Anglo-Boereoorlog
       

 Deel 3:
 

Tragedie van verwoeste plase en konsentrasiekampe… en die verskriklike ontberings van wit en swart

  

Die lyding van die onskuldiges

 

Dit was die oorlog wat die begin van die einde van die groot Britse Ryk ingelui het. Brittanje is boonop regoor die wêreld veroordeel vir sy behandeling van Boerevroue en -kinders in konsentrasiekampe tydens dié oorlog. Minder bekend was dat daar ook destyds duisende swart mense in sulke kampe was—’n langverswygde, maar skrynende waarheid wat eers in die afgelope tyd wyer bekend geword het. Terwyl ’n hele geslag potensiële Afrikaners weens soveel kindersterftes in die kampe uitgewis is, het die sterftes onder swartes eweneens die hoogte ingeskiet. Soos aan die Boerekant was die meeste swart oorledenes kinders (81 persent). In hierdie artikel word gekyk na hierdie onverkwiklike episode in ons geskiedenis en die wrange nasleep wat dit nog baie, baie lank in die land sou hê. Eintlik kan ons hele twintigste-eeuse geskiedenis nie reg begryp word sonder hierdie kennis nie…

 

Illustrasies en foto by hierdie artikel kom uit bronne waarvan die kopiereg van die beeldmateriaal stellig weens verjaring verval het

 

Let wel: Sekere van die inligting by hierdie artikel verskyn ook op die Mieliestronk-werf onder die opskrif
Hoogste offers van die kinderhelde
By daardie artikel is meer foto’s oor kinderlyding.

 


 

IN enige oorlog gebeur dit altyd: daar is ’n menigte onskuldiges wat ly en sterf. En die Anglo-Boereoorlog, met sy duisende Boerevroue en -kinders, asook swart mense wat onvermydelik by die bloedige stryd betrokke sou raak, was allermins ’n uitsondering.

 

Trouens, veral in ’n sekere fase van die oorlog het dinge gebeur wat die destyds magtige Brittanje beslis nie tot eer sou strek nie. Dit was die Britte se instelling van die berugte konsentrasiekampe. Selfs binne Brittanje is dit in bepaalde kringe as ’n skandaal beskou en het dit geweldige beroeringe veroorsaak.

 

Soos dr. Ben Ngubane, gewese Suid-Afrikaanse Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, op ’n keer gesê het: “Die Anglo-Boereoorlog het mense van alle groepe en rasse in Suid-Afrika betrek. Dit was nie bloot ’n ‘Anglo-Boereoorlog’ nie. Dit was ’n deel van ’n groter, eeue-oue Suid-Afrikaanse Oorlog teen kolonialisme in al sy vermommings.”

 

Dr. Ngubane het in Durban gepraat op ’n nasionale konferensie oor die rol van swartes in die oorlog. Min mense sal dit betwis dat daar ’n regstreekse en aktiewe betrokkenheid van swart mense was, het hy gesê. Daar word ál meer besef in watter mate swart mans, vroue en kinders in swart konsentrasiekampe ingekerker is, benewens dié waarin soveel Boerevroue en

-kinders gely en gesterf het.

 

Ons weet ook dat tot honderdduisend swart mense regstreeks aan altwee kante in die oorlog gedien het, in geweldige lewensgevaar,” het dr. Ngubane bygevoeg. “Hierdie mense het as voetsoldate, berede soldate, agterryers, verkenners, spioene, hardlopers en vegters gedien.”

 

Baie geskiedkundige ontleders sê ’n oogluikende doel van die Britse magte met die oprigting van konsentrasiekampe was om die kannie-dood-Boere se moreel te breek deur hul vroue en kinders, bejaardes en ander afhanklikes soos plaaswerkers daarheen weg te voer—al het die Britte ook met ander redes vorendag gekom oor waarom dit nodig sou wees om die mense in kampe te plaas.

 

Hulle het byvoorbeeld die instelling van die konsentrasiekampe probeer regverdig deur aan te voer dat dit bloot om menslikheidsredes gedoen word om die oorlog se haweloses te beskerm.

 

Maar uiteindelik was alles net ’n deel van die Britte se beleid van die sogenaamde “verskroeide aarde”, sê historici. Toe Brittanje besef dat die oorlog teen die Boere-guerrillas veel langer voortsleep as waarvoor hy ooit voorsiening gemaak het, moes die Boere reg in die hart bygekom word. Plaashuise moes verbrand word, gesaaides en veestapels vernietig word, alles wat oor geslagte opgebou is, moes weggeruk word uit die hand van die Boer. Ook almal wat vir hom dierbaar was, moes weggeneem word om so te ly dat hy sou knak: sy vrou, sy kinders, sy ou mense, sy werkers...

 

DIT het alles so militêr sober begin. Toe formele gevegte eindig en die Boere met hul guerrilla-taktiek begin, is gelas dat alle plaashuise van waar aanvalle op Britse soldate of die spoorweë gedoen was, afgebrand moes word. Maar hierby het dit nie gebly nie. Uiteindelik is talle plase ook verwoes slegs omdat Boerevegters daar in staat sou kon gewees het om voorrade en ’n betreklik veilige rusplek te bekom.  

 

   

BO: Terwyl hul plaashuis op die agtergrond

brand, word vroue en kinders na die

konsentrasiekamp weggevoer.

Dié illustrasie wat in ’n Franse tydskrif

verskyn het, toon ooreenkomste met die

skildery bo-aan hierdie artikel.

 

En namate die plaasmense weggevoer is, was daar naderhand ongeveer vyftig konsentrasiekampe, waarin 161 000 mense geïnterneer is. Die kampe is so ondoeltreffend georganiseer en bestuur dat hulle spoedig regoor die wêreld berug geraak het.

 

Mense is van die verwoeste plase af per ossewa, trollie of trein soontoe vervoer—gewoonlik in oop steenkool- of beeswaens sonder enige sanitêre geriewe—of hulle is te voet soontoe aangedryf. Hulle is “higgledy-piggledy” (hot en haar) saamgebondel, om lord Alfred Milner se woord te gebruik. En geen behoorlike reëlings is getref om hulle te huisves nie. Talle moes in die begin in die oop veld probeer regkom totdat tente—baie van dié feitlik onbruikbaar—verskaf is, of hulle is in barakke in die kampe of elders aangehou.

 

Selfs ’n Britse kommissie van ondersoek het bevind dat van die huisvesting, soos hulle dit gestel het, skaars geskik vir varke was.

 

      
BO: In 'n Boere-konsentrasiekamp...

 

Omdat daar nie genoeg komberse, klere en ander beskerming was nie, en partykeer nie eens beddens en matrasse nie, is die geïnterneerdes, veral dié op die Hoëveld van die Vrystaat en Transvaal, aan die uiterste ontberings blootgestel wat hul kragte ondermyn het.

 

Die groot aantal klein kindertjies is die ergste getref. En die swart mense. Hul behandeling, vertel geskiedkundiges, was hagliker as haglik, waar hulle deur die Britte in aparte kampe aangehou is. Daar is van hulle verwag om hul eie akkommodasie op te rig en met selfs kleiner rantsoene as die geïnterneerde wit vroue en kinders tevrede te wees...

 

Want vir swart en wit was daar nie net hopeloos te min kos in die gevaarlik oorvol kampe nie, maar die kos wat daar was, veral vleis, suiker en meel, was aanvanklik van ’n swak gehalte. Boonop was daar geen groente, vrugte en ander noodsaaklike kosse nie. Gevolglik het die kampbewoners, veral die kindertjies, binne maande tot lewende geraamtes weggeteer.

 

’n Britse kampdokter het hom gedwonge gevoel om te rapporteer dat “veral die kinders weens die gebrek in die dieet vermaer en baie min krag het om teen siekte weerstand te bied”.

 

Die sanitasie was ook uiters onvoldoende. Daar was geen behoorlike geriewe vir die weggooi van vullis nie, en latrines was so primitief dat hulle die teelaarde van siektekieme en infeksies geword het. Die gevolg was dat siektes, veral masels, in 1901 in die kampe uitgebreek het en, omdat daar nie genoeg dokters en ander mediese sorg was nie, was daar onrusbarend baie sterftes.

 

Só het daar dan van die 118 000 Boeremense en 43 000 swartes wat in die konsentrasiekampe was, duisende gesterf. ’n Hele geslag potensiële Afrikaners is uitgewis, altesaam 22 074 Boerekinders en
4 182 Boerevroue, terwyl die sterftesyfer onder die swart mense op minstens 14 154 bereken word.

 

Hoe, vra politieke ontleders, sou ’n mens dan ook die menigte oorlewende betrokkenes kon verkwalik wat hulle agterna onwrikbaar voorgeneem het om hulle eendag, wanneer ook al, van alle onregverdige oorheersing te bevry? Al sou die begrip “bevryding” vir verskillende mense heeltemal verskillende betekenisse aangeneem het, is dit iets wat die hele gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die twintigste eeu ten diepste sou bepaal.

 


 

LYS VAN KERKHOWE WAAR BOEREVROUE,

-KINDERS EN OOK -MANS BEGRAWE IS WAT IN DIE KONSENTRASIEKAMPE GESTERF HET

(dit sluit nie die kerkhowe in waar swart mense begrawe is en waaroor inligting ongelukkig nie so geredelik beskikbaar is nie)

 

•    Inligting op 7 Januarie 2013 ontvang van Dirk Schellingerhout, Uitenhage:

ALIWAL-NOORD: Naby Hoërskool in Somersetstraat

BALMORAL: Op plaas Eensaamheid langs Witbank-snelweg

BARBERTON: Munisipale begraafplaas, Gospelstraat

BELFAST: Scheeperstraat, Belfast

BETHULIE: Nuwe terrein, op dorpsgrond, Bethulie 303

BLOEMFONTEIN: Pres. Brand-begraafplaas, Presidentstraat Memorium-begraafplaas, Genl. Brandstraat

BRANDFORT: Op plaas Louvain 286

DURBAN: 

1. Jacobs, h/v Dudley- en Thornstraat;

2. Merebank, h/v Himalaya- en Rawalpindistraat;

3  Isipingo: Naby die stasie

HARRISMITH: Munisipale begraafplaas + monument op markplein voor stadsaal

HEIDELBERG: Nuwe Munisipale begraafplaas, Jacobsstraat

HEILBRON: Munisipale begraafplaas, Hallstraat

HOWICK: Terrein van Umgeni-Instituut [sportterrein]

IRENE: Brudeweg 11, Irene

JOHANNESBURG: Turffontein, Mondeor-dorpsgebied, Malutistraat

KABUSIE: By Stutterheim

KIMBERLEY: Tuin van Herinnering, Hertzogplein, Longstraat

KLERKSDORP: Ou Munisipale begraafplaas op Spoorwegterrein

KROONSTAD: In die nywerheidsgebied, Tenthstraat

KRUGERSDORP: Munisipale begraafplaas, Luipaardstraat

MAFIKENG: 4 km van die dorp op die Vryburgpad, Sterfteregister

MIDDELBURG:

1. Ou munisipale begraafplaas, Voortrekkerstraat;

2. Nuwe munisipale begraafplaas, Oranjestraat

3. Kareelaan, Kanonkop

NORVALSPONT: Ongeveer 5 km onder die damwal van die H.F. Verwoerddam (Gariepdam)

NYLSTROOM: Ou munisipale begraafplaas

ORANJERIVIER-STASIE: Op die plaas Doornbult, distrik Hopetown

OOS-LONDEN: Wesbank-begraafplaas

PIETERSBURG: Agaatstraat, Nywerheidsgebied, Pietersburg

PIETERMARITZ-BURG: Commercialstraat-begraafplaas

PORT ELIZABETH: Tuin van Herinnering, Noord Einde-begraafplaas. k.kamp-monument in Lenoxstr. naby Mountweg SAP

POTCHEFSTROOM:

1. In Bailie Park;

2. Olën Park by die Rugbystadion

SPRINGFONTEIN:

1. Ongeveer 4 km buite die dorp, suidoos van die stasie;

2. Kinderkonsentrasiekampkerkhof, langs dorp se lykshuis

STANDERTON: Ou munisipale begraafplaas, Bergstraat

UITENHAGE: MunisIpale grond [nas. monument ] Verwoerd-rylaan, Vanes, Uitenhage

VEREENIGING: Ou munisipale begraafplaas, Beaconfieldlaan

VREDEFORTWEG: Naby die Greenlands-spoorwegstasie

VOLKSRUST: H/v Joubert- en Laingsnekstraat, by Burgersentrum

VRYBURG: Nuwe woonbuurt, noord van die dorp

WINBURG:

1. In die ou kerkhof in die dorp, Jack Coetzerstraat

2. Vaalkop, 2 km wes van die dorp

 


 

  Terug na Deel 2: klik hier

 


 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad