RACHELTJIE DE BEER:
Geen groter liefde...

Kopie deur Mieliestronk.com. Die illustrasie
is 'n aanpassing van ’n skets deur Rudi Sennett wat in Huisgenoot se
destydse Jongspan-afdeling verskyn het.
IN
die geslagregister van een van die families De Beer in Suid-Afrika verskyn
die naam van ene Dapper George Stephanus de Beer, wat in 1794 gebore is. Of
Dapper toe sy voornaam gestand gedoen het, weet ons nie, maar ’n moontlik
betreklik nabye familielid van hom word vandag steeds gehuldig as een van
die heldhaftigste figure in die geskiedenis van Suid-Afrika.
Wat
haar heldedaad des te aangrypender maak, is dat sy ’n blote
melktand-tienertjie was toe sy haar eie lewe gegee het—om die lewe te red
van haar sesjarige boetie in ’n snerpend koue winternag in die veld.
Haar
naam was Racheltjie de Beer. Dit was 1843, toe
die trekkers van die Groot Trek nog moes spartel om hul staatkundige ideale
te verwesenlik en baie boere steeds nie ’n blywende holte vir hul voet kon
vind nie en aan die rondtrek was om siel en liggaam aanmekaar te hou. Só
was die De Beer-gesin op trek uit die Vrystaat na
die destydse Suidoos-Transvaal op soek na grond.
Een
nag staan die gesin toe oor in die veld op ’n welwillende boer se plaas.
Die beeste is aan die einde van die dag in die takkraal gejaag, maar een
kalfie is soek. Die De Beer-kinders is baie geheg aan hierdie kalfie en noem
hom Frikkie. En dit kan nie hoër op laer nie, elkeen wat kan, moet na die
vermiste Frikkie help soek.
Onder
die soekers is ook Racheltjie en haar kleinboet. Waar kan Frikkie tog wees?
Die kinders dwaal rond, roep waarskynlik keer op keer Frikkie se naam uit,
maar hul geliefde dierevriendjie is nêrens te vinde nie. Maar in hul
jeugdige onverantwoordelikheid raak hulle geskei van die ander soekers. Die
skemer vou hulle toe, sneeu val uit die groue hemel en Racheltjie en haar
boetie besef hulle is verdwaal.
Racheltjie
is verstandig genoeg om te weet dat hulle aan die loop moet bly, dat hulle
kan verkluim as hulle nie aanhou beweeg nie. Maar uiteindelik kan hulle nie
verder voortploeter deur hierdie verskriklike koue kapoknag nie. Hoe nou
gemaak?
Racheltjie
kry ’n plan. Sy moet ten minste haar boetie van ’n gewisse dood red, al
moet dit beteken dat sy haar eie lewe vir hom neerlê. Met ’n klip begin
sy ’n miershoop uithol. Sy trek haar klere uit en trek dit vir haar boetie
aan. Klim in die miershoop in, sê sy vir die seuntjie. En toe hy dit doen,
gaan lê sy voor die holte en beskerm hom met haar naakte liggaampie.
Dis
hoe die grootmense die kinders die volgende môre gevind het: Racheltjie met
haar brose lyfie verkluim en leweloos voor die bek van die uitgeholde
miershoop in die veld. Haar boetie was styf van die koue, maar hy het
gelewe.
Maar
al was Racheltjie de Beer dood, bly haar gedagtenis langer as ’n eeu en
’n half nog lewend en word sy onthou met ’n deernis wat oor alle groeps-
en taalgrense heen strek. Sy het die hoogste offer gebring. En sy was maar
net weerlose meisietjie van twaalf.
|