7. Spogreeks
Phylum: Arthropoda
Klas: Insecta

Insek-kaleidoskoop
Hoofstuk 7:
Die “skynheilige” hottentotsgot

Klik hieronder op die skakel na die hoofstuk van jou keuse:

  •   Hoofstuk 1: Bou en ontwikkeling van insekte
•   Hoofstuk 2: Taktieke vir oorlewing
•   Hoofstuk 3: Hoe roofinsekte hul prooi vang
•   Hoofstuk 4: Hoe insekte bou
•   Hoofstuk 5: Onder skandeer-elektronmikroskoop

 

•   Hoofstuk 6: Sprinkane
•   Hoofstuk 7: Hottentotsgot
•   Hoofstuk 8: Naaldekokers en waterjuffers
•   Hoofstuk 9: Insekgroepe
•   Hoofstuk 10:    Wonder van insekte se vlerke

Hottentotsgot

Skynheilige
bedrieër!

  

BO: ’n Erbarmlike klein onskuld met biddende of smekende handjies? Moenie glo nie. Hy’s ’n huigelagtige derduiweltjie!

 

Foto: Shiva shankar,

wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web gepubliseer het en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution-Share Alike 2.0 Generic-lisensie

 
    
 

Hy staan ook bekend as die bidsprinkaan of die goejop, wat aan ’n Khoi-naam vir hom ontleen is. Maar ’n mens is nie ver van die kol af as jy die hottentotsgot prontweg ’n “skynheilige bedrieër” noem nie. Want sy voorpootjies is mos roofpote en nie die onskuldige en smekende handjies wat hulle voorgee om te wees nie...


TJOEPSTIL hurk hy tussen die takkies en gras, sy bolronde oë stip op ’n sprinkaan gevestig, sy driehoekige gevreet alte koddig na die een kant toe gedraai. Sy lyf wieg saggies heen en weer soos ’n blaar wat deur die wind geroer word.
 
Dan krink hy hom net so effens vorentoe. Steeds volg hy die bewegings van sy toekomstige maaltyd met sy oë, terwyl hy sy voorpote heeltyd in die rigting van die sprinkaan hou.
 
Sodra die prooi binne trefafstand kom, lig die hottentotsgot sy stekelige voorpote stadig op. Dan—blitsig—skiet hy hulle uit. Arme, weerlose slagoffer. Dié sit verlore in sy knelgreep.
 
Die hottentotsgot word só genoem omdat hy vroeër deur die Khoi (histories Hottentotte genoem) vereer is en vanweë sy “biddende houding”.  Hy staan ook bekend as die bidsprinkaan of die goejop, wat aan ’n Khoi-naam vir hom ontleen is. Maar ’n mens is nie ver van die kol af as jy hierdie insekte prontweg “skynheilige bedrieers” noem nie. Want hul voorpootjies is mos roofpote en nie die onskuldige en smekende handjies wat hulle voorgee om te wees nie.
 
Hulle is ook omtrent altyd honger, maar dan weer selde aktief. Meestal wag hulle maar net lankmoedig tussen die plante op hul kos, met die kop en voorlyf omhoog en die voorpote opgelig en gevou. Die meeste wat hulle ooit sal doen, is om hul prooi stadig en tersluiks te bekruip soos wat ’n kat met ’n muis doen.
 
As hulle egter bedreig word, gaan staan hulle stil en lig die kop en voorpote op terwyl die ratelende vlerke uitgewaaier word. Dan probeer hulle wegkom en kruip kronkelend deur die plante.
 
Geen wonder dat daar allerhande bygelowe omtrent die hottentotsgot bestaan nie.
 
Die Engelse woord (asook ’n ander Afrikaanse woord) vir hom is mantis, uit die Grieks vir ’n waarsêer of ’n profeet. Maar buiten wat sy voorkoms aanbetref, kan hierdie goggabie, soos ons gesien het, nie juis op vroomheid roem nie.



 Wolf in skaapsklere

AS roofinsekte is die hottentotsgotte uitmuntend toegerus om hul prooi dood te maak. Hul eerste “aanvalslinie” is kamoeflering—en vanweë hul kleur en vorm is hulle dan ook uitstekend vermom.
 
Die kleure van die meeste van hulle is wisselende skakerings van groen of bruin, sodat hulle met die agtergrond van blare en takke kan saamsmelt waar hulle op hul prooi wag. Dan voer hulle boonop hierdie misleiding ’n entjie verder deur met hul lywe te wieg, kompleet nes ’n plant in die wind.
 
Hoewel hottentotsgotte meestal soos hul omgewing gekleur is, het ’n paar soorte helder kleure of is selfs soos blomme gevorm. Pleks dat dit hulle onopsigtelik maak, is hulle dan juis baie sigbaar. Maar hulle kruip tussen blomme weg waar hulle presies dieselfde kleure as die blomblare het.
 
Die voordeel hiervan is dat die nektarsoekers onder die insekte na hulle toe aangelok word—maar pleks van nektar hul dood in die hottentotsgotte se kloue vind.
 
Die Maleisiese orgidee-hottentotsgot is een van die skouspelagtigste voorbeelde van hierdie soort bedrog. Sy vorm en kleur is kompleet dié van ’n orgidee.

 

 

BO: ’n Maleisiese orgidee-hottentotsgot.

Foto: Luc Viatour van Brussel, België,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gepubliseer en onder meer gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie


Die Maleisiese orgidee-hottentotsgot neem in die middel van ’n bos blomme stelling in en wag dat insekte soos vlinders kom kuier. In volmaakte nabootsing van ’n blom, lig hy sy agterlyf op en buig dit vorentoe. Selfs kenners kry dit moeilik om, soos een natuurnavorser dit stel, “presies te sê waar die diereweefsel begin en die blom eindig”.
 
Met hierdie nabootsing kruip die insek dus nie weg nie, maar is hy juis sigbaar om na iets te lyk wat lekker is.
 
Party hottentotsgot-soorte verander hul kleurpatrone namate hulle van nimf tot volwassene ontwikkel om selfs nog meer soos botsels en blomme te lyk.
 
Dan kan party soorte selfs die kleure van hul kutikel verander namate die lig toe- of afneem. Hierdie hottentotsgotte is bedags lig van kleur en word donkerder namate dit begin aand word.
 
Die meeste blom-hottentotsgotte kom in die trope voor.

 


 
Kordate vrate

DAAR kan kwalik ’n groter vraat in die insektewêreld as die hottentotsgot wees. Dit lyk of hy nooit genoeg kry nie en hy sal omtrent enige insek bydam wat na sy kant toe kom. Sprinkane, skoenlappers, vlieë en motte is sy stapelvoedsel.
 
Die hottentotsgot het vlymskerp monddele wat diep in die slagoffer inbyt om sy worstelinge te demp. Die eerste byt dring dikwels deur die bors waar die voedsame vliegspiere geleë is. Maar die hottentotsgot is nie kieskeurig oor waar hy moet begin nie en alles hang af van hoe hy die slagoffer vashou.
 
Groot stukke vleis word uit die prooi gekerf en goed fyngekou sodat dit deur die dun nekkie kan gaan. Alles buiten die vlerke en pote word verorber.

 

LINKS: ’n Hottentotsgot vreet ’n wesp... en is blykbaar reeds naby aan die einde van sy maal. Dit lyk of die wesp se angel heel onder by die hottentotsgot se voorpote by die ander oorskiet lê.

 

Foto: Terrill Karas / FNAL /  U.S. Department of Energy

 


 
Daar is al waargeneem hoe hottentotsgotte hul prooi verslind, net om dit summier te los en ’n ander slagoffer te gryp wanneer dié binne bereik kom.
 
Party vernuftige hottentotsgotte geniet twee maaltye vir die prys van een. Een natuurkundige het beskryf hoe hy een dopgehou het wat in die nes van ’n wesp stelling ingeneem het. Daar het hy gewag dat die wesp terugkeer met ’n ruspe vir haar larwe—en toe vreet hy wesp én ruspe op.
 
Die hottentotsgot se agterlyf swel sigbaar op as hy baie vreet, maar hy weet darem om op te hou as die maaltyd buitengewoon groot is.

 



Hottentotsgotte by die honderde

DIE wêreld se sowat 1700 soorte hottentotsgotte het almal sekere dinge gemeen: ’n langwerpige lyf, lang bors, lang speekpote, voorpote met stekels en ’n vry draaiende kop.
 
Die tipiese hottentotsgot wat ons in ons tuine sien, is groen en spigtig en sy blaaragtige vlerke sorg vir ’n uitstekende vermomming.
 
Maar feitlik elke wêrelddeel het sy eie soorte hottentotsgotte en hulle verskil baie wat hul vorms, kleurskakeringe en patrone aanbetref. Vorms wissel van plat tot lank, dun en staafagtig. Die kleure kan dof of metaalagtig wees. Die treffendste sowel as die grootste soorte kom in die trope voor.

 

BO: Hottentotsgotte “verdwyn” dikwels in hul omgewing omdat hulle so baie soos die omringende plantegroei of ander dinge in hul eie wêreldjie lyk.

 

Foto: Gary M. Stolz,
U.S. Fish and Wildlife Service


 
’n Oog vir kos

EEN eienskap wat die hottentotsgot ’n formidabele roofinsek maak, is sy uitstaande samegestelde oë wat wyd uitmekaar lê. In die middel van die oë is ’n groep kleiner maar hoër ontwikkelde ommatidia—die eenhede waaruit die samegestelde oë bestaan—en dié help die insek om die ligging en vorm van die prooi uiters akkuraat te bepaal.
 
Dis dié dat hottentotsgotte hul koppe so dikwels ronddraai, want hulle probeer om alles wat roer met hierdie deel van hul oë te fikseer.
 
Die oë is boonop aan ’n vry draaiende kop, sodat die hottentotsgot selfs oor sy skouer kan kyk om sy prooi se bewegings te volg.

 

Die hottentotsgot het ’n lang, beweeglike nek met ’n hoogs buigsame gewrig tussen dié en die kop. Gevolglik kan die kop omtrent in enige rigting draai.

 

 

BO: ’n Foto wat onder meer die oë en kragtige voorpoot-klou van een van die baie hottentotsgotsoorte duidelik toon (Mantis religiosa, van Europa ). REGS is ’n vergroting van die klou.

Foto: Stavros Markopoulos,

wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web gepubliseer en gelisensieer het ingevolge die Attribution-Non-Commercial-No Derivative Works 2.0 Generic-lisensie

 

 

 


Pote met penne

 

NOG ’n eienskap wat die hottentotsgotte vir hul lewe as rowers toerus, is die kragtige paar voorpote wat besonder doeltreffend gevorm is om hul prooi te kan vasgryp.
 
Die dy of middelste segment van die voorpote het ’n dubbele ry vlymskerp stekels onderaan. Die tibia (die skeen of volgende segment) het twee rye ietwat kleiner stekels aan die binnevlak en eindig in ’n kragtige klou.
 
As die pote uitskiet, word die slagoffer dikwels deur die tibiale kloue deurboor. Die hottentotsgot vou dan die pote agtertoe en die arme prooi word tussen die stekels vasgepen.
 
Hierdie voorpote is so sterk dat gevalle al aangeteken is waar hottentotsgotte selfs klein gewerwelde diertjies soos voëltjies, akkedissies en selfs slangetjies gevang het. Die voorpote word nooit gebruik om mee te loop nie, hoewel hulle wel gebruik kan word om mee te klim.
 
Om die stekels aan die voorpote in stand te hou, is vir die hottentotsgot net so belangrik as wat dit vir mense is om hul tande te borsel. Nadat hy gevreet het, werk die hottentotsgot met sy kake op en af met die voorpote langs terwyl hy stukkies vleis daaruit pluis. Dis belangrik. Verstopte stekels sou die prooi nie so lekker kon vang nie.

 


 
Bruid vreet bruidegom

HOTTENTOTSGOTTE vreet nie net feitlik alle ander goggas nie, maar gereeld ook ander hottentotsgotte. Dit gebeur die meeste gedurende paring. Die wyfie, met die mannetjie op haar rug, kan haar kop effens draai en haar voorpoot om die mannetjie se nek plaas. Dan byt sy koeltjies sy kop af.
 
By sekere soorte is hierdie merkwaardige kannibalisme glo noodsaaklik vir paring, omdat die mannetjie slegs kan paar nadat sy kop en nek af is. ’n Koplose hottentotsgot kan die paringsdaad voortsit omdat die senusentrums wat met die oordra van sperma te doen het, in die agterlyf geleë is en onafhanklik van die brein funksioneer.
 
Die stomme mannetjie sal nooit weet dat sy liggaam sy spruite help voed wat binne-in die wyfie aan die vorm is nie. Een bioloog het gesê dat dit ’n bra wrede manier is om die bruidegom vir die bruilofsfees te laat betaal.

Eiers in ’n pakkie

LINKS: ’n Hottentotgot-wyfie lê haar eiers in ’n eierpakkie, wat op ’n betreklik beskermde plek vasgeplak is. Sulke eierpakkies bestaan óf uit ’n soort skuim óf ’n wit of silwer gomagtige stof, wat die wyfie uit haar agterlyf afskei. Sowat veertig tot sestig eiers word daarna in die pakkie gelê, wat verhard om die eiers teen vyande te beskerm. Daar is drie stadiums van metamorfose in die ontwikkeling van die hottentotsgot, te wete die eier-, nimf- en volwasse stadium.

Foto deur “Jasari”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)
 


 <   Terug na hoofstuk 6        Voort na hoofstuk 8    >

•   Gaan na die begin van hierdie hoofstuk vir die skakels na al die hoofstukke in hierdie reeks

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-werf