|
Ons
eens florerende buurland raak een kolossale bouval… ironies net soos die
bekende antieke bouvalle van Zimbabwe… Tragedie
van die nuwe
REGS
BO: Die Zimbabwiese hoofstad Harare (vroeër Salisbury).
Die
wolkekrabbers dui nog op voorspoed, maar waarnemers sê hulle is bloot
deel van ’n verlore glorie. Foto:
Gerekenariseerde eenkleurweergawe van ’n amptelike volkleurfoto. |
||
|
Artikel saamgestel op 22 Oktober 2005*) |
||
IS
darem ironies, sê baie waarnemers vandag, dat Zimbabwe juis sy naam van
die bekende Zimbabwe-ruïnes gekry het. Want die land was tot betreklik
onlangs nog een van die mees florerende Afrika-state. Nou is dit self
vinnig besig om in een kolossale bouval te verander. Die
volgende is slegs een voorbeeld van die bitter hartseer ontaardingsproses wat hom
anderkant ons noordgrens afspeel: Hoewel Zimbabwe eenmaal kos kon uitvoer,
moet sowat vier miljoen Zimbabwiërs tans aan die lewe gehou word deur
buitelandse aalmoese in die vorm van voedsel. Die
ware Zimbabwe-ruïnes is ’n kompleks van imposante murasies, wat in die
suid-sentrale deel van die land geleë is en kennelik van ’n lank
vergange bloeityd in hierdie wêrelddeel getuig. Maar soos die koninkryk
van die ou ruïnes is die republiek van Zimbabwe se gloriedae ook nou
tragies verby. Wat meer sê, daar word met groot besorgdheid in
Suid-Afrika na ons buurstaat se dreigende ineenstorting gekyk, want ons
gaan sekerlik self nie ongeskonde daarvan afkom indien dit sou gebeur nie. Zimbabwe
se ekonomie lê aan skerwe, verbrysel deur ’n enorme berg van
buitelandse skuld en ander faktore. Die landbousektor is so te sê
verwoes, die gevolg van die roekelose onteiening van plaasgrond wat aan
blankes behoort het. Sout in die wonde van ’n kreperende gemeenskap was
toe ’n groot menigte voorstedelike plakkershuise in 2005 genadeloos
platgestoot is om konsuis van die "skuim" van die samelewing
ontslae te raak. Maar
wie of wat is verantwoordelik vir hierdie geweldige krisis? Volgens
talle kenners is dit alles grootliks te wyte aan ’n magsbeluste
president wat hom as een van die mees stiksiende kontemporêre leiers op
ons planeet bewys het. ’n Groot deel van die wêreldgemeenskap sal
inderdaad ’n sug van verligting slaak as die meer as tagtig jaar oue
pres. Robert Mugabe en sy trawante uit die kussings gelig kan word.
Tog
is Mugabe (gebore 21 Februarie
1924) onlangs nog deur sekere lande op ’n
internasionale byeenkoms toegejuig toe hy teen die regeringshoofde van
Brittanje en Amerika uitgevaar het. As gewese verbete vryheidsvegter geniet
hy steeds meer as verdiende aansien, nie soseer vanweë sy beleide nie, maar
omdat hy hom so kragdadig en oënskynlik vreesloos teen die Weste verset. Waar
het alles dan eintlik vir Zimbabwe begin? Die jongste hoofstuk in die
veelbewoë geskiedenis van die land is deur verskeie onstuimige episodes
voorafgegaan. Hieronder volg ’n vlugtige opsomming van die land se verlede
en die aanloop tot die huidige rampspoedige situasie. Verder ondertoe is ook
enkele statieke oor die geografie, mense, regering en ekonomie van die land.
Voorgeskiedenis
en die Suid-Rhodesiese era HOEWEL
min omtrent die gebied se vroeë geskiedenis bekend is, reken argeoloë dat
’n goed ontwikkelde inheemse staatkundige bestel reeds so vroeg as die
elfde eeu nC in dié wêrelddeel bestaan het. Die eerste Europeërs wat die
streek verken het, was die Portugese in die sestiende eeu. Die Europese
belangstelling in die gebied het egter eers wesenlik opgevlam met die
ontdekkingsreise van die Skotse sendeling David
Livingstone in die middel van die 1800’s. In
die vroeë 1890’s het die British South Africa Company van die Britse
imperialis Cecil John Rhodes mineraalregte van die streek se bewoners verkry
in ruil vir Britse beskerming. Hierdie maatskappy het Suid-Rhodesië (soos
die gebied destyds genoem is) gekoloniseer, ontwikkel en tot 1923
geadministreer. Suid-Rhodesië het in daardie jaar ’n selfregerende Britse
kolonie geword. In
1953 is Suid-Rhodesië in ’n federasie met Noord-Rhodesië (die huidige
Zambië) en Njassaland (tans Malawi) verenig, maar die federasie is ná ’n
dekade in 1963 ontbind. In
1963-64, te midde van toenemende rassespanning, het Suid-Rhodesië se
betreklik klein groepie blankes Britse voorstelle verwerp vir die
uiteindelik oordrag van die regering aan die swart meerderheid. Toe
Brittanje weier om die land sy onafhanklikheid te gee tensy die grondwet
toekomstige swart beheer sou waarborg, het die blanke bewind onder Ian Smith
Suid-Rhodesië in 1965 eensydig onafhanklik verklaar en dit bloot tot
Rhodesië herdoop. Guerrilla-oorlog
en uiteindelike meerderheidsregering BRITTANJE
het botweg geweier om Rhodesië se soewereiniteit te erken en feitlik alle
handel met sy weggebroke kolonie verbied. In 1966 het die Veiligheidsraad
van die Verenigde Nasies sekere ekonomiese sanksies teen Rhodesië ingestel
en in 1968 ’n algehele handels- en reisblokkade gelas. Rhodesiese soldate
het keer op keer met swart Rhodesiese uitgewekenes gebots wat
guerrilla-aanvalle vanuit basisse in Zambiê geloods het. Die
guerrilla-oorlog
was op sigself vermoeiend, maar dit was veral die
hewige buitelandse druk wat die blanke Rhodesiërs met verloop van tyd nie
langer kon weerstaan nie. Hulle het ’n ooreenkoms met gemagtigde leiers
gesluit wat in 1979 tot ’n swart-wit koalisieregering met die beveiliging
van blanke regte onder biskop Abel Muzorewa as premier in die hernoemde
staat van Zimbabwe-Rhodesië gelei het. Muzorewa se regering is egter wyd
beskou as ’n swart front vir voortgesette blanke oorheersing en het
betreklik min steun by die massas geniet. Uiteindelik,
ná netelige onderhandelings tussen die belanghehhendes aan die einde van
1979 in Lancaster House in Londen, is ’n vrye verkiesing in Februarie 1980
in die herstelde Britse kolonie gehou wat tot internasionaal erkende
onafhanklikheid op 17 April van daardie jaar gelei het. Zimbabwe-Rhodesië
het in die proses sy dubbeldoor-naam verloor en eenvoudig Zimbabwe geword. Die
Mugabe-era ROBERT
MUGABE, die onafhanklike Zimbabwe se eerste premier, was sedertdien die
enigste heerser van Zimbabwe (as president sedert 1987) en hy oorheers
steeds die land se politieke bestel. Aanvanklik het hy hom so goed van sy
taak gekwyt dat selfs van sy vorige aartsvyande lof daarvoor gehad het. Maar
rondom die afgelope eeuwisseling het betrekkinge tussen Mugabe en Brittanje
tot ’n noodwendige breekpunt verswak omdat hy in die eiendomsbesit van
Zimbabwe se blanke minderheidsgroep ’n sondebok vir sy land se probleme
gesoek het. Sy
uiters drastiese optrede teen die land se blanke boere het ’n geleidelike
aanloop gehad. Zimbabwe is so erg deur ’n verwoestende droogte
gekniehalter dat ’n nasionale noodtoestand in 1992 afgekondig is. Nog
iets wat die land se geldkoffers help dreineer het, was sy
betrokkenheid in 1998-2002 by die oorlog in die Demokratiese Republiek van
die Kongo. Toe die ekonomiese skoen erg begin druk, moes die lydende swart
massas op die een of ander manier gepaai word. En die wit elite moes dit
ontgeld. Die
blankes van Zimbabwe—minder as een persent van die bevolking—het met
onafhanklikwording sewentig persent van die land se kommersieel bewerkbare
grond besit, waarvan tagtig persent sedert 1980 wettig aangekoop is. In 1999
het Mugabe egter met sy hoogs omstrede "grondhervormings" begin, met
5 000 plase in sy visier wat nog deur blankes besit is en sewentien
persent van die land uitgemaak het. Dit
het doodeenvoudig daarop neergekom het dat talle blankes se plase
gewelddadig deur swartmense beset is en die verpletterde eienaars geen ander
keuse gehad het as om sonder vergoeding van hul eie grond pad te gee nie. Hierdie
vergryp het daartoe gelei dat Zimbabwe uit die Statebond geskors is op grond
van menseregteskendings en ook omdat daar met die verkiesinguitslae van 2002
gepeuter sou gewees het. Zimbabwe het hom later uit die Statebond onttrek. Die
grondbesettings self was, soos verwag kon word, ’n fatale ekonomiese
flater. Die brute oorname van die plase van kundige blankes het tot
grootskeepse ellende gelei omdat daar geen oeste meer was nie. Tot
oormaat van ramp het Zimbabwe tans ’n geweldige vigs-probleem. Trouens,
die Verenigde Nasies het onlangs geraam dat meer as een uit elke drie
Zimbabwiërs (34 persent)
MIV/vigs het, moontlik die grootste persentasie op aarde, in vergelyking met
die wêreldgemiddelde van sowat 0,65 persent. Die
grondhervormings was boonop lank nie die enigste menseregteskending van die
Mugabe-bewind nie. Ná die verkiesing van 2005 het die regering byvoorbeeld
"Operasie Murambatsvina" ingestel om konsuis van onwettige markte
en plakkershuise ontslae te raak. Maar waarop die opruimingsproses neergekom
het, is dat ’n groot deel van die stedelike armes dakloos gelaat is. Daar
is die persepsie dat hulle deur die Mugabe-bewind gestraf is omdat
hulle—anders as die plattelandse kiesers—in die verkiesing meestal teen
Mugabe gestem het. Hoe
lank die bejaarde Mugabe nog die leisels in sy wankele land kan vashou, is
’n ope vraag, maar sy veiligheidsmagte smoor steeds enige opstand teen sy
gesag met alle mag tot hul beskikking. Intussen hou die mense van Suidelike
Afrika asem op vir wat nog vorentoe kan gebeur. Nie almal stem saam met ons
pres. Thabo Mbeki se beleid van stille diplomasie jeens Mugabe nie, maar
almal is dit met hom eens dat dit in geeneen van ons se belang is dat
Zimbabwe ondergaan nie. |
||
|
Geografie
van Zimbabwe •
Ligging: |
||
|
|
||
|
Regering
van Zimbabwe |
||
|
Ekonomie
van Zimbabwe
Daardie
sogenaamde "hervormingsprogram", gekenmerk deur chaos en geweld,
was ’n geweldige slag vir die kommersiële boederysektor, die
tradisionele bron van uitvoere en buitelandse valuta en die voorsiener van
400 000 werkgeleenthede.
Vir Zimbabwe is die skrif duidelik aan die muur…*) Sekere inligting en grafika met dank uit The World Factbook van die Amerikaanse CIA , met inagneming van hul afstanddoening van kopiereg soos vervat in die volgende stellings op hul Copyright Information-bladsy: "The Factbook is in the public domain. Accordingly, it may be copied freely without permission of the Central Intelligence Agency (CIA)." |
||