|
DIE WEERHAAN
Punt in die wind!
“EK
wil kyk uit watter hoekie die wind waai,” sê jy dalk soms. Dis ’n
spreekwoord wat beteken dat ’n mens eers wil uitvind hoe sake staan.
Maar om te wil bepaal hoe die lugstrome beweeg, behels veel meer as
wat hierdie idiomatiese uitdrukking te kenne gee. Baie mense is
soggens in baie wêrelddele letterlik besig om na die rigting van die
wind te verneem sodat hulle hul dag daarvolgens kan beplan.
Die Kapenaar sal
byvoorbeeld weet dat hy bittermin indien enige water uit die hemele
kan verwag as die berugte Suidoos met sy kaperjolle begin. Maar waai
die wind uit die noordweste, is die kanse vir reën op sy beste. En
daal die bergwinde na benede, gaan jy daardie dag behoorlik sweet in
die Kaapse hitte.
Daar is natuurlik
verskillende maniere waarop ’n mens kan vasstel uit watter rigting
die wind waai. Een metode is om te kyk na watter kant die wind die
toppe van die bome in jou omgewing buig. Nog ’n manier is om ’n
grassie of twee in die lug op te gooi en te sien waarheen die
bewegende lug dit voer.
Maar sulke metodes is
nie baie akkuraat nie. Boomtoppe kan te stram wees of miskien so
heen en weer wieg dat ’n mens die windrigting moeilik uit hul
roeringe kan aflei. En swewende grassies kan ’n mens erg mislei
wanneer hulle in die lug opgegooi word in stedelike gebiede waar die
wind weens al die geboue in alle rigtings kan ronddwarrel.
Dit is waarom mense
met ’n wetenskaplike ingesteldheid hulle veel eerder na instrumente
sal wend om die windrigting van te stel. Die eenvoudigste apparaat
hiervoor is die sogenaamde windwyser—wat verskillende vorms kan
aanneem waarvan die haan op die kerktoring seker die bekendste is.
Terloops,
’n mens kan nogal wonder hoekom juis die haan gekies is om die
sogenaamde weerhane—ook windhane genoem—op die torings te vorm. ’n
Mens sou dink dis as gevolg van die gewoonte van hane om hulle
soggens op hoë stellasies tuis te maak en die koms van die daglig te
verkondig. Die weerhaan sou dan ook sinnebeeldig kon wees van die
lig wat deur die Christendom in die harte van Christene gebring
word. Kortom,
die haan verteenwoordig opstanding of herrysenis omdat hy die
dagbreek aankondig.
In die Rooms-Katolieke
kerke van vroeër sou die haan op die kerktoring ook sondaars kon
waarsku teen die verloëning van Christus—soos toe Petrus vir Jesus
drie maal verloën het voordat die haan gekraai het (Matthéüs
26:34).
Tog lyk dit of die
haan reeds in die tye voor Christus se omwandelinge op die aarde vir
verskillende mense ’n godsdienstige betekenis gehad het. Vir die
Mede byvoorbeeld, ’n volk wat in die Oudheid in die teenswoordige
Iran gewoon het, sou die gekraai van die haan die manne geroep het
om hul godsdienstige pligte na te kom.
Iets van die heidense
belangstelling in die einste hoenderhaan kon ook op die vroeë
Christelike kerk afgeskilfer het, net soos die boom as heidense
simbool ’n Kersboom in die Christelike wêreld geword het.
Hoe ook al, hoe werk
’n weerhaan—trouens, enige dergelike eenvoudige instrument of
windwyser wat die rigting aantoon waaruit die wind waai?
Basies is dit ’n pyl
wat in die wind in wys, met ’n stertvin aan die ander punt van die
pylskag. Hierdie pylskag draai vry op ’n steunpunt reg onder hom,
sodat die pyl na die bepaalde windrigting kan beweeg sodra die wind
van rigting sou verander.
Die eenvoudigste
windwyser kan gemaak word met harde karton, ’n plastiekstrooitjie,
kleeflint (“Sellotape”), ’n gewone kopspeld en ’n nuwe potlood met
‘n uitveërtjie aan die bopunt. Bou dan jou windwyser as volg:

Dieselfde beginsels
word gevolg om ’n regte weerhaan maak, buiten dat ’n pypie of stafie
miskien onderaan ’n metaalpyl gesweis sal word sodat die pypie dan
binne-in ’n groter pyp sal draai. Bo-op die pyl word ’n groot
hoenderhaan van metaal staangemaak. Ondertoe, uit die groter pyp wat
nie beweeg nie, strek die arms van ’n metaalkruis uitwaarts om die
vier windstreke aan te dui. Die weerhaan met sy toebehore kan dan só
lyk:

’n Gesofistikeerde windwyser hoef
natuurlik nie altyd ’n hoenderhaan te hê nie, maar kan ewe goed
pronk met ’n springbok, dolfyn, perd, duif, vliegtuigie of wat ook
al.
-
Klik hier en kyk
byna onderaan die Mieliestronk-artikel oor windenergie hoe lyk
’n windmeter wat nie net
aandui uit watter rigting die wind waai nie, maar ook wat die
windsterkte is.
-
’n Toestel wat die windsnelheid meet, word
’n anemometer genoem. Jy sal heel onderaan die bogenoemde
artikel ook kan sien hoe jy self ’n soort anemometer kan maak.
|