|
|
||||||
|
Swamme is nie plante nie en ook nie diere nie, maar ’n eienaardige groep lewende dinge wat onder een sambreel saamgegroepeer word. Party van hulle lewe van dooie blare en ander bestaan weer net op lewende mense! Wie sou ooit kon dink dat daar ’n verwantskap tussen paddastoele en atleetvoet of daardie hinderlike omlope bestaan? | |||||
|
BO: ’n Skadelike
soort swam, Crinipellis perniciosa, wat kakaobome kan infekteer.
Dit kan daartoe lei dat die bome baie minder bone dra waarvan kakao en
sjokolade gemaak word. (Die swam is in werklikheid meer oranje as die
rooi op ons illustrasiefoto.) Foto: Scott Bauer / USDA / ARS |
||||||
Albei is swamme. Al dink jy
straks aan die een as iets soos ’n mikroskopies klein roof-goggatjie
en aan die ander een as ’n plant. Maar swamme is allermins plante, en
ook nie goggas nie, hoewel hulle sekere eienskappe kan hê wat met die
een of die ander van hierdie groepe ooreenstem. Lewende dinge word deur
geleerdes in groot, basiese sogenaamde koninkryke ingedeel. Baie jare
lank is gereken dat swamme tot die planteryk behoort. Daar is gemeen dat
hulle plante is wat nie stingels of blare het nie en, namate hulle die
vermoë sou ontwikkel het om voedsel te absorbeer, die bladgroen sou
verloor het wat vir fotosintese nodig is. Toe besef die wetenskaplikes
dat swamme eintlik meer soos diere as soos plante is en dat hulle in der
waarheid unieke en afsonderlike lewensvorms is. Die meeste kenners reken
vandag dat swamme as ’n groep tot minstens drie koninkryke behoort,
waaronder die protosoë of eensellige organismetjies. Nagenoeg 100 000
swamspesies is reeds bekend, maar daar is stellig baie meer wat nog
ontdek moet word. Hul wêreld is meestal
verborge. Die deel van die swam wat ons sien, is slegs die “vrug”
van die organisme. Die lewende liggaam van die swam is ’n sogenaamde
miselium, wat bestaan uit ’n web van klein veseltjies wat swamdrade of
skimmeldrade (hifes) genoem word. Die miselium is in die meeste gevalle
weggesteek in grond, hout of ’n ander voedselbron. ’n Miselium kan so groot
soos ’n miertjie wees of verskeie hektare bedek. Die vertakkende
swamdrade kan elke dag 1 km by die totale lengte van die miselium voeg.
Hierdie webbe lewe ongesiens totdat hulle in paddastoele, sampioene,
stuifswamme, knolswamme, sogenaamde duiwelsbrood of ander vrugliggame
ontwikkel. As die miselium vrugliggaampies van mikroskopiese grootte
produseer, kan ’n mens maklik die swam nooit eens opmerk nie. Die lewensiklus van
die meeste swamme is ingewikkeld en sluit gewoonlik ’n seksuele en
’n aseksuele fase in. Hulle plant meestal voort deur middel van
spore—piepklein deeltjies protoplasma wat deur wande omsluit word.
Twaalf miljard of meer spore kan op die vrugliggaam van ’n gewone
paddastoel vorm, maar een soort reuse-stuifswam kan etlike biljoene spore
produseer.
WAMME
verbruik organiese materiaal soos diere. Hulle het weliswaar nie
mae nie, maar hulle “vreet” deur voedingstowwe te absorbeer uit die
organiese materiaal waarin hulle lewe. Hulle moet hul kos verteer
voordat dit deur die selwand tot in die swamdrade kan beweeg. Swamdrade
skei sure en ensieme af wat die omringende organiese materiaal in
eenvoudige molekules afbreek wat hulle maklik kan absorbeer. Die meeste swamme bou boonop die wande van hul selle van chitien, dieselfde stof waarvan die doppe van insekte en ander geleedpotiges gemaak is. Plante vervaardig nie chitien nie. Voorts gaar swamme ook glikogeen, ’n soort stysel, soos diere op.
Een van die gevaarlike
plantsiektes is ergot, ’n soort roesswam wat die are van grane en
grasse aantas en besmet. As ’n mens te veel daarvan inkry, kan dit
selfs noodlottig wees. Vernietigende swamme beskadig boonop gebergde
voedselprodukte—dink maar aan die muf op ou brood. Maar op hul beurt is
wortelskimmels weer die vennote van plante. Hulle verskaf minerale aan
die plante in ruil vir koolhidrate en ander chemikalieë wat swamme nie
kan vervaardig nie. Party swamme lewe in
’n hegte verbintenis met sekere soorte alge. By korsmos is die twee
organismes so op mekaar aangewese dat hulle as ’t ware as een
organisme bestaan. Die intieme saamleef van ongelyksoortige organismes
tot hul wederkerige voordeel word simbiose genoem.
Sampioenfoto: www. freeimages.co.uk (verpligte krediet)
N dan is daar natuurlik die
waardevolle medisyne wat uit swamme berei word, wat siektes genees en
die verwerping van oorgeplante harte en ander organe teëwerk. Trouens, dit was eers met
die onttrekking van die antibiotikum penisillien uit ’n skimmel dat
die moderne geneeskunde eintlik gebore is. Die Skot Alexander
Fleming, ’n bakterioloog aan die St. Mary’s Hospital in
Paddington, Londen, het in 1928 ontdek dat ’n groen skimmel in ’n
kweekbak die bakterieë laat verdwyn het wat vroeër daarin gewees het. Verdere
proefnemings het getoon dat daar geen nadelige newe-effekte was by pasiënte
wie se bakterieë deur die skimmel doodgemaak is nie.
Penisillien was die eerste
heeltemal veilige antibiotikum vir die behandeling en voorkoming van
bakteriese siektes. Maar dit het tog ’n klompie nadele gehad. In sy
ruwe vorm het dit gou sy krag en doeltreffendheid verloor. En destyds
het daar nog geen manier bestaan om dit op groot skaal te vervaardig
nie. Hoewel Fleming hard gewerk
het om die middel te suiwer en te konsentreer sodat dit sy krag kan
behou, was hy geen skeikundige nie en het hy nêrens gekom nie. Eers in
die Tweede Wêreldoorlog sou die groot deurbraak plaasvind.
Foto met vergunning: Merck Archives © Merck & Co. Inc. Ná vier jaar van
intensiewe navorsing oor die chemie van penisillien, kon dr. Ernst
Chain, ’n uitgeweke Duitse chemikus aan die Universiteit van Oxford,
en ’n Australies-gebore professor in siekteleer, Howard Florey, in
1941 die middel in ’n suiwer, gekonsentreerde vorm lewer. Farmaseutiese firmas in
Amerika en later Brittanje het die middel op groot skaal begin
vervaardig en spoedig was dit op die slagveld beskikbaar en is die lewe
van duisende gewonde soldate, matrose, lugmagmanne en burgerlikes gered.
’n Nuwe tydvak in die geneeskunde het begin. En dit te danke aan
’n swam! |
||||||
|
LINKS: Alles wat blink is nie goud nie en alles wat soos ’n paddastoel lyk, is nie ’n paddastoel nie. Die uiterste voorbeeld is die paddastoelwolk van ’n kernbom. Maar deur erosiewerkinge in die natuur kan selfs ’n rots tot ’n “paddastoel” omgeskep word, soos hier! |
||||||
|
Gedaantes van die erg lastige ringwurm (omloop) SWAMME wat hulle op verskillende dele van die menslike liggaam inwurm en vermenigvuldig, het verskillende name: onder meer omloop, ringwurm, douwurm—en natuurlik voetskimmel of atleetvoet, waar hulle op die voete voorkom, en sproei in die mond. Wat die soorte ringwurm of omloop aanbetref, kry ons verskillende tipes, soos kopomloop, liggaamsomloop en liesomloop. In die artikel boontoe moet dit reeds vir ons duidelik geword het dat hier geen sprake is van wurminfeksies nie, al word dit in die volksmond ringwurm genoem. Swamme is die vabonde en geen ander organismes nie. Die eintlike naam vir ringwurm of omloop is tinea, dikwels gevolg deur die Latynse naam vir die spesifieke deel van die liggaam wat daardeur aangetas is. Enigiemand kan ringwurm ontwikkel, maar dit kom meestal voor waar daar ’n plaaslike steuring is wat die liggaam se verdedigingsmeganismes ontwrig, soos ’n skraap in die vel, wat die swamspore toelaat om hul aanval te loods. Ringwurm word gewoonlik gekenmerk deur rooierige vlekke met verhewe rande wat uitkring in gepigmenteerde ringe, terwyl afskilfering en genesing in die middel plaasvind. Die vlekke kan erg jeuk. By tinea capitis (kopomloop) kan die hare binne-in die vlekke verlore gaan, wat ronde kaal kolle tot gevolg het. Dit is gewoonlik moontlik om ringwurm aan sy voorkoms uit te ken. Die diagnose word bevestig deur skraapsels van die vel in die laboratorium te ontleed en na die swamme te soek. Die aandoening word gewoonlik met swamwerende middels behandel, maar die behandeling kan oor etlike weke strek, omdat die swamme diep in die velweefsels kan skuil. Onder die soorte ringwurm of tinae is: 1. Tinea capitis (kopomloop), wat die
lewe van veral kinders tot op dertien jaar versuur; seuns is meer
vatbaar daarvoor as meisies. Een probleem is dat dit maklik in skole kan
versprei. Ons het boontoe verwys na die haarverlies en bles kolle
wat deur kopomloop veroorsaak kan word. 3. Tinea cruris (liesomloop), wat die vel boaan die binnekant van die dye en die liste aantas en deur ’n jeukerige, rooi, skilferende of blasierige uitslag gekenmerk word. Dit bly steeds ’n ope vraag hoekom dit veral mans in die somermaande tref, maar selde by vroue voorkom. Ander aandoenings, wat ander soorte behandelings vereis maar foutiewelik vir liesomloop aangesien kan word, is onder meer psoriase en intertrigo. 4. Tinea barbae of baarduitslag, ’n soort ringwurm aan die baardgedeelte van die gesig en nek. In die ou dae het Engelssprekendes wat nog gereeld die barbier besoek het vir hul daaglikse skeer, dit “barber’s itch” genoem. Baarduitslag word gekenmerk deur swelsel en korsvorming, en dit gaan dikwels gepaard met ’n gejeuk. 5. Tinea faciei, wat, daarteenoor, ’n soort ringwurm aan die gesig buiten aan die baardgedeelte is. Die ringwurm aan die gesig is egter selde ringvormig. Rooi, geskilferde vlekke met onduidelike rande is kenmerkend. 6. Tinea manus, ’n soort ringwurm aan hande, wat dikwels met altleetvoet (Tinea pedis) saamgaan. Dit kom veral aan die handpalms en vingers voor, en verdikking van hierdie gebiede—dikwels slegs aan die een hand—is tipies. 7. Tinea pedis (atleetvoet of
voetskimmel). Klik op
hierdie skakel
vir ’n taamlike
uitvoerige Mieliestronk-artikel oor hierdie kwaal.
Foto: PHIL / U.S. Centers
for Disease Control and Prevention |
||||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |
||||||