en Beeld:
Die Burger, Dinsdag 14 Oktober 2003, p. 08: Planteryk kry dalk hoër status
Die Burger, 31 Augustus 1999, p. 2: Natalse park straks gou op erfenislys
Beeld, 25 Oktober 2003, p. 6: Betowerende Drakensberg
Beeld, 27 Mei 2003, p. 9: FNB finansier erfenisgebied vir rotskuns
Beeld,16 Maart 2004, p. 12: San leef voort op goue munt

Indien jy internet-toegang het, kyk vir foto's onder meer by:
http://www.drakensberg-tourism.com/world-heritage-site.html
http://www.kznwildlife.com/wilderness_30years.htm 

 

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad