’n Laslappie van Mieliestronk

WALRUS: Wel te ruste...

Kruis en dwars oor mekaar sodat jy nie eens weet watter kop aan watter lyf behoort nie, lę hulle in die son en bak: die walrusse, sekerlik van die koddigste diere op aarde. Maar dan is dit ook juis daardie koddighede—die enorme slagtande, geplooide vel en steekhaar-snor—wat help verseker dat hierdie vinvoetige diere in die ysige waters van die Noordpoolsee oorleef...  

Foto: Donna A. Dewhurst / Alaska Image Library / U.S. Fish & Wildlife Service

STEL jou voor jy’t twee tande so lank as jou arms! Jy sal ook maar langtand sukkel om reg te kom, of hoe? Maar sonder sy slagtande, wat uit die bokaak ondertoe steek, sou ’n walrus (Odobenus rosmarus) beswaarlik kon lewe.

Walrus met opmerklike tandeREGS: Daardie yslike tande is inderdaad iets besonders!

Foto: Donna A. Dewhurst / Alaska Image Library / U.S. Fish & Wildlife Service

Die familienaam van die walrusse—Odobenidae—kom van ’n ou Griekse woord wat beteken “hulle wat met hul tande loop”. En hierdie reuse-robbe gebruik werklik hul indrukwekkende slagtande soos ysprieme om uit die water tot op ’n stuk dryfys of tot op die droë land te beur.

Die slagtande is ook op ander maniere nuttig. Die bulle s’n is reguit, die koeie s’n kleiner en ietwat gekrom, en hulle is ’n teken van die sosiale rang in die trop: hoe groter, hoe hoër die status van die dier.

In die paartyd gebruik die bulle dikwels hul tande om hul mededingers by te kom, maar dit is ook formidabele wapens teen ysbere en swaardwalvisse. Maar dan kan die slagtande ook bloot gebruik word om die walrus se kop te stut wanneer hy op ’n stuk dryfys lę en ontspan.

Die walrus word teen die ongenaakbaarhede van die Noordelike Yssee beskerm deur ’n verrimpelde vel wat etlike sentimeters dik is. Daaronder lę ’n laag spek wat hom teen die koue isoleer. Dit kan tot 15 cm dik wees.

Dan pas sy bloedsomloop hom ook outomaties aan by die temperatuur van die omgewing. As dit baie koud is, word die hoeveelheid bloed beperk wat die spek en vel bereik, sodat daar minder hitteverlies is. Wanneer dit warm is—soos wanneer die walrus op ’n rots in die son lę en bak—verbreed die are en bloed stroom na die vel waar dit kan verkoel. Dis waarom walrusse rosig van kleur raak wanneer hulle sonbaaie neem. Die geplooide vel vergroot die oppervlakte waardeur die bloed kan vloei.

LINKS: Bloedrooi van aanskyn... as die mens só lyk wanneer hy op die strand in die son lę en braai het, moet die hospitaal beslis sy voorland wees! Dog walrusse se rooi verkleuring in die son is nie van sonbrand nie, maar vind om ’n ander rede plaas.
  

Foto: Minerals Management Service / U.S. Department of the Interior (detail)

Walrusse het vinpote. Die voorste ledemate is hoofsaaklik vir stuur, terwyl die agterste vir aandrywing deur die water sorg. Die sole van die vinpote het vratterige uitgroeisels vir ’n beter houvas op die glibberige ys.

Walrusse is ’n uitstekende swemmers en kan tot 25 km/h in die water beweeg. Hulle vreet hoofsaaklik tweekleppige weekdiere soos mossels, hoewel hulle ook seewurms, krappe, seeslakke, garnale, seekomkommers, vis en selfs seekatte sal verorber. Weggesteekte prooi word met sensitiewe steekhare bokant die bolip opgespoor.

REGS: ’n Walrustrop op ’n klipperige strand.

Foto: Minerals Management Service / U.S. Department of the Interior

Dit is bekend dat groot walrusse ander soorte robbe kan aanval. Die walrus gryp sy slagoffer met sy voorpote vas en gebruik nogmaals sy magtige slagtande om hom dood te kap.


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad