’n Laslappie van Mieliestronk

DIE WEERHAAN

Punt in die wind!

  • Kyk ook die Beaufort-skaal vir windsterkte reg onderaan ons kort artikel oor weerhane

Weerhaan“EK wil kyk uit watter hoekie die wind waai,” sê jy dalk soms. Dis ’n spreekwoord wat beteken dat ’n mens eers wil uitvind hoe sake staan. Maar om te wil bepaal hoe die lugstrome beweeg, behels veel meer as wat hierdie idiomatiese uitdrukking te kenne gee. Baie mense is soggens in baie wêrelddele letterlik besig om na die rigting van die wind te verneem sodat hulle hul dag daarvolgens kan beplan.

 

Die Kapenaar sal byvoorbeeld weet dat hy bittermin indien enige water uit die hemele kan verwag as die berugte Suidoos met sy kaperjolle begin. Maar waai die wind uit die noordweste, is die kanse vir reën op sy beste. En daal die bergwinde na benede, gaan jy daardie dag behoorlik sweet in die Kaapse hitte.

 

Daar is natuurlik verskillende maniere waarop ’n mens kan vasstel uit watter rigting die wind waai. Een metode is om te kyk na watter kant die wind die toppe van die bome in jou omgewing buig. Nog ’n manier is om ’n grassie of twee in die lug op te gooi en te sien waarheen die bewegende lug dit voer.

 

Maar sulke metodes is nie baie akkuraat nie. Boomtoppe kan te stram wees of miskien so heen en weer wieg dat ’n mens die windrigting moeilik uit hul roeringe kan aflei. En swewende grassies kan ’n mens erg mislei wanneer hulle in die lug opgegooi word in stedelike gebiede waar die wind weens al die geboue in alle rigtings kan ronddwarrel.

 

Dit is waarom mense met ’n wetenskaplike ingesteldheid hulle veel eerder na instrumente sal wend om die windrigting van te stel. Die eenvoudigste apparaat hiervoor is die sogenaamde windwyser—wat verskillende vorms kan aanneem waarvan die haan op die kerktoring seker die bekendste is.

 

WeerhaanTerloops, ’n mens kan nogal wonder hoekom juis die haan gekies is om die sogenaamde weerhane—ook windhane genoem—op die torings te vorm. ’n Mens sou dink dis as gevolg van die gewoonte van hane om hulle soggens op hoë stellasies tuis te maak en die koms van die daglig te verkondig. Die weerhaan sou dan ook sinnebeeldig kon wees van die lig wat deur die Christendom in die harte van Christene gebring word. Kortom, die haan verteenwoordig opstanding of herrysenis omdat hy die dagbreek aankondig.

 

In die Rooms-Katolieke kerke van vroeër sou die haan op die kerktoring ook sondaars kon waarsku teen die verloëning van Christus—soos toe Petrus vir Jesus drie maal verloën het voordat die haan gekraai het (Matthéüs 26:34).

 

Tog lyk dit of die haan reeds in die tye voor Christus se omwandelinge op die aarde vir verskillende mense ’n godsdienstige betekenis gehad het. Vir die Mede byvoorbeeld, ’n volk wat in die Oudheid in die teenswoordige Iran gewoon het, sou die gekraai van die haan die manne geroep het om hul godsdienstige pligte na te kom.

 

Iets van die heidense belangstelling in die einste hoenderhaan kon ook op die vroeë Christelike kerk afgeskilfer het, net soos die boom as heidense simbool ’n Kersboom in die Christelike wêreld geword het.

 

Hoe ook al, hoe werk ’n weerhaan—trouens, enige dergelike eenvoudige instrument of windwyser wat die rigting aantoon waaruit die wind waai?  

 

Basies is dit ’n pyl wat in die wind in wys, met ’n stertvin aan die ander punt van die pylskag. Hierdie pylskag draai vry op ’n steunpunt reg onder hom, sodat die pyl na die bepaalde windrigting kan beweeg sodra die wind van rigting sou verander.

 

Die eenvoudigste windwyser kan gemaak word met harde karton, ’n plastiekstrooitjie, kleeflint (“Sellotape”), ’n gewone kopspeld en ’n nuwe potlood met ‘n uitveërtjie aan die bopunt. Bou dan jou windwyser as volg:

 

Weerhaan

 

Dieselfde beginsels word gevolg om ’n regte weerhaan maak, buiten dat ’n pypie of stafie miskien onderaan ’n metaalpyl gesweis sal word sodat die pypie dan binne-in ’n groter pyp sal draai. Bo-op die pyl word ’n groot hoenderhaan van metaal staangemaak. Ondertoe, uit die groter pyp wat nie beweeg nie, strek die arms van ’n metaalkruis uitwaarts om die vier windstreke aan te dui. Die weerhaan met sy toebehore kan dan só lyk:

 

 Weerhaan

 

’n Gesofistikeerde windwyser hoef natuurlik nie altyd ’n hoenderhaan te hê nie, maar kan ewe goed pronk met ’n springbok, dolfyn, perd, duif, vliegtuigie of wat ook al.

  • Klik hier en kyk byna onderaan die Mieliestronk-artikel oor windenergie hoe lyk ’n windmeter wat nie net aandui uit watter rigting die wind waai nie, maar ook wat die windsterkte is.

  • ’n Toestel wat die windsnelheid meet, word ’n anemometer genoem. Jy sal heel onderaan die bogenoemde artikel ook kan sien hoe jy self ’n soort anemometer kan maak.


Wind: ’n voorstelling

Foto: MSKARG

Dankie, wind, vir die Afrikaanse taal!

AS dit nie vir die wind was nie, het ons dalk nooit Afrikaans in Suid-Afrika gepraat nie. Of die taal van die Britse Eilande was straks nie Engels nie, maar Spaans!

Onsinnige stellinge? Dit kan op die oog af so lyk. Totdat 'n mens ’n bietjie ingaan op die rol wat wind in die wêreldgeskiedenis gespeel het. ’n Mens kan jou hande saamslaan van verbasing as jy die eintlike invloed besef wat al die woelige lugstrome op ons lewens het.

Wind het werklik die ontstaan van 'n land soos Nederland teweeggebring. Dit het die windmeulens gedraai, wat graan gemaal, hout gesaag en die land drooggelê het deur die see daaruit te pomp.

Wind het gehelp om die Nederlanders een van die groot handelsvolkere te maak en het hul skepe voortgestu na elke uithoek van die aarde. Só het die Kaap dan Hollands geraak—en Suid-Afrika uiteindelik ook gedeeltelik Afrikaans.

Engeland kon vir die heersende westewinde dankie sê vir die oorwinning oor die Spaanse vloot (armada) in 1588, omdat dié windrigting die ligte Britse oorlogskepe bo die lompe Spaanse vaartuie bevoordeel het. As sake andersom was, was Brittanje dalk vandag vol Spanjaarde. Daar is nog verskeie sulke voorbeelde wat die rol van die wind in die verloop van die geskiedenis illustreer.


Die Beaufort-skaal vir windsterkte

DIE sterkte van die wind op enige gegewe oomblik kan op die sogenaamde Beaufort-skaal aangedui word. Met die ontwikkeling van skeepvaart het dit nodig geword om die name vir lugstrome se bewegingskrag te standaardiseer, want wat vir die een matroos ’n “ligte windjie” was, kon vir die ander “ ’n heel sterkerige wind” wees.

Die standaardisasie is in 1805 deur sir Fancis Beaufort, ’n Ierse admiraal in die Britse vloot, gedoen. Sy skaal is in 1850 aangepas om ook buite die vloot gebruik te kon word, en skaalnommers is aangebring om met die omwentelinge van die bakkies-anemometer ooreen te stem. Daar was nog aanpassings van die skaal op verskillende tye, onder meer sodat weerkundiges dit ook kan gebruik.
     

     

Beaufort- nommer Windsnelheid in km/h Beskrywing Golfhoogte in meter ter see Toestande op land
0 0

Kalm

0

Kalm. Rook trek loodreg boontoe
1 1-6

Ligte lugbeweging

0,1

Windbeweging sigbaar in rook
2 7-11

Ligte bries

0,2

Wind word op ontblote vel gevoel. Blare ritsel
3 12-19

Sagte bries

0,6

Blare en kleiner takkies beweeg gedurig
4 20-29

Matige bries

1

Stof en los papiere waai rond. Klein takke begin beweeg
5 30-39

Fris bries

2

Klein bome
swaai
6 40-50

Sterk bries

3

Groot takke in beweging. Gefluit hoorbaar in kragdrade. Gebruik van sambrele raak moeilik.
7 51-62

Amperse stormwind (Engels: “Near gale”)

4

Hele bome in beweging. Inspanning nodig om wind op te loop
8 63-75

Stormwind (Engels: “Gale”)

5,5

Klein takkies van bome afgebreek.  Motors op paaie van koers af gedwing
9 76-87

Sterk stormwind (Engels: “Strong gale”)

7

Ligte skade aan strukture
10 88-102

Storm (Engels: “Storm”)

9

Bome ontwortel. Aansienlike skade aan strukture
11 103-119

Hewige storm (Engels: “Violent storm”)

11,5

Wydverspreide skade aan strukture
12 120

Orkaan (Engels: “Hurricane”)

14+

Aansienlike en wydverpreide skade aan strukture

 


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad