|
Ysberge...
die skouspelagtige natuurformasies van die aarde se vrieskoue poolstreke Ys-lik
kolossaal Ysig
kalm dobber hulle oor die paaie van die see... verraderlike wit kolosse
wat hul grootste deel onder die water wegsteek en gate in die rompe van
verbygaande skepe kan ruk. Maar daar is ’n groot verskil tussen die
gletserberge van die Noordelike Yssee en die reuse-tafelberge wat van
die Antarktiese ysbanke wegbrokkel. By elke poolstreek speel die
fassinerendste dramas hulle af... |
|||||
|
Gletser-ysberg
Foto: USFWS / DLS |
|||||
|
Enorme tafel-ysberg
BO: Tafelberge, daarenteen, wat tientalle kubieke kilometer groot kan wees, breek by Antarktika (in die suide) van die rande van groot ysbanke af. Hulle is breed, glad en plat aan die bokant en is dikwels baie groter as gletserberge. Antarktika is ’n met ys en sneeu bedekte vasteland rondom die Suidpool. Dit beslaan 14 miljoen vk. km—byna die helfte so groot as Afrika. Minder as twee persent van die land lę nie onder die ys nie. Ysbanke is egter groot plate ys wat in baaie bo-oor die see vorm. As die ys daar gereeld wegkalwe, word die massiewe, ysige tafelberge gevorm. Foto: Josh Landis / US National Science Foundation |
|||||
Antarktika, in die verre
suide van ons planeet, is weer ’n vasteland wat omring word deur die
see. Die suidelike ysberge brokkel die hele jaar deur weg van gletsers
en bankys en is so massief dat hulle selfs tientalle kubieke kilometer
groot kan wees. Dit kan tot tien jaar duur voordat só ’n ongelooflike
bielie van ’n ysberg uiteindelik wegsmelt. ’n Mens kan nie
werklik die suidelike reuse (kenmerkende plat tafelberg-formasies) met
die veel kleiner noordelike gletserberge (meestal ongelyke vorms)
vergelyk nie. Maar telkens wanneer groot hompe ys in ongewone tempo’s
in enige van die twee poolstreke van die groot ysmassas wegkalwe, is
daar hernieude vrese by baie mense dat aardverwarming besig is om die
aarde se poolys te laat smelt. Dele van die groot, ysige brokstukke
kan skouspelagtig vertoon in verskillende skakerings van blou of groen.
Blou ys is ou ys, partykeer meer as tweeduisend jaar oud, terwyl groen
ys alge bevat. Die groen kleur kan ook vanweë yster- en
koperverbindings in die groot massa bevrore water wees. Slegs drie persent van die
aarde se water is vars en daarvan is twee derdes kliphard gevries in
yskappe en gletsers. Gletsers kan as ysstrome beskryf word. Hulle beweeg
soos riviere, net baie langsamer—miskien een, dalk tien, straks
twintig meter per dag—en kom dikwels in koue klowe voor waar hulle
deur die opeenhoping van sneeu gevorm word. Die ys wat die see bereik,
kalwe dan as ysberge weg. Gletsers aan die weskus van Groenland is
verantwoordelik vir die meeste ysberge wat in die Noordelike Halfrond
ontstaan. Sowat sewe agtstes van ’n
ysberg lę dikwels onder die water, maar dit kan meer of minder wees na
gelang van die digtheid van die ys. Die mindere deel wat wel bo
uittroon, het tot die bekende (en enigsins Anglisitiese) spreekwoord
“die punt van die ysberg” gelei, wat beteken dat daar iewers ’n
veel groter probleem bestaan as wat op die oog af lyk. (’n Goeie
Afrikaanse alternatief is “die ore van die seekoei”.) Omdat so ’n betreklik
klein deel van ysberge in die reël bokant die water uitsteek, word hul
beweging meer deur seestrome as deur die wind beďnvloed. Wanneer die
yskolosse die skeepsroetes binnedrywe, raak hulle ’n ernstige gevaar.
Die mees berugte skeepsramp wat op ’n botsing teen ’n ysberg gevolg
het, was die sinking van die Britse spogskip die Titanic op 14 April
1912. Meer as 1.500 mense het in
hierdie tragedie omgekom. Daar is al geraam dat minstens 10 000 ysberge elke jaar van die Groenlandse gletsers wegkalwe. ’n Paar daarvan beweeg met die Oos-Groenlandse seestroom en Labrador-stroom suidwaarts tot in die Noord-Atlantiese Oseaan.
Foto: USGS /
NASA Die letterlik “yslike” plat ysberge wat op hul beurt van die Ross-ysbank en ander ysbanke in die Suidpool-węreld rondom Antartika wegbeek, kan selfs meer as 100 km lank wees. Baie van hulle drywe so ver noord as 60° S tot in die Stille Oseaan of Indiese Oseaan voordat hulle oplaas ’n onwaardige smeltdood tegemoetgaan.
Ysberge word węreldwyd
gemonitor deur die Amerikaanse National Ice Center (NIC), wat in 1995
gestig is. Verreweg die meeste inligting vir die ontleding van die ys in
die oseane word verkry van satelliete wat die aarde se poolstreke
beloer. Die NIC is ook die enigste
organisasie wat die spoor van alle Antarktiese ysberge volg. Name word
aan hulle toegeken en dié wat langer as sowat 16 km is (10 myl volgens
die Amerikaners) word aangedui met ’n letter wat toon waar die ysberg
ontstaan het, gevolg deur ’n kumulatiewe getal. Die letters word as volg
toegeken: A – lengteligging 0° tot
90° W (Bellingshausen-see, Weddell-see) Só was daar die enorme
ysberg B15, wat in 2000 van die Ross-ysbank weggekalwe en ’n
aanvanklike oppervlakte van 11.000 km˛
gehad het. Dit het in November 2002 in twee gebreek en die grootste
oorblywende deel—die berg B-15A met ’n oppervlakte van 3000 km˛—was
steeds die grootste ysberg op aarde totdat dit in Oktober 2005 in etlike
dele verbrokkel het. Nie al die ys wat van
ysrande wegbreek, kan onder ysberge gegroepeer word nie. Groterige
fragmente staan in Engels bekend as bergy bits (berg-brokstukke),
kleineriges as growlers (yshompe). Saam word na alle fragmente
as brash ice (brokkel-ys) verwys. Dit is te betwyfel of ons in
Afrikaans werklik name daarvoor het, want in ons Suid-Afrikaanse
omstandighede het ons so goed as nooit met ysberge te doen nie. Lewensloop
van ’n ysberg SODRA
ysberge van die rande van ysbanke of gletsers begin wegdryf, is
stormgolwe en die wind van meet af doenig om kepe, spelonke en tonnels
in en deur hul wande te vreet. Die ysberge bots woes teen mekaar en saai
stukke ys in die see. Gedra
deur die seestrome, dryf die ysberge geleidelik na warmer waters,
honderde kilometers ver, waar die son helderder skyn en hul ysige
binneste vinniger wegsmelt. Saamgeperste rotspuin en klein
lugborreltjies, wat tientalle eeue binne-in die ys vasgevang was, word
geleidelik blootgelč. Namate
ysberge ouer word, begin ’n deurmekaarspul van spitse en ander bisarre
vorms verskyn. Mettertyd is al wat gesien kan word ’n paar suile wat
bo die see uitsteek. In
hierdie stadium kan die hele ysmassa, wat nou ongebalanseerd is, omrol
om ’n gloeiende smaragkleurige onderkant te ontbloot. Die groenerige
kleur van die basis word deur yster- en koperverbindings in die ys
veroorsaak. Hierdie omgekeerde ysberge is opnuut die slagoffers van erosie deur die son en wind, raak naderhand weer onstabiel en tuimel nogmaals om. Só gaan dit voort totdat die berg uiteindelik heeltemal verdwyn.
Foto: NOAA Water
van ysberge DIE
gedagte om ysberge as ’n bron van vars water
na
die kuste van Suid-Afrika, Australië en die Amerikas te sleep, is al
meer as een keer in die verlede geopper. Daar is egter ’n paar
ingewikkelde vraagstukke wat met die idee gepaard gaan, soos die
buitensporige koste, die verlies aan water weens wegsmelting tydens vervoer
en newe-effekte rakende die ekologie en omgewing. Hoe problematies dit ook al is, glo party mense dat daar die een of ander tyd in die toekoms ernstig aan die aansleep van ysberge vir waterverskaffing gedink sal moet word. En as dit gebeur, sal een van die mens se grootste probleme—waterskaarste—’n reuse-stap nader aan ’n oplossing wees. ’n Ys-like deurbraak, kan ’n mens maar daarvan sę. |
|||||